2009-12-11

Toespraak deur die president van die Konvokasie

Alhoewel daar “oomblikke van hoop en optimisme” vir Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch (US) was, sê prof. Pieter Kapp, president van die US-konvokasie, “spyt [dit] my dat ek vanaand aan u moet rapporteer dat ons nie daarin kon slaag om hierdie vaste plek te verseker nie.”

Dit het prof Kapp die jaarlikse US-konvokasievergadering meegedeel op 10 Desember. Die konvokasie bestaan uit alle gegradueerdes en voltydse akademiese personeel van die US. Afrikaans@Maties het 'n opsomming van sy toespraak gemaak.

2009-12-09

Vergelyking tussen die US se taalbeleid en taalpraktyk:

Die US se taalpraktyk:


Die US se taalbeleid
Die US se taalbeleid bepaal dat Afrikaans (die A-opsie) die outomatiese onderrigmedium moet wees en dat die T-opsie (dubbelmedium, Afrikaans en Engels afgewissel) en ander taalaanbiedings slegs na deeglike motivering oorweeg sal word. In die praktyk was die A-opsie in 2009 slegs 38% van die modules gebruik.

Afdeling 4 van die US-taalbeleid:
"1. Die voorgraadse leer- en onderrigtaal van die Universiteit is by verstek Afrikaans."
"2. Engels word in besondere omstandighede as voorgraadse leer- en onderrigtaal gebruik."

En dan word dit in die beleid so verduidelik: "Stellings 1 en 2 beteken dat, tensy anders bepaal word, die A-taalspesifikasie van die Taalplan outomaties vir alle voorgraadse modules geld. In voorgraadse modules word daar slegs na oorweging van deeglike motivering van hierdie verstekposisie afgewyk."

Voorgraadse onderrig by US minstens 60% Afrikaans

Die Burger, 2009-12-09

’n Voorgraadse Afrikaanse onderrigaanbod van minstens 60% aan die Universiteit Stellenbosch (US).
Dié besluit is op ’n onlangse raadsvergadering van die US geneem en geld van volgende jaar af tot 2013.
Die taalkwessie het vanjaar weer eens vir groot omstredenheid aan die US, gesorg, met twee raadslede, dr. Marié Heese en mnr. Jannie Mouton, wat uit die raad bedank het. Heese, ’n skrywer en onderwyskenner, het in September gesê taalbesluite aan die US word strydig met raadsbesluite geneem.
Op ’n spesiale raadsvergadering vroeër vanjaar is besluit dat parallelmedium-onderrig in plaas van dubbelmedium-onderrig (die T-opsie) van aanstaande jaar af in die eerste studiejaar in vier groot US-fakulteite – ekonomiese en bestuurswetenskappe, natuurwetenskappe, agri-wetenskappe en ingenieurswese – sal geld.
Op die onlangse raadsvergadering is ’n gekonsolideerde begroting vir volgende jaar, onderworpe aan die finale bevestiging van die staatstoekenning wat die US in 2010 sal ontvang, ook goedgekeur.
Volgens dié begroting word R42 miljoen vir die finansiering van onderrigtaal en taalontwikkeling in die breë beskikbaar gestel, asook R29 miljoen om die taalonderrig-model wat die US-raad vroeër vanjaar goedgekeur het, te finansier, luidens die US webwerf (blogs.sun.ac.za).
Voorts word daar ook ’n totaal van R13,9 miljoen vir beurse (voorgraads en nagraads) op ’n volhoubare wyse vir die volgende vyf jaar begroot.
’n Algemene salarisaanpassing van 7% met ingang 2010 vir personeel wat voldoen aan die nodige vereistes om in aanmerking te kom vir hierdie aanpassing, word ook voorsien. Dié salarisaanpassings, met inbegrip van die hele begroting, is onderworpe aan finale goedkeuring deur die US-raad.
Studiegeld sal met 8% verhoog word en inwoningsgeld word ook met 8% aangepas (met enkele uitsonderings by die Tygerberg-kampus).
Die volgende raadsvergadering is op 19 April 2010

Lees die berig en kommentaar deur hier te klik.
Onthou waaroor dit in US-stryd werklik gaan.
Dr Leopold Scholtz skryf:
"Die “Giliomiete” moes die laaste maande vreeslik moeite doen om akkurate statistieke oor die feitelike taalsituasie op voetsoolvlak uit ’n onwillige universiteitsowerheid te trek. Dié statistieke dui op ’n onteenseglike versnelling in die opmars van Engels en die agteruitgang van Afrikaans. Trouens, die tempo van die proses het aansienlik toegeneem sedert die vorige rektor, prof. Chris Brink, na groener weivelde in Engeland verkas het. En dit ondanks die vae versekeringe van die universiteitsowerheid dat daar geen verengelsingsagenda is nie.
"Tegelyk het die universiteit, danksy die toevloei van talle wit Engelssprekende studente, witter geword. Wat net weer bewys: Die egte keuse waarvoor die US staan, is tussen Engelser en witter enersyds, en Afrikaanser en veelrassiger andersyds.
"Die koers waarop die universiteit tans loop – hóór nou wat ek sê – gaan binne ’n paar jaar onvermydelik op ’n eentalige Engelse einde uitloop. Wie dit nie insien nie, is naïef verby, want alle akademiese navorsing, internasionaal en plaaslik, dui onteenseglik daarop."
Dr Leopold Scholtz, Die Burger, 19 Junie 2009.
Vir die hele berig, klik hier.