2010-03-30

Aanbevole kandidate wen - donateurs en konvokasie het gepraat!

US-raadsverkiesing: Uitslae bekend!

Die Konvokasie het die volgende raadslede aangewys: Adv JC (Jan) Heunis, Dr R (Rhoda) Kadalie, prof WAM (Wannie) Carstens en dr GC (George) du Toit.

Die donateurs het vir prof PW van der Walt en mnr GM (George) Steyn op die Raad aangewys.

Daar het 5661 konvokasielede gestem en 612 lede van die kieskollege van donateurs. Van die stemme wat uitgebring is, was tov die Konvokasie 644 per e-pos, 2774 dmv die Web en 2243 per faks en per hand en tov die donateurs 90 per e-pos, 208 dmv die Web en 314 per faks en per hand.

2010-03-29

Nog versekerings, iemand?

Net meer as 'n dekade gelede het Hermann Giliomee in Die Burger geskryf dat dit glad nie seker is dat, ten spyte van die versekerings, Afrikaans aan die Histories Afrikaanse Universiteite (HAU's) 'n betekenisvolle plek sal behou nie.

Hier is 'n juweel oor die destydse, nou Engelse, Randse Afrikaanse Universteit se nuwe taalplan (nou Universiteit van Johannesburg):

Die top-bestuur van RAU is vol vertroue dat Afrikaans hom binne
hierdie konteks op kort tot mediumtermyn sal kan handhaaf.

Nouja, een dekade later is daar van die ses HAU's waarna Giliomee verwys nog net vier oor. As jy vandag vir die universiteite van Johannesburg en Port Elizabeth vra of hulle nog Afrikaans aanbied sal hulle jou seker steeds daarvan verseker, maar die realiteit is dat hulle vir alle praktiese doeleindes Engelsmedium geword het. Oor al vier die oorblywendes hang daar vraagtekens.

Nog versekerings, iemand? Lees die volledige artikel hier.

[van tyd tot tyd sal daar interessante ou artikels en nuusitems vir Afrikaans @ Maties opgediep word]

2010-03-26

In Afrikaans gestudeer - wêreldoor in verskillende tale aktief

'n Beduidende aantal besoekers aan Afrikaans @ Maties bevind hulself in die buiteland. Die grootste proporsie van die besoekers op die kaart hiernaas was in die laaste week hier.

Met die aanname dat die meeste mense wat hierdie blog besoek oud-Maties is, en 'n mens tot onlangs nog met redelike sekerheid kon sê dat diegene wat op Stellenbosch studeer het het dit d.m.v. Afrikaans gedoen, beteken dit 'n beduidende getal Afrikaans-opgeleides handhaaf hulself in 'n Engelstalige/anderstalige wêreld.

Diegene wat Afrikaans en uitnemendheid teen mekaar afspeel kan gerus hierop let. Dit is getuienis wat die gewig op die skaal teen hulle laat tel.

2010-03-25

Verkiesing geëindig, uitslae word bereken

MatiesAlumni.net:"Die verkiesing van Raadslede deur die Konvokasie en donateurs is afgehandel en die uitslae sal so spoedig moontlik bekend gemaak word."

2010-03-23

87% (7913) stem, by Beeld, vir Afrikaans op Stellenbosch

Miskien kan Die Burger dit ook vra? Hier is Beeld se opnames.

Alhoewel die uitslag positief vir Afrikaans by Maties is, is dit steeds jammer dat die vraag so gestel word dat mense moet kies tussen uitnemendheid en Afrikaans.

Pieter Malan van Rapport Weekliks het oor so 'n onderskeid geskryf dat dit meewerk aan 'n oorvereenvoudigde wêreld wat so lyk: "In hierdie eenvoudige swart/wit wêreld is daar geen plek vir ’n argument dat universiteite wel tale kan bevorder (in plaas van “red”) of dat ’n universiteit uitnemend kan wees én in Afrikaans (of Gujarati of Japannees of Spaans) kan onderrig gee nie."

2010-03-21

Redes om te stem voor Donderdag, 12:00 die middag

Met een of meer US-grade, mag oud-Maties stem vir 4 uit die 31 posisies op die US-raad - dit is die mense wat, o.a., die US-taalbeleid bepaal. Die stembus sluit om 12:00 op Donderdag, 25 Maart 2010.

US-raadslede moet oor veel meer as net taal besluit, maar waar die nuwe kandidate ten opsigte van onderrigtaal staan is baie belangrik. Sedert 2005 woed daar 'n onverkwiklike debat oor die Universiteit van Stellenbosch se T-opsie - die praktyk waar Afrikaans en Engels blykbaar 50/50 afgewissel word. Oud-Maties kan hulself afvra hoe die US se taaldebat en die US se taalpraktyk mekaar beïnvloed. Die T-opsie sou, toe die US-taalbeleid in 2003 geïmplementeer is, 'n uitsondering wees. In 2010 word dit egter in 53% van die modules gebruik. Is die T-opsie 'n goeie onderrigmetode in Afrikaans en Engels? Of lei dit nie maar onvermydelik tot oorskakeling na 'n Engelstalige universiteit en 'n institusionele geloofwaardigheidskrisis nie? Hier is een van die voorste kenners op die gebied, prof Vic Webb, se mening op video. Prof Jonathan Jansen van Kovsies is blykbaar ook teen 'n 50/50-beleid. Mnr Nico de Wet, 'n student en vorige voorsitter van Adam Tas Studentevereniging sit sake hier uitstekend uiteen.

Sommige van die kandidate (6 van hulle word deur die blog aanbeveel) is klaarblyklik ten gunste van 'n voorgraads primêr Afrikaanse universiteit met hulpmiddels soos taalklasse, tolking en parallelmedium en is hoofsaaklik gekant teen die T-opsie. Dit is ook al genoem 'n volwaardige Afrikaanse aanbod.

2010-03-20

Stellenbosse filosoof verwar ook Breyten

Breyten Breytenbach, 17 Maart 2010*: "Ek weet nie in watter taal ek hier op Stellenbosch moet praat nie. Hier is mos filosowe wat sê daar is dinge wat jy nie in Afrikaans kan sê nie. Afrikaans is mos net vir minderwaardige gedagtes bruikbaar.

Julle filosoof sê taal is mos net ’n middel om kennis oor te dra. Die man weet waaragtig niks van taal nie. Hy weet nie dat taal die uitdrukking is van verbeelding, skepping, individualiteit, die andersheid van die self nie en dat jy dit net kan uitdruk in die taal wat jou eie is.

*Twee uitsprake van Breyten Breytenbach by geleentheid van die bekendstelling van sy boek Notes from the middle world op Woensdag 17 Maart 2010 by Protea boekwinkel, Stellenbosch.

2010-03-19

Die onderstebo-benadering van iemand wat in die laaste agt jaar nie getwyfel het nie

Wat ek altyd sal onthou is André-Pierre du Plessis (voormalige Die Matie-redakteur) se derde punt van sy laaste Die Matie-hoofartikel: "Maak staat op die raad van die man wat twyfel of dit reg is. Die man wat nie twyfel nie, het die saak maar van een kant af bekyk." (Ek het later gehoor Langenhoven het ook al iets soortgelyks gesê.)

Nooit enige twyfel...
"Ek het nog nooit enige twyfel gehad dat wat die raad tussen 2002 en nou oor Afrikaans besluit het, in die belang van die US was nie." - dr Edwin Hertzog, voormalige US-raadsvoorsitter in Die Burger. Lesers kan sy stellings gerus self beoordeel aan die hand daarvan of sy artikel vanselfsprekende waarhede bevat of stellings wat, minstens op een of ander stadium, twyfel geregverdig het.

Onderstebo-benadering...
Dr Hertzog maak die argument uit dat 'n taalbeleid wat in praktyk deur dosente bepaal word 'n van-onder-na-bo-benadering is en dus geldig. Dit klink vir my analogies tot 'n bewering dat as staatsamptenare besluit die staat moet slegs in Engels funksioneer (of slegs halfdag werk, om 'n ekstreme voorbeeld te gebruik) en die parlement keur dit goed dan is dit 'n van-onder-na-bo-benadering en dus geldig. Hy verwys onder andere na die US-taalkomitee wat "of verkies of saamgestel is uit verskillende afdelings van die hele universiteitsgemeenskap." Dit is belangrik om te noem dat, vir die grootste deel van die taalkomitee se bestaan, 14 uit daardie 15 betaalde amptenare was en 1 'n student. Daarmee nie om te sê dat die lede van die taalkomitee nie geldige besluite kon neem nie, maar om in 'n gees van openbaarmaking aan lesers 'n billike aanduiding te gee van die kollegiale en ander druk waaronder taalkomiteelede verkeer het. Is dit, om die US-taalkomitee as voldoende verteenwoordigend van die universiteitsgemeenskap te sien, nie maar om die universiteitsgemeenskap as 'n 14:1-belangehouding van alleenlik betaalde amptenare en studente te sien nie?

In die staat se geval: dit is nie 'n organisasie met winsbejag nie, daar is nie aandeelhouers nie en die staatsamptenare is eintlik in diens van 'n aantal belangegroepe wat via genomineerdes/verteenwoordigers besluite neem.

In die universiteit se geval: dit is ook nie 'n organisasie met winsbejag nie, daar is nie aandeelhouers nie en die universiteitsdosente maak slegs maar 'n deel van die amptenary uit wat eintlik in diens staan van die belangegroepe (via die nominasieproses om 31 mense na die US-raad nomineer).

Waar, in dr Hertzog se uiteensetting, pas, byvoorbeeld, studente en ouers as kliënte in en waar pas donateurs soos Ons Weldoener in? Waar, for that matter, pas Die Matie in?

Piet le Roux

2010-03-18

Benadeel die Taaldebat of die T-opsie Stellenbosch?

Prof Vic Webb: nadele van T-opsie/dubbelmedium

[Hierdie brief deur 'n blogleser is aan 'n bekende Afrikaanse dagblad gestuur maar nie geplaas nie - Afrikaans @ Maties verwelkom bydraes deur die publiek.]
[20 Maart 2010: Die brief verskyn vandag in Die Burger]

Geagte Redakteur
Om die saak van Afrikaans en goeie onderrig by Stellenbosch op die spits te dryf, is in die beste belang van die US. Wat benadeel die Universiteit van Stellenbosch die meeste: die debat oor onderrigtaal of die US se eie onderrigtaalpraktyk? Die debat oor swak onderrig of die werklike swak onderrig?

In Januarie het prof Vic Webb, seker die voorste sosiolinguïs in die land, by die Vredenheim-beraad oor die Toekoms van Afrikaans op Universiteitsvlak gesê hy dink nie dubbelmedium op universiteitsvlak kan werk nie - nie net omdat dit tot verengelsing lei nie, maar swak onderrig beteken. Kan die US één gerekende persoon, wat met die akademiese statuur van prof Webb vergelyk, uitwys wat onomwonde die teendeel verklaar (US-taalpraktisyns uitgesluit)? Jonathan Jansen sê in Knowledge of the Blood (bl 122): "The 50-50 policy therefore represents little more than a political holding pattern against the mounting criticism of dishonesty in institutional communications..." Lesers kan self oordeel deur "vic webb" op Youtube in te tik.

Van Veraf, Stellenbosch

2010-03-16

Regter verklaar: Regering in versuim oor grondwetlike taalbepalings

"Die nasionale Minister... word gelas om [die bepalings van die grondwet insake veeltaligheid] binne twee jaar vanaf datum van hierdie bevel na te kom..."

Regter BR du Plessis het pas (16 Maart 2010) uitspraak gelewer in die saak van Cerneels Lourens teen die President en andere insake die nakoming van die grondwetlike bepalings oor veeltaligheid. Sien die beeld regs vir die bevel of klik hier vir die volledige uitspraak.

2010-03-12

Waar Stellenbosch vandag staan, daar was Suid-Afrika reeds eergister?

Tim du Plessis, redakteur van Beeld, skryf dat Stellenbosch in die verlede vasgevang is deur te dink hulle moet Afrikaans agterlaat. Hier volg uittreksels:

"Oral [staan Suid-Afrikaners met nuwe energie op vir hul regte] behalwe by die Universiteit van Stellenbosch (US). Daar gebeur die teenoorgestelde - regte word geabdikeer.
Die US se reg om ’n universiteit met ’n Afrikaanse skering en inslag te wees in ’n oorweldigend Afrikaanse gebied word algaande prysgegee. Dit terwyl die Wes-Kaap reeds twee Engelstalige universiteite het.
Die res van Suid-Afrika se burgerlike gemeenskap staan op en oefen hul regte uit. Stellenbosch kyk eerder hoe hulle dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en die land se laaste oorblywende Stalinis, kan paai en ter wille wees.
Die stutte vir Afrikaans as ’n volwaardige akademiese taal word stelselmatig op Stellenbosch uitgekap. Met die ironiese “uitkoms” dat die universiteit nie meer swart word nie, maar meer Engels, bepaald wit Engels."


Hy sluit af: "Vandag probeer hulle ’n valse, ongeldige vraag aan die Matie-gemeenskap voorhou: Kies tussen Afrikaans en akademiese uitnemendheid. Asof die US akademies agterlik was toe dit ’n volwaardig Afrikaanse universiteit was!

Op ’n muur op die US-kampus verskyn dié woorde van D.F. Malan: “Waar Stellenbosch vandag staan, staan Suid-Afrika môre.” Nie meer nie. Deesdae arriveer Stellenbosch eers môre of oormôre."
Lees die volledige berig hier.

2010-03-11

Breyten Breytenbach, die Tos-opsie en Afrikaans as legitiem opeisbaar

"Die sogenaamde T-opsie is ’n klug, dis Skelmbospraat vir "vet om die oë," dis ’n Tos-opsie. Dis, by wyse van spreke, die skaap wat opskuif in die bed om in die naam van gelykberegtiging lêplek te maak vir die olifant. En dan word daar nogal vir julle gesê dis sodat die olifant skaap kan leer praat en waardeer!"

In 2005 het studente binne 8 dae 3500 studente- en personeelhandtekeninge teen die T-opsie se uitbreiding in die Fakulteit Lettere gekry. Dit was afgewys en, soos voorspel, het die US verder gegly op 'n baan wat Afrikaanse onderrig agterlaat. In 2010, slegs vyf jaar later, is die hele fakulteit Gesondheidswetenskappe, Teologie en Regte ook T-opsie. In totaal beslaan die T-opsie nou meer as 50% van alle voorgraadse modules.

Breyten Breytenbach het destyds 'n brief van ondersteuning aan die studente geskryf. Alhoewel dit aanvanklik nie vir publikasie bedoel was nie, het hy uiteindelik wel toestemming gegee dat dit, saam met ander korrespondensie oor die saak, in Die Vrye Afrikaan mag verskyn. Daaruit kom die aanhaling hierbo en ook dié een:

"Dit is ongelukkig eenvoudig so dat mens daardie ekstra myl sal moet stap om Afrikaans se oorlewingsmoontlikhede te beskerm. Dit sal nie 'vanself' gebeur nie. En, ter wille van die groter gemeenskaplike bate, moet dit gebeur selfs al eis geen ander taalgroep soortgelyke oplossings vir hulself op nie." Lees dit, in sy geheel, hier.

2010-03-05

Jonathan Jansen verwerp die T-opsie

Mnr Jacko Maree, uittredende raadslid van die US skryf:

"Onderrig ingevolge die T-opsie het volgens alle kenners en deskundiges waarvan ek weet, geen bestaanreg nie. Hierdie standpunt word deur [Jonathan] Jansen soos volg bevestig:

The policy of the university declares a 50-50 application of English and Afrikaans in the classroom, with both languages enjoying the same rights and exposure in teaching, research, and administration. In practice, this is impossible because of the huge costs of duplication not only of materials but also of academic teachers. It wastes valuable administrative time, especially in an institutional context where it is clear that everybody understands English but fewer and fewer campus dwellers understand Afrikaans. The 50—50 policy therefore represents little more than a political holding pattern against the mounting criticism of dishonesty in institutional communications—the preaching of a dual language policy but increasingly the practice of an English only teaching policy."

2010-03-01

So praat 'n Vryburger

[ongeredigeerde weergawe]

'n Taalvisie uit Adam Tas se oogpunt

Nico de Wet
(Voorsitter 2007)
Adam Tas Inligtingsessie
27 Februarie 2010

Ek het gewonder hoekom Adam Tas vir my as ou voorsitter gevra het om te verduidelik wat hul taalvisie is. Ek neem maar aan dit was ’n taktiese besluit: indien ek iets te rof sou kwytraak, kan hulle maklik hulself daarvan distansieer. En ek dink dit was inderdaad slim van hulle, want ek het hierdie toespraak laat in die aand geskryf, toe ek die minste lus was vir doekies omdraai.
Ek gaan sommer begin deur onmiddellik oor die T-opsie (ook bekend as dubbelmedium) te praat.

Die rede hoekom ons nie van die T-opsie hou nie, is nie omdat prof. Giliomee, prof. Kapp, of een of ander navorsing so sê nie. Ons is nie die Jeugliga van een of ander Taalbul-Beweging nie. Die rede hoekom ons nie van die T-opsie hou nie is baie meer eenvoudig as dit: Ons hou nie van die T-opsie nie want uit eie ervaring het ons gesien dit werk nie.

Nuwe US-raadsverkiesing: Almal het agendas - net sommige kies vir Afrikaanse onderrig

Van 1 Maart tot 25 Maart kan alle oud-maties en donateurs aan die US stem vir altesaam 6 nuwe lede van die US-raad. Die US-raad bepaal, as een van sy oorsigfuksies, onder andere die taalbeleid van die Universiteit van Stellenbosch.

Die US-raad bestaan uit 31 lede, waarvan 6 nuwes dus ongeveer 20% stemkrag verteenwoordig. Dink goed voordat jy stem, sorg dat dit 'n bekwame kandidaat is en weet dat dit 'n bepalende tyd vir die voortbestaan van Afrikaanse onderrig op universiteitsvlak is.

Na aanleiding van 'n e-pos deur Hermann Giliomee, Marié Heese, Jacko Maree en Lina Spies (huidige en oud-US-raadslede), is die meegaande grafika saamgestel. Dié vier beveel aan dat daar by die konvokasie gestem word vir Wannie Carstens, George du Toit, Jan Heunis, Rhoda Kadalie en vir die donateurs, George Steyn.

Hier is hul aanbevelings: http://matieland.blogspot.com/
Kliek op die grafika om jou na die Maties Alumni-blad te neem waar jy kan stem.