2009-05-21

Dit is die praktyk wat tel

Prof Pieter Kapp, President: US Konvokasie skryf:
Die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid het nie ’n gebrek aan mooi versekeringe en beginselstandpunte nie, maar wel aan ’n duidelike uitvoerbare strategiese plan wat Afrikaans se posisie só sal verskans dat daar op geen manier teen Afrikaans gediskrimineer kan word nie.
Niemand kan fout vind met die Universiteit Stellenbosch (US) se beginselverbintenis tot Afrikaans nie. Daar is ook geen probleem met die US se strewe na uitnemendheid en diversiteit nie. Die vriendelike akkommodering van Engels was nog nooit vir die US ’n struikelblok nie.
Die hart van die probleem is die verdringing van Afrikaans en die bevordering van Engels ten koste van Afrikaans. Die probleem lê nie by die beginsels nie, maar by die praktiese uitvoering daarvan op voetsoolvlak. Dié beginselverbintenis tot Afrikaans moet gerugsteun word deur ’n duidelike beleid en plan wat die posisie van Afrikaans sodanig verskans dat dit nie deur willekeurige besluite verander kan word nie. Die groot gaping tussen wat gesê word en wat op voetsoolvlak ervaar word, is nie ’n unieke US-probleem nie – dit is ’n algemene Suid-Afrikaanse probleem.
Vir die volledige artikel in Die Burger van 27 Mei 2009, klik hier.
Die artikel is 'n repliek op die artikel "Afrikaans sal bly staan" deur die rektor, prof Russel Botman, wat in Die Burger van 22 Mei 2009 verskyn het.

Die Verval Van Afrikaans By Die Universiteit Van Stellenbosch

Deur Jacko Maree

Hierdie memorandum skets die glybaan na verengelsing waarin die US verval het.
Die US is besig om bo alle twyfel hals oor kop te verengels en die feite hierin vermeld staaf dit. Is die verengelsing van die US die bestuur en die Raad se wens? Die US staan by ʼn kruispad en daar moet nou ʼn definitiewe keuse gemaak word wat duidelik uitgespel moet word.
Die toekoms van die US as ʼn Afrikaanse instelling hang af van watter besluite daar oor die volgende paar maande geneem gaan word. Indien die huidige proses van verengelsing van die US nie deur die Raad met doelgerigte Raadsbesluite gestuit en teengewerk gaan word nie, sal die US eersdaags de facto en de jure ʼn Engelse universiteit wees en daarna sal dit stellig vir altyd te laat wees om die proses om te draai.
Om die volledige memorandum af te laai, klik hier.

2009-05-19

Hoës van US kon nie druk weerstaan

Brief: Die Burger 11/05/2009

Die US is besig om radikaal te verontafrikaans met senior US-bestuurslui ten gunste van vetoregte na Engels.
Soos berig (DB, 06.05.09, vir die volle artikel klik hier) wou ’n paar studente my verlede week op ’n studenteberaad verhinder om my in Afrikaans voorbereide toespraak so te lewer. Te min tolk-apparate was beskikbaar en enkele apparaatlose studente het geweier om by die twee tolke in die lokaal te sit. (Die meerderheid van nie-Afrikaanssprekendes wou wel dat ek voortgaan.)
Skokkend was egter die studentedekaan, mnr. Llewellyn MacMaster, se gevolglike weiering dat ek Afrikaans praat, sowel as die US-mediawoordvoerder, mnr. Mohamed Shaikh, se stilswyende goedkeuring van MacMaster se beskouing.
Nadat MacMaster eers nog stamelend my reg tot Afrikaans erken het, kondig hy skielik aan dat ek nie in Afrikaans mag voortgaan nie. En Shaikh, in stede daarvan om MacMaster met die US-taalbeleid reg te help, maak slegs verskoning dat hy kort tevore Afrikaans gepraat het!
Nou wil sommiges nog die sotlikheid verdedig dat die dubbelmedium/T-opsie die toekoms van Afrikaanse onderrig verseker. Nie eens die studentedekaan en mediawoordvoerder kon druk vir Engels van enkele studente weerstaan nie.
Tog word ons aanhoudend verseker dat, as 50% van ’n klas in Afrikaans en 50% in Engels aangebied word, nie-Afrikaanssprekendes dit sal aanvaar en dosente in Afrikaans sal aanhou doseer. Waansinnig!
Die rede vir my voortgang in Afrikaans, ten spyte van MacMaster se weiering, het e­k aan die beswaarmakers verduidelik: Engels­ praat sou druk wegneem van die US-bestuur sonder om die onderliggende probleem aan te pak.
Die eks-rektor, prof. Chris Brink, had die hol versekering dat geen student wat Engels verkies ’n vetoreg oor Afrikaans sal hê nie.
Die nuwe bestel onder prof. Russel Botman laat dit blykbaar ook graag toe. Soortgelyke voorvalle kenmerk Matie-klasse, op Stellenbosch én Tygerberg.
Piet le Roux
Stellenbosch

Taalstryd aan die US: Woorde en betekenis loop uitmekaar

Eikestadnuus 8 Mei 2009:

Hermann Giliomee*
Die taalstryd op US het in 2002 begin toe `n formele Taalbeleid en Taalplan aanvaar is. Toe was ongeveer 70% in die sogenaamde A-opsie (100% Afrikaans) en die meeste van die res in die T-opsie (50-50 Afrikaans/Engels in dieselfde lesing). Die T-opsie was veronderstel om `n uitsondering te wees.

Aan die einde van 2008 was slegs 38% van die modules in die A-opsie en 45% modules in die T-opsie. Hoe op dees aarde kon dit gebeur as die US Taalbeleid voorskryf dat die A-opsie die “outomatiese opsie” is en die eerste in die “hiërargie van opsies” en as die bevordering van Afrikaans een die vyf doelstellings in die US missie is? Nou is die outomatiese opsie in die minderheid en die uitsondering is in die meerderheid.

Die eerste verklaring is dat daar `n groot gebrek in die Taalbeleid is: daar is geen meet instrument wat op jaarlikse basis aangedui het hoe ontstellend vinnig Afrikaans jaar vir jaar besig is om te gly nie.

Die tweede rede is dat woorde oor taal op hierdie dorp alle betekenis verloor het. Daar word uitdruklik bepaal dat daar net van die A-opsie as outomatiese opsie afgewyk kan word indien dit gebruik word om nie-Afrikaanse studente in staat te stel om vaardig genoeg te word om in die tweede jaar in Afrikaans te studeer en om “strategiese redes”.

In 2005 keer `n fakulteit die beleid op sy kop deur as geheel van die A-opsie na T oor te skakel omdat sulke studente nie vaardig word in die eerste jaar nie! “Strategiese redes” binne die konteks van die regeringsbeleid gaan oor die bevordering van rasse-diversiteit . In die praktyk vind oorskakeling na die T-opsie plaas vanweë die groot groei van wit Engelssprekendes wat nie kan of wil Afrikaans leer nie. En sonder rigiede beheermaatreëls, waarteen die dosente natuurlik luidkeels protesteer, gaan die T-opsie gou oor in `n hoofsaaklik Engelse aanbod.

Die fakulteit wat die voortou geneem het om in geheel van Afrikaans-medium na die T-opsie oor te skakel (`n 50% vermindering van die Afrikaanse aanbod) verklaar dat hy dit as “eksperiment” wil doen en vergeet dan skoon van die eksperiment.

‘n Ander fakulteit wat vanjaar besluit het om sy Afrikaanse aanbod met 50% te sny verklaar steeds dat hy Afrikaans as vaktaal in stand wil hou en bevorder! Dit laat mens dink aan Gerhard Komrij wat gesê het. “Afrikaans is eintlik springlewendig maar kort-kort sny hulle `n ledemaat af.”

Ek het in die taalstryd `n les of twee geleer. Dit is dat jy nie die voertaalkwessie net aan `n Raad of `n Senaat (of albei liggame) kan oorlaat nie. Oud-studente en die hele Die Afrikaanse taalgemeenskap sal vinnig van hulle moet laat hoor en daar sal `n gesamentlike beroep op die regering moet wees

Die ander les word geformuleer deur Niek Grove, Registrateur van UP: “Pragmatisme kan groot skade vir `n taal meebring.” By UP, wat ongeveer sewe jaar voor die US in verengelsing is, het die Afrikaans-enkelmedium klasse oor die laaste twintig jaar van 90% tot 24% gedaal.

Die beroemde taalsosioloog Jean Laponce het goed gesê wat sal gebeur as die T-opsie of dubbelmedium dominant word:”Afrikaans sal aan die US oorleef maar net as `n versiering.”

* Hermann Giliomee doen navorsing oor taalsosiologie en skryf in sy private hoedanigheid.

2009-05-18

'N BAIE SPESIALE VERHOUDING


STELLENBOSCH UNIVERSITEIT EN AFRIKAANS

Daar sou nooit ’n Afrikaanse universiteit tot stand gekom het, as mense net met gevoude hande aanvaar het wat met hulle gebeur nie. Teen die eerste dekade van die twintigste eeu was daar geen sprake van enige ander onderrigtaal in hoërskole en gevorderde opleiding in Suid-Afrika as Engels nie. Dit was ’n uitgemaakte saak dat die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop, die enigste universiteit toe in Suider-Afrika, deur sy samestellende kolleges Engels as enigste onderrigmedium sou hê. Dit was die moed en durf van ’n klein groepie mense wat verseker het dat die Victoria Kollege ná 1916 in ’n Hollandse/Afrikaanse universiteit omskep is. Die verskillende taalbewegings, met ’n sterk komponent jongmense in hulle geledere, enkele leiersfigure aan die Victoria Kollege, die studente met hulle taalkonferensie van April 1911 en die Suid-Afrikaans Akademie vir Wetenskap en Kuns (gestig 2 Julie 1909) het die moed aan die dag gelê om vir ’n Afrikaanse universiteit op Stellenbosch in die bresse te tree. Hulle sukses het weerklink met die stigting van vier ander Afrikaanse universiteite in die tydperk 1931 tot 1968: Pretoria, Vrystaat, Potchefstroom en die Randse Afrikaanse Universiteit.

Stellenbosch het nie oornag verafrikaans en van sy eentalig Engelse dosente ontslae geraak nie. Na mate hulle met pensioen afgetree het, is hulle deur Afrikaanstaliges vervang, met ’n aantal dosente uit België, Duitsland en Nederland. Teen 1947 was die US volledig Afrikaans met ’n vriendelike akkommodering van Engels as hulle belangrike medium van toegang tot die internasionale wêreld. Dit is nooit nodig gevind om die posisie van Afrikaans statutêr te verskans nie, omdat almal die reg van die universiteit om Afrikaans te wees erken het. Engelssprekendes het met vrymoedigheid in Afrikaans aan die US gestudeer en is ruim tegemoet gekom deurdat hulle toegelaat is om mondelinge gesprekke in die klas in Engels te voer en hulle skriftelike werk in Engels te doen. Daar was nooit enige taalprobleme nie omdat almal Afrikaans met respek en Engels met waardigheid behandel het. Die een het nie die ander bedreig of probeer neutraliseer nie.

Hierdie goeie verhoudinge is na 2002 diepgaande versteur met pogings om aan Engels ’n No lesser place dan aan Afrikaans toe te ken nie. Onder prof Chris Brink se leiding is voorgestel dat die US hom posisioneer as ’n meertalige universiteit wat Afrikaans bevorder. Hierteen het die Konvokasie onder die presidentskap van prof Pieter Kapp ernstig beswaar aangeteken. Hulle het talle voorleggings gemaak waarin die saak bepleit is dat US ’n Afrikaanse universiteit moet wees wat meertaligheid bevorder. Dié vertoë het in der mate geslaag dat die US in 2002 dit as sy grondslag aanvaar het dat Stellenbosch ’n Afrikaanse universiteit is wat meertaligheid bevorder. Dit is op ’n vergadering van die Konvokasie in 2002, en in talle uitsprake daarna, deur rektor Brink in soveel woorde erken en bepaalde versekeringe is oor die toekoms van Afrikaans gegee. Die Konvokasie het die standpunt onderskryf en die waarborge aanvaar.

Wreed was die ontnugtering toe dit blyk dat hierdie waarborge in die praktyk niks beteken nie. Ten spyte van nog duideliker uitsprake ten gunste van die uitgangspunt dat Stellenbosch ’n Afrikaanse universiteit is wat meertaligheid bevorder deur Konvokasievergaderings van 2005 en 2007 en die uitslae van twee verkiesings vir Raadslede (Konvokasie en donateurs 2006 en 2008) het die universiteit onverpoos voortgegaan op die glybaan van verengelsing waarteen sedert 2002 gereeld gewaarsku is. Die versekeringe van prof Botman dat die 2002 formulering van die grondslag van Stellenbosch se taalbeleid eerbiedig word ten spyt, toon statistieke in 2009 duidelik dat die US vinnig verengels en dat die bestuur en Raad onmagtig is om brieke vir Afrikaans te voorsien.

Die verhouding tussen Stellenbosch en Afrikaans het weer voor ’n beslissende oomblik in sy geskiedenis te staan gekom. In die lig van soveel prestasies en suksesse wat in die 100 jaar wat verby is behaal is, is dit nodig dat die groot aantal oudstudente en ouers van die US wat oor hierdie ontwikkeling ernstig verontrus is, deur hierdie webruimte hulle stemme moet laat hoor. Moenie dat dit weer aan ’n klein groepie oorgelaat word om as die vaandeldraers vir Afrikaans se besondere verhouding met Stellenbosch op te tree nie.

WELKOM, TUIS, MEERTALIG EN DIVERS – GEDAGTES OOR UNIVERSITEITE EN TAAL

DF Malherbe-gedenklesing by die Universiteit van die Vrystaat – 14 Mei 2009
Theuns Eloff
Ekkehard Wolff het gesê: “language is not everything in education, but without language, everything is nothing in education”. Taal is verder ’n hoogs emosionele saak – veral as jou taal nie gepraat word nie of as jy nie die taal waarin jy aangespreek word, kan verstaan nie! Dieselfde is waar by universiteite. Die positiewe geluide oor Afrikaans as wetenskapstaal uit regeringsgeledere beteken nie dat dit orals erken word nie. Daar is ’n populêre (en ongelukkig wydverspreide) persepsie dat Afrikaans een van die dinge van die verlede is wat getransformeer moet word – uit die openbare lewe uit, omdat die nuwe Suid-Afrika Engelstalig is. Ek wil sê dat die grondwet, regeringsbeleid en amptelike uitsprake genoeg ruimte gee om Afrikaans as hoër onderwystaal te behou en uit te bou. Maar as dit geloofwaardig gedoen wil word, moet dit hand aan hand met die bevordering van die hoër funksies van die ander landstale gaan. Dis nie werklike transformasie om eenvoudig die weg van die minste weerstand te volg en na Engels as enigste taal oor te skakel nie... dit vernietig uiteindelike diversiteit en taaldiversiteit, en is diskriminerend. Ons glo dat die voorsiening van Afrikaans as hoër onderwystaal grondwetlik en prakties geregverdig is. Maar deur die voorsiening van simultane tolking in meer as 600 periodes per week op die Potchefstroom- en Vaaldriehoekkampusse, het ons nie die pad van ’n enkelmediuminstelling opgegaan nie (dis net Engels wat hiermee kan wegkom!). Belangriker is dat ons besluit het om taaldiversiteit aktief te bestuur, op ’n funksionele en pragmatiese manier. Sò het ons (te minste so ver) daarin geslaag om taal te depolitiseer.
Vir die volledige referaat, klik hier.

VICTORIA KOLLEGE SE WAAKSAAMHEIDSKOMITEE 1913

Die Waaksaamheidskommissie het op 15 Januarie 1913 besluit om ‘n memorandum aan die minister voor te lê waarin hulle ‘n standpunt ingeneem het in ooreenstemming met die Hoogenhout-mosie van 1911 en die Akademie se breë standpunt oor hoër onderwys in Suid-Afrika. Stellenbosch, het die memorandum verklaar, “is sinds jaren innig verbonden met het geestelik, zedelik en nationaal leven van het Hollandsprekende gedeelte van het volk. Zij is de plaats, waar het Afrikanervolk zijn idealen het best kon verwezenliken en van waaruit het de grootste invloed op Zuid-Afrika kon uitoefenen. Zij is de beste vervulling, die het volk nog gevonden heeft van een diepgevoelde behoefte. Zij staat voor een idee! Zij is daarom voor het volk geworden niet net een blote opvoedingsinrichting onder andere, maar een symbool en de waarborg van zijn eigen krachtig, groeiend, uitdrukking zoekend nationaal leven. Overtuigend bewijs hiervan is het feit, dat niettegenstaande sterke konkurrentie en de betrekkelik geringe steun van regeringswege ontvangen, Stellenbosch meer studenten opleidt voor betrekkingen, die het volksleven innig raken, dan enige ander plaats. Zoolang Groote Schuur aan het Afrikanervolk geen gelijke of betere gelegenheid kan bieden voor de verwerkliking zijner volksidealen dan Stellenbosch, moet de vernietiging van deze als een opvoedingcentrum voor het Afrikaner-volksleven beschouwd worden als schadelik, als een verlies van prestige en daarom als in hoge mate grievend.”*

* Stellenbosch 1866-1966. Honderd Jaar Hoër Onderwys, p. 65. (Nasionale Boekhandel, Kaapstad, 1966).

KONVOKASIE 2005

Maatstawe waaraan US se Taalbeleid moet voldoen.

1. Is die beleid eerlik, konsekwent en deursigtig? Word niemand om die bos gelei met ‘n gaping tussen wat die beleid sê en wat in die praktyk in die klaskamer gebeur nie?
2. Gee dit aan Afrikaans ‘n vaste plek op Stellenbosch wat nie deur die Bestuur of enige dosent willekeurig omseil kan word nie?
3. Verseker dit dat Afrikaans voorgraads en nagraads tot sy volle potensiaal sal ontwikkel?
4. Verseker dit dat daar geen voortslepende taalrusies en konflikte op die kampus sal ontstaan nie?
5. Is daar ‘n glasheldere en duidelik implementeringsstrategie wat nougeset deurgevoer sal word en nie aan willekeurige interpretasies onderhewig is nie?
6. Watter konkrete en spesifieke aksies loods die US om die vyfde doelstelling van sy visie te verwesenlik?
7. Is daar ‘n duidelike en onafhanklike moniteringstelsel om te verseker dat studente wat oordeel dat die letter en gees van die beleid, strategie en gedragskode nie nagekom word nie, hulle saak kan stel op ‘n wyse wat sal verseker dat dit aandag kry sonder dat hulle benadeel word en sonder dat ‘n dosent, departementshoof, dekaan of funksionaris dit onder die mat kan in vee?
Pieter Kapp
President: US Konvokasie