2009-12-09

Voorgraadse onderrig by US minstens 60% Afrikaans

Die Burger, 2009-12-09

’n Voorgraadse Afrikaanse onderrigaanbod van minstens 60% aan die Universiteit Stellenbosch (US).
Dié besluit is op ’n onlangse raadsvergadering van die US geneem en geld van volgende jaar af tot 2013.
Die taalkwessie het vanjaar weer eens vir groot omstredenheid aan die US, gesorg, met twee raadslede, dr. Marié Heese en mnr. Jannie Mouton, wat uit die raad bedank het. Heese, ’n skrywer en onderwyskenner, het in September gesê taalbesluite aan die US word strydig met raadsbesluite geneem.
Op ’n spesiale raadsvergadering vroeër vanjaar is besluit dat parallelmedium-onderrig in plaas van dubbelmedium-onderrig (die T-opsie) van aanstaande jaar af in die eerste studiejaar in vier groot US-fakulteite – ekonomiese en bestuurswetenskappe, natuurwetenskappe, agri-wetenskappe en ingenieurswese – sal geld.
Op die onlangse raadsvergadering is ’n gekonsolideerde begroting vir volgende jaar, onderworpe aan die finale bevestiging van die staatstoekenning wat die US in 2010 sal ontvang, ook goedgekeur.
Volgens dié begroting word R42 miljoen vir die finansiering van onderrigtaal en taalontwikkeling in die breë beskikbaar gestel, asook R29 miljoen om die taalonderrig-model wat die US-raad vroeër vanjaar goedgekeur het, te finansier, luidens die US webwerf (blogs.sun.ac.za).
Voorts word daar ook ’n totaal van R13,9 miljoen vir beurse (voorgraads en nagraads) op ’n volhoubare wyse vir die volgende vyf jaar begroot.
’n Algemene salarisaanpassing van 7% met ingang 2010 vir personeel wat voldoen aan die nodige vereistes om in aanmerking te kom vir hierdie aanpassing, word ook voorsien. Dié salarisaanpassings, met inbegrip van die hele begroting, is onderworpe aan finale goedkeuring deur die US-raad.
Studiegeld sal met 8% verhoog word en inwoningsgeld word ook met 8% aangepas (met enkele uitsonderings by die Tygerberg-kampus).
Die volgende raadsvergadering is op 19 April 2010

Lees die berig en kommentaar deur hier te klik.

1 comment:

  1. Die 60% voorgraadse Afrikaanse aanbod geld vir die US as geheel, nie per fakulteit nie. Dit beteken NIE dat 'n voornemende voorgraadse student kan verwag dat sy kursus 60% in Afrikaans en 40% in Engels aangebied word nie. So bv skaf die Fakulteit Regsgeleerdheid in 2010 sy 100% A-opsie aanbod in geheel af en skakel dit oor na die T-opsie, wat veronderstel dat 50% van die voorgraadse aanbod in Afrikaans sal wees. Dieselfde geld in die Fakulteit Teologie, waar ter wille van 4 Engelssprekende studente uit 'n totaal van 127 alle voorgraadse modules in die T-opsie aangebied word. In die Fakulteit Gesondheidswetenskappe is dit veronderstel om 50% Afrikaanse aanbod te wees, maar in die praktyk is dit nader aan 30%.
    Die R29 miljoen wat dit kos is nie vir die bevordering van meertaligheid nie, maar is die addisionele koste wat dit verg om Engels aan te bied. Dit kan nie van Afrikaanssprekende ouers verwag word om daarvoor op te dok nie; laat diegene wat so aandring op Engelse onderrig, dit betaal.
    Die 60% peil geld verder slegs vir 2010-2013 en wat daarna gebeur is enigiemand se raaiskoot.
    Dit alles is strydig met die Konvokasie van die US se versoek dat 'n voorgraadse Afrikaanse aanbod van ten minste 75% gewaarborg sal word. Maar die US Raad en topbestuur is skynbaar nie bereid om so 'n kontrak met die ouers en studente van die toekoms aan te gaan nie.

    ReplyDelete