2010-05-21

Van Zyl Slabbert en die onthullingsbrief

Op 22 September 2005 het Frederik van Zyl Slabbert, Hermann Giliomee en Breyten Breytenbach die stille uitbreiding van die T-opsie op Stellenbosch onthul. In die daaropvolgende ses maande is meer as 300 briewe daaroor in Die Burger gepubliseer. Hier volg hulle oorspronklike brief:

Die Fakulteit van Lettere en Wysbegeerte van die Universiteit van Stellenbosch het die verreikende besluit geneem om voortaan in alle kursusse Engels op `n benaderde 50-50 basis saam met Afrikaans in dieselfde klas as voertaal te gebruik. Dit is die sogenaamde tweetalige of T-opsie. Dit word ook dubbelmedium genoem in teenstelling met parallelmedium waar afsonderlike klasse in Afrikaans en Engels as voertaal gebruik word. 
Dit staan in skerp kontras met versekerings wat die laaste jare gegee is. Op 24 September 2002 het die rektore van die vyf Histories Afrikaans universiteite hulle verbind tot die “behoud en uitbouing” van Afrikaans as onderrigtaal. In die taaldebat aan US daardie jaar is allerlei formele en informele beloftes gemaak dat die T-opsie streng beperk sal word. By die US se Konvokasie-vergadering in November 2002, het die US Rektor, prof. Chis Brink gesê: “Ons het nou ‘n nasionale taalbeleidsraamwerk wat ruimte gee vir die strategie om Afrikaans as primêre onderrigmedium te gebruik. Dit beteken dat, tensy andersins gemotiveer en besluit, voorgraadse modules outomaties in Afrikaans gedoseer word.” `n Mens kan byvoeg dat die onlangse Appélhofuitspraak oor die Mikro-saak aan US die grondwetlike basis gee vir Afrikaanse enkelmedium onderrig. 
Prof Brink het in 2002 aan die Konvokasie beloof dat hy nie sal toelaat dat Afrikaans op `n “onwillekeurige glybaan” beland nie. Tans word in die Fakulteit van Lettere en Wysbegeerte die helfte van die kursusse in alle jare en die meerderheid van die kursusse in die derde jaar gedoseer met Afrikaans as die enigste voertaal (die sogenaamde A-opsie). Met die jongste besluit gly Afrikaans na slegs 50 persent van alle kursusse. 
En dit sal nie die einde wees nie. Aan die Universiteit van Pretoria doseer die meeste departement van die Fakulteit van Lettere en Wysbegeerte net in Engels ten spyte daarvan die beleid formeel dubbelmedium is. 
Prof. Niek Grové, registrateur van UP, sê dat daar nou die besef gekom het dat “pragmatisme in taal gevaarlik is.” Die universiteit het pas besluit om weer te besin oor die voertaalbeleid. 
Die kampusse op Bloemfontein en Potchefstroom het doelbewus besluit om die dubbelmedium as opsie te vermy omdat dit gevaarlik vir Afrikaans is. Wanneer sal Stellenbosch soos UP agterkom dat die T-opsie gevaarlik is? En sal dit dan te laat wees?

2010-05-18

Surrealisties, but not nice

“Surrealisties” het ek gedink, en meer en meer so na gelang die voordrag aangehou het. Dit is dan surrealisties in die sin van Sewe Dae by die Silbersteins eerder as die “surreal but nice” van Notting Hill. Daar was ons groupie mense, minder as wat ek gedink het ons sal wees, bymekaar by in die Reform Club in Pall Mall, tussen die tradisionele engelse “jintelmans” clubs, die duur restourante, duur mansklerewinkels, kunswinkels en hoë klas bordele van St James’s (die een waar Fergie se pa betrap was was net oorkant die straat).

En daar staan en praat en praat hulle, of eerder, spreek hulle ons toe. Dis nou die Rektor en Visie Kansellier van Stellenbosch Prof Botman en Prof Lubbe van die Regsfakulteit.