2009-12-11

Toespraak deur die president van die Konvokasie

Alhoewel daar “oomblikke van hoop en optimisme” vir Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch (US) was, sê prof. Pieter Kapp, president van die US-konvokasie, “spyt [dit] my dat ek vanaand aan u moet rapporteer dat ons nie daarin kon slaag om hierdie vaste plek te verseker nie.”

Dit het prof Kapp die jaarlikse US-konvokasievergadering meegedeel op 10 Desember. Die konvokasie bestaan uit alle gegradueerdes en voltydse akademiese personeel van die US. Afrikaans@Maties het 'n opsomming van sy toespraak gemaak.
In die toespraak lewer hy verslag oor die Konvokasie-bestuur se uitvoering van die opdrag deur die US-konvokasie wat betref onderrigtaal aan die US. In 2002, 2005 en 2007 het die konvokasie hom duidelik uitgespreek dat die US ‘n Afrikaanse universiteit moet bly wat meertaligheid bevorder, in stede van ‘n meertalige (lees: Engelse) universiteit wat Afrikaans bevorder. Volgens prof. Kapp: “Dit is die praktyk wat tel, nie die mooi woorde oor die goeie bedoelinge wat nagestreef sal word nie.”

Die konvokasiebestuur het deurgaans drie standpunte oor die taal van onderrig ingeneem: Die T-opsie (Afrikaans en Engels gemeng in dieselfde klas) is ‘n onverstandige onderrigmedium; daar behoort ‘n 75% gewaarborgde Afrikaanse onderrigaanbod te wees; en strategiese venootskappe is nodig om uitvoering te gee aan die US se visiestelling wat insluit dat Afrikaans as onderrig en wetenskapstaal uitgebou moet word.

Hy beskryf die onlangse 60%-minimumwaarborg van Afrikaanse voorgraadse onderrig as “misleidend”: “Dit is in die eerste plek net ’n ‘waarborg’ vir vier jaar. [...] Tweedens, geld hierdie 60% vereiste nie per fakulteit nie. Dit sou dus moontlik wees vir ’n klein fakulteit om ’n nul aanbod in Afrikaans aan te bied waarvoor ’n groot fakulteit met ’n 100% parallelmedium aanbod ‘vergoed’. [...] Derdens moet in aanmerking geneem word dat minder as 20% van nagraadse onderrig en navorsing - daar waar die werklike ontwikkeling van ’n wetenskapstaal plaasvind - in Afrikaans geskied. ...Afrikaans aan die US is dus waarskynlik nader aan 40%. Stellenbosch het dus gekies vir ’n minimale posisie vir Afrikaans en ’n maksimale posisie vir Engels.”

Prof. Kapp sê hy het “sonder sukses op die hoogste vlak op twee vrae antwoorde probeer vind.” Sy eerste vraag is: “Waarom het die US die aanbod van so ’n gerespekteerde organisasie soos die Suid-Afrikaans Onderwysersunie om ’n vennootskapsooreenkoms met die US te sluit... so onvriendelik van die hand gewys. [...] My tweede vraag was: wat is meertalige onderwys? Beteken dit almal moet ewe meertalig wees... [...] Of beteken meertaligheid dat net die Afrikaanstaliges moet tweetalig wees?”

Die nie-beantwoording van sy vrae “is simptomaties van ander negatiewe ontwikkelinge vanjaar wat my tot onrustigheid stem. Vir die eerste keer in die geskiedenis van die Universiteit Stellenbosch het twee vooraanstaande verkose Raadslede bedank omdat hulle nie met die rigting waarin die taalbeleid beweeg, kon saamgaan nie. ’n Georkestreerde poging is aangewend om ’n lid van die Taalkomitee wat bekend is vir sy pro-Afrikaanse standpunte onder sensuur te plaas.”

Prof. Kapp stel ook die konvokasie in kennis van ‘n voorstel wat tans dien dat die aantal persone wat die konvokasie na die US-raad mag nomineer “van 6 na 4 verminder moet word oënskynlik om plek te maak vir die benoeming deur die Raad self van spesialiste uit die regsberoep, die sakewêreld en die diverse Suid-Afrikaanse gemeenskap. Ek persoonlik glo nie dat dit die werklike motief vir die voorstel is nie. [...] My volledige memorandum oor hierdie saak is te lees op die Konvokasie se webblad. Dit is interessant om daarop te let dat [Wet 13] van 1916 duidelik bepaal dat die Konvokasie een keer per jaar moet vergader en dat hy enige saak rakende die universiteit mag bespreek wat hy van belang ag. Word hierdie wysiging dalk voorgestel omdat die Konvokasie hierdie verantwoordelikheid van hom nagekom het?”

Hy betreur die gevolge van die US se verskraling van Afrikaanse onderrig: “Laat ons die negatiewe langtermyn gevolge van die US se goed bedoelde beleid in die oë kyk:

* Die US stuur ’n sein uit dat Afrikaans in die hoër onderwys ’n struikelblok is en as wetenskapstaal sonder nut.
*Dit verswak die wil en vermoë van nuwe geslagte om hulle in die taal te bekwaam. Hulle verkies Engels met die versuikerde pil dat ons Afrikaans as ons huistaal sal handhaaf.
*Die beleid berus op ’n logies-onhoudbare argument: dat jy iets (Afrikaans) kan bevorder deur die gebruik daarvan sistematies af te skaal.”

En verder:
“*Die verswakkende wil en vermoë van nuwe geslagte werk deur na die skole en na die totale openbare lewe.
*Afrikaans, soos ook die ander inheemse tale, word privaat huis- en kultuurtale wat in die kunste ’n staanplek kan vind sonder enige verdere bruikbare nut.
*In plaas van die taalsituasie op te los, gaan US van nou af in ’n voortdurende taalstryd gewikkel wees want almal gaan met die persentasies rondspeel soos dit hulle omstandighede pas.”

Prof. Kapp beskryf Afrikaans aan die US as ‘n pragtige eikeboom wat rus en koelte gee, maar wat tans met ‘n kettingsaag onherkenbaar teruggesnoei word: “Jy kan nie meer in sy skadu rus vind nie. Ons weet uit ervaring dat eikebome op Stellenbosch van tyd tot tyd drasties teruggesnoei word om hulle verswakkende stam teen omval te vrywaar. Hy gaan verder: “Gelukkig is Afrikaans se wortels op Stellenbosch nog nie aangetas nie. Daar kan nuwe hoop en groei na baie jare kom as daar die wil en die moed is om dit te doen. Ek hoor baie mooi woorde oor ons vasberadenheid om Afrikaans as onderrig- en wetenskapstaal te bevorder. Ek sien weinig dade.”

Hy sluit af met aanhalings van Breyten Breytenbach, Elsa Joubert en eerwaarde Desmond Tutu. Eerwaarde Tutu het op 26 November ere-lidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang en “Afrikaanssprekendes dringend versoek om nie toe te laat dat hulle of hulle taal gemarginaliseer word nie.”

Klik hier vir die volledige toespraak.

2 comments:

  1. Anonymous25/1/10 17:20

    Niemand, maar niemand kon nog die feite in prof Pieter Kapp se toespraak weerlê nie. Geen wonder nie prof Russel Botman was ontsteld by die aanhoor daarvan - dit is tyd dat die publiek die volle impak van sy wantoepassing van die Taalbeleid en Taalplan besef.

    ReplyDelete
  2. Anonymous25/1/10 17:22

    Niemand, maar niemand kon nog prof Pieter Kapp se feite weerspreek nie. Geen wonder nie prof Russel Botman was so ontsteld by die aanhoor daarvan - die skoen het gepas.

    ReplyDelete