2010-03-21

Redes om te stem voor Donderdag, 12:00 die middag

Met een of meer US-grade, mag oud-Maties stem vir 4 uit die 31 posisies op die US-raad - dit is die mense wat, o.a., die US-taalbeleid bepaal. Die stembus sluit om 12:00 op Donderdag, 25 Maart 2010.

US-raadslede moet oor veel meer as net taal besluit, maar waar die nuwe kandidate ten opsigte van onderrigtaal staan is baie belangrik. Sedert 2005 woed daar 'n onverkwiklike debat oor die Universiteit van Stellenbosch se T-opsie - die praktyk waar Afrikaans en Engels blykbaar 50/50 afgewissel word. Oud-Maties kan hulself afvra hoe die US se taaldebat en die US se taalpraktyk mekaar beïnvloed. Die T-opsie sou, toe die US-taalbeleid in 2003 geïmplementeer is, 'n uitsondering wees. In 2010 word dit egter in 53% van die modules gebruik. Is die T-opsie 'n goeie onderrigmetode in Afrikaans en Engels? Of lei dit nie maar onvermydelik tot oorskakeling na 'n Engelstalige universiteit en 'n institusionele geloofwaardigheidskrisis nie? Hier is een van die voorste kenners op die gebied, prof Vic Webb, se mening op video. Prof Jonathan Jansen van Kovsies is blykbaar ook teen 'n 50/50-beleid. Mnr Nico de Wet, 'n student en vorige voorsitter van Adam Tas Studentevereniging sit sake hier uitstekend uiteen.

Sommige van die kandidate (6 van hulle word deur die blog aanbeveel) is klaarblyklik ten gunste van 'n voorgraads primêr Afrikaanse universiteit met hulpmiddels soos taalklasse, tolking en parallelmedium en is hoofsaaklik gekant teen die T-opsie. Dit is ook al genoem 'n volwaardige Afrikaanse aanbod.

Sommige ander kandidate is in verskillende kombinasies klaarblyklik ten gunste van die T-opsie, oënskynlik nie geneë om die US uitdruklik as 'n voorgraads primêr Afrikaanse universiteit te bestempel nie en sommige lê klem op demografiese weerspieëling en uitnemendheid teenoor Afrikaans. Daar is verskillende nuanses aan hierdie breë strekking.

Waarom is taalsienings belangrik? Dit hou ingrypend verband met die toekomstige taalkarakter, bedrywighede en funksie van die universiteit: sal dit 'n uitstekende Afrikaanse universiteit wees waar anderstaligs, soos voorheen, verwelkom word - of sal dit 'n (moontlik middelmatige, vir tweedetaalsprekendes) Engelstalige universiteit wees wat sy nismark verloor deur aan Afrikaanstaliges toenemend minder Afrikaanse onderrig en taalruimte te bied?

Hierdie blog moedig oud-Maties aan om te kies vir kandidate wat uitdruklik 'n volwaardige plek vir Afrikaanse onderrig aan die US wil hê - u kan die saak oorweeg. Afrikaans @ Maties beveel aan dat u vir die mense hier links stem.

Belangrik 1: 'n 'Volwaardige Afrikaanse onderrigaanbod' is waar klasse voorgraads hoofsaaklik Afrikaans is, met sinvolle gebruik van Engels, aanleer van Engelse terminologie, tolkdienste en parallelmedium waar nuttig, taalsteunmeganismes vir nie-Afrikaanse studente en die reg van enige student om vrae te vra en sy werk te lewer in Afrikaans of Engels. Dit beteken afskaling van die T-opsie.

Belangrik 2: 'Hoofsaaklik Afrikaans' beteken nie 'uitsluitlik Afrikaans' nie, maar beteken dat Engels sinvol gebruik word. Dit kan dus nie grootskaalse T-opsie insluit nie, gesien die voorbehoude van prof Webb, prof Jansen en die vorige voorsitter van Adam Tas, mnr Nico de Wet.

'n Volwaardige plek vir Afrikaanse onderrig by Stellenbosch:


Voordele: Die Universiteit

  1. die US kan slegs deur 'n wesenlike komponent Afrikaans 'n eersteklas universiteit wees -die alternatief lyk na 'n verlies van sy nismark wat lei tot 'n tweedetaalsprekende en -doserende tweedeklas Engelse universiteit

  2. Afrikaans gee die US toegang 'n baie sterk nismark en behou lojale oud-studente wat veel meer as net geldelike steun beteken

  3. dit verhoed dat die US met die T-opsie sy geloofwaardigheid en eer verloor - kyk Jonathan Jansen

  4. dit beteken dat die US woord hou en die voorwaardes nakom van "Ons Weldoener" (standbeeld op die Rooiplein) wat in 1918 die 100 000 pond sterling geskenk het om die US as universiteit moontlik te maak, sodat Afrikaans geen mindere plek hoef te hê nie.

Voordele: Studente

  1. dit bied aan Afrikaanse studente die onbetwisbare voordeel van eerstetaal onderrig en met behoorlike steun om uitstekend Engels vaardig te word

  2. dit ontsnap aan die nadele van die T-opsie/dubbelmedium soos deur prof Webb verduidelik

  3. dit bied aan Afrikaanse en nie-Afrikaanse studente 'n keuse om in Afrikaans te studeer ipv slegs Engels(daar is baie Engelse studente wat oor die jare al hiervoor gekies het)

  4. dit bied ware diversiteit: nie-Afrikaanse studente het die geleentheid om by 'n verwelkomende Afrikaanse universiteit met 'n unieke karakter en taalgebruik in te skakel en dit te help vorm.

Voordele: Suid-Afrikaners

  1. dit is in lyn met die waardes van die Suid-Afrikaanse grondwet en spesifiek die bepalings wat ruimte gee vir verskillende tale in hoër-onderwysinstellings

  2. dit bied 'n simboliese anker aan Afrikaanse mense om nie die land permanent te verlaat nie, maar 'n band te behou of hier te bly en 'n verskil te maak

  3. dit dra by tot 'n wêreld van veelvoud eerder as 'n wêreld van eenvoud.

No comments:

Post a Comment