2011-12-09

T-opsie 'waarborg nie 50% Afrikaans'

STELLENBOSCH. – ’n Weerspreking van die Universiteit Stellenbosch (US) se aannames oor die T-opsie van die taalbeleid het blykbaar stil-stil deur die senaat geglip en is ook as standpunt­dokument aanvaar.
Die inhandiger van die dokument is glo ’n lektor wat anoniem wil bly en wat eintlik téén die US as Afrikaanse universiteit gekant is.
Dié standpunt word onder meer soos volg bewoord: “Die T-opsie is nie ’n waarborg vir 50% Afrikaanse aanbod in my klasse nie; die taalstryders is korrek wat dit betref. My Engelssprekende kollegas kan ook nie 50% Afrikaanse lesings aanbied nie, al wil hulle ook.”
Mnr. Piet le Roux, ’n oudstudenteraadslid wat vroeër as lid van die Adam Tas-studentevereniging hom vir die behoud van Afrikaans aan die US beywer het, het gesê: “Hierdie druis natuurlik in teen die verontwaardiging vanuit US-bestuurskant, al die jare en tot vandag toe nog, dat dit hoegenaamd denkbaar sou wees dat die T-opsie nie minstens 50% Afrikaans beteken nie.
“Dit (die standpuntdokument) gee alles gelyk wat (prof. Hermann) Giliomee, (prof. Pieter) Kapp, Adam Tas, Tygerbergers vir die Behoud van Afrikaans en onlangs Jacques du Preez en Ernst Marais wat die konvokasiemosie vroeër in November gestel het, al oor die T-opsie gesê het.”
Le Roux het beklemtoon: “Dit trek maar net nog ’n streep – en dié keer ’n dik, vet rooie – deur al die versekerings dat die T-opsie kan werk, wél reg gemoniteer word, ’n uitsondering sal bly en dat Afrikaans die hoofonderrigtaal sal bly.”
’n Senaatslid wat nie as amptelike bron genoem wil word nie, het bevestig dat die dokument in die senaat aanvaar is.
Daarin erken die universiteit, volgens die bron, dat hy nie die T-opsie reg toepas nie.
...
Lees die volledige berig deur Ilse Krige hier, gepubliseer op 9 Desember 2011 in Die Burger.

2011-08-11

‘Afrikaans verdwyn sonder monitering’

Stellenbosch - Die toekoms van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch (US) lyk somber indien die toepassing van dubbelmedium-onderrig in klasse nie dopgehou word nie.

Só meen mnr. Ernst Marais, ’n doktorale regstudent wat namens ’n groep huidige en oud-Maties ’n mosie ingedien het waarin hulle eis dat die US-bestuur ’n volwaardige plek vir Afrikaans aan die universiteit moet verseker.

Die mosie sal Donderdagaand op die algemene jaarvergadering van die konvokasie van die US bespreek word.

Volgens Marais faal die US om dubbelmedium-onderrig, ook bekend as die T-opsie (’n minimum Afrikaanse aanbod van 50% in die klas), doeltreffend in klasse toe te pas.

’n Ongepubliseerde studie wat deur die F.W. de Klerk-stigting gedoen en deur mnr. Piet le Roux, ’n oud-Matie, saamgestel is, toon dat 36,5% van voorgraadse klasse net in Afrikaans aangebied word.

By nadere ondersoek blyk dit uit die verslag dat slegs studente van die fakulteite ekonomiese en bestuurswetenskappe, ingenieurswese en opvoedkunde ’n meerderheid A-opsie (klas net in Afrikaans) ontvang.

In die ses oorblywende fakulteite is die A-opsie in die minderheid en word die T-opsie tot in 100% van sommige fakulteite gebruik.

“Die toepassing van die T-opsie word nie gemoniteer nie en baie van die klasse is meestal – indien nie uitsluitlik nie – in Engels. Dít word meestal veroorsaak deur studente wat Afrikaans sleg of glad nie magtig is nie en dan ’n ‘vetoreg’ uitoefen en dosente versoek om meer Engels te praat. Engels word dan die dominante taal,” het Marais gesê.

Hy het vervolg dat Afrikaans as hoofonderrigtaal aan die US gaan verdwyn indien dié neiging voortgaan.

“Dit is waarom ons die US-bestuur deur middel van die mosie vra om ’n volwaardige plek vir Afrikaans te verseker en om, waar nodig, Engelse studente deur middel van tolkdienste en/of parallelmedium-onderrig te akkommodeer,” het hy bygevoeg.

Die US het gister teen laatmiddag nie gereageer op navrae oor hoe die taalbeleid tans uitgevoer word nie.

Die Afrikanerbond, ATKV en Adam Tas-studentevereniging het gister hul steun aan die mosie toegesê.


Berig deur Malani Venter gepubliseer in Die Burger op 2011-11-08

Wetsontwerp oor taal ‘is 'n dilemma vir universiteite'

Kaapstad - Taalwetgewing wat Vrydag in die parlement ter tafel gelê is, gaan nie die kopseer van Maties se jongste taaldebat help verlig nie.

Nêrens in die Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale word melding gemaak van meertaligheid in hoëronderwys-instellings nie.

Dié kwessie word ook nie hanteer in die Wysigingswetsontwerp vir Hoër Onderwys en Opleiding wat tans voor die Nasionale Raad van Provinsies dien nie.

Mnr. Cerneels Lourens van die organisasie Regslui vir Afrikaans het gesê dit is ’n groot leemte in die taalwetsontwerp.

“Dié taalwetsontwerp is ’n kind van die Grondwet en behoort uitgebrei te word om voorsiening te maak vir instellings vir hoër onderwys en die beskerming van moedertaalonderrig.”

Lourens het gesê daar is nog groot regsonsekerheid oor veeltaligheid by dié instellings.

Hy het gevra hoekom word daar nie druk op die Universiteit van Kaapstad geplaas om binne ’n oorwegend Afrikaanse gemeenskap ook Afrikaans as voertaal te gebruik nie.

“Dit lyk soos ’n politieke agenda van die regering en dalk is dit tyd vir Maties om hul eie Arab Spring vir Afrikaans te hê.”

Lourens het gesê wetgewende bepalings hieroor sal help om eenvormigheid in die bevordering van veeltaligheid in instellings vir hoër onderwys te skep.

“Die regte van minderhede, soos Afrikaanssprekendes in instellings vir hoër onderwys, behoort ook in die wetsontwerp beskerm te word.”

Die huidige taalwetsontwerp het net betrekking op nasionale departemente en hoe hulle die taalbeleid prakties moet toepas.

Mnr. Andricus van der Westhuizen, DA-LP gemoeid met onderwys, het gesê die leemte in wetgewing is deel van die dilemma vir universiteite.

“Indien meertaligheid bevorder moet word, sal die regering meer finansiële steun aan dié instellings moet gee en dit sal groter sekerheid skep wanneer dit in ’n wet geskryf staan.

“Daar sal dus meer finansiële beskerming vir die instellings wees.”

Intussen is die taaldebat weer deur ’n groep oud- en huidige Maties gestook deurdat ’n mosie teen die universiteitsbestuur ingedien is oor sy hantering van Afrikaans.

Die mosie sal Donderdag op die algemene jaarvergadering van die universiteit se konvokasie bespreek word.

Berig deur Alicestine October gepubliseer in Die Burger op 2011-11-08

2011-07-11

Afrikaans, Engels, ‘n leë dop en ‘n mosie aan die Universiteit Stellenbosch

Vrydag is daar ‘n pro-Afrikaanse mosie ingedien wat eerskomende Donderdagaand voor die konvokasie vir stemming dien. Die mosie is deur 35 jong Afrikaanssprekende Maties onderteken wat òf nog aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer òf wat pas afgestudeer het.

Die ondergetekendes eis dat die US dringend `n volwaardige plek vir Afrikaans in alle fakulteite verskaf en indien daar ook `n Engelse aanbod gedoen word dit deur tolking of parallelmedium geskied. Die oorsprong van hierdie mosie lê nie net in die feit dat die Grondwet aan Afrikaanssprekendes die reg gee om onderrig in openbare onderwysinstellings te ontvang in die taal van hul keuse nie, maar ook omdat daar ‘n daadwerklike behoefte onder hedendaagse Afrikaansprekendes is om universiteitsopleiding in Afrikaans te ontvang. Ons Grondwet wil ‘n samelewing daarstel wat gebou is op menswaardigheid, gelykheid en vryheid. Hierdie ideale kan net gerealiseer word indien die grondwetlike regte van die inwoners van ons diverse land gerespekteer word. Ander Suid-Afrikaners het natuurlik ook hierdie regte en daarom mik ons vir ‘n US wat getransformeerd en inklusief is en wat klasse dmv tolking en parallelmediumonderrig aanbied. Hierdie oplossings is egter nie probleemvry nie. Maar waarvoor was die struggle dan as ons vandag nie bereid is om moeite te doen ten einde Grondwetlike verskanste regte te beskerm nie? Indien dit nie gedoen word nie is die beloftes van ‘n nuwe Suid-Afrika, soos vervat in die Grondwet, bloot ‘n leë dop.

Die uitbreiding en nie-monitering van die T-opsie is besig om Afrikaans erg te ondermyn en as sake so aangaan sal die US binne enkele jare totaal verengels het. Volgens die Schlemmer-verslag van 2008 is die meerderheid studente in elk geval erg gekant teen die T-opsie.

Oud-president Nelson Mandela het in die 1990’s ‘n kommissie in die lewe geroep onder Jakes Gerwel om die toekoms van Afrikaans te ondersoek. Die sogenaamde Gerwel Kommissie, wie se verslag nooit amptelik aanvaar is nie, het aanbeveel dat twee universiteite in Suid-Afrika aangewys word om Afrikaans as akademiese taal te ontwikkel, een in die suide en een in die noorde. In terme van hierdie verslag is Stellenbosch by uitstek die universiteit in die suide om hierdie rol te vervul.

As jy die mosie steun, kliek gerus op die “like” knoppie op die Facebook-blad.

2011-06-11

Taaldebat vlam weer op met groep se mosie teen US-bestuur

Stellenbosch - Die Maties-taaldebat het weer opgevlam toe ’n groep huidige en oud-Maties kennis gegee het dat hulle ’n mosie van wantroue in die universiteitsbestuur gaan instel.

Dié mosie sal Donderdag op die algemene jaarvergadering van die konvokasie van die Universiteit Stellenbosch (US) bespreek word.

Dit handel oor die US-bestuur se hantering van Afrikaans, het mnr. Ernst Marais (26), doktorale regstudent, gesê.

“Ek het die mosie Vrydag by mnr. Johan Aspeling, die registrateur van die universiteit, ingedien. Dit is ondersteun deur handtekeninge van om en by 30 huidige asook oud-Maties. Almal is jongmense. Die mosie is nou aangebring op die agenda van die konvokasievergadering wat Donderdagaand gehou word.”

Sy sekondant is adv. Jacques du Preez (30), ’n oud-Matie.

Prof. Pieter Kapp, voorsitter van die Konvokasie, het gesê die hele storie is vir hom “?’n totale verrassing”.

Marais het hul mosie só gemotiveer: “Daar is ’n daadwerklike behoefte en ’n aanvraag onder hedendaagse jong Afrikaanssprekendes om universiteitsopleiding in hul moedertaal te ontvang. Dit is wetenskaplik bewys dat kennisverwerwing die beste in mense se moedertaal geskied.

“Dubbelmedium (die sogenaamde ‘T-opsie’) misluk in hierdie opsig omdat dit nie behoorlik gemoniteer word nie en dit tot die verengelsing van die US lei.”

Prof. Hermann Gilliomee wat bekend daarvoor is dat hy die vorige taaldebat sterk gedryf het, wou nie veel verdere kommentaar lewer nie. Hy het wel gesê: “Ek is bly daaroor dat jonger mense nou die saak weer opneem. Uiteraard ondersteun ek die inisiatief.”

Prof. Kapp het gesê: “?’n Mosie moet ingedien word. Ons het die mosie Vrydag (betyds, voor die voorgeskrewe 72 uur vóór die algemene jaarvergadering) ontvang en het wel gekontroleer of almal bona fide lede van die konvokasie is. Die uitvoerende komitee vergader eers Woensdag en daar mag moontlik prosedurekwessies geopper word.”

Mnr. Mohamed Shaikh, universiteitswoordvoerder, het gesê: “Die mosie is volgens alle aanduidings gegrond op foutiewe aannames. Buitendien hou die US-raad toesig oor die implementering van die taalbeleid en besluite is deurlopend gemik op die bevordering van Afrikaans as akademiese taal in ’n meertalige konteks.

“Beteken so ’n mosie dat lede van die konvokasie die integriteit van die US-raad betwyfel wanneer dit by Afrikaans as onderrigtaal kom?”

2011-05-11

Gee terug ons taal!

Die inploffing van Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch (US) is die dryfkrag agter die eis van ’n groep besorgde jonger geslag Maties en burgerlike organisasies dat Afrikaans op dié kampus van uitwissing gered word.

Toonaangewende Suid-Afrikaanse burgerlike organisasies beskuldig die universiteitsbestuur van ’n “sleepvoethouding” oor die taal, wat daartoe gelei het dat Afrikaans die afgelope ses jaar glo teen tussen 6% en 11% per jaar in die verskillende fakulteite verskraal het. Teen dié tempo beteken dit dat Afrikaans binne vier jaar omtrent nie meer as onderrigtaal aan die universiteit gaan bestaan nie.

In die meeste fakulteite het die gemiddelde aanbod van Afrikaans die laaste jare sedert prof. Russel Botman as rektor aangestel is tot 10% gedaal. Die gemiddelde staan tans op 38%, sê die onthutste groep Maties.

Dié “drastiese daling” in die aanbod van Afrikaans is waarom die burgerlike organisasies Donderdagaand oudstudente se mosie van wantroue in die US-bestuur se hantering van Afrikaans gaan steun.

In ’n verklaring sê die organisasies die US-raad se leë beloftes oor Afrikaans is die oorsaak van dié “drastiese daling”.

Die mosie gaan ingedien word deur ’n oud-Matie, mnr. Ernst Marais (26), gesekondeer deur adv. Jacques du Preez (30).

Vyftien oudstudente het die mosie onderteken en nege burgerlike organisasies het ’n verklaring uitgereik waarin hulle hul steun aan die oudstudente toesê.

Hulle is die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), die F.W. de Klerk-stigting, die Afrikaanse Taalraad (ATR), AfriForum, die FAK, Regslui vir Afrikaans en Die Voortrekkers.

Leiers van dié organisasies meen die mosie is belangrik omdat dit die aanbod van Afrikaans op sowel tersiêre onderrigvlak as in die publikasie- en mediabedryf op die spits dryf.

As die agteruitgang van Afrikaans op Stellenbosch nie gekeer word nie, gaan dit verreikende negatiewe gevolge hê vir die Afrikaanse media, boeke en kunste, meen hulle.

Hulle eis dat Afrikaans as volwaardige onderrig- en voertaal by die US herstel word, met Engels op versoek deur tolking en parallelmedium.

“Maar ons wil studente aanmoedig om aan te dring op hul reg om onderrig deur Afrikaans te ontvang,” lui die verklaring.

Luidens die mosie is die US “by uitstek” die onderriginstelling waar Afrikaanssprekendes in die taal van hul keuse kan studeer.

Die organisasies sê die US het verskeie leë beloftes oor Afrikaans gemaak:
* Die taalbeleid van 2002 “bestaan nog net op die boeke”;
* Die parallelmedium-onderrig wat in 2007 in die taalbeleid van die US vervat word, is nooit ingevoer nie; en
* Geen deeglike ondersoek oor tolkdienste, wat die US onderneem het om in te voer, is nog gepubliseer nie.

Marais sê hy dien die mosie in “omdat daar ’n behoefte onder hedendaagse Afrikaanssprekendes is om universiteitsopleiding in hul moedertaal te ontvang”.

En Du Preez sê: “Die beloofde gemiddelde van ’n 60%-aanbod in Afrikaans is nie volhoubaar nie omdat die toepassing nie doeltreffend gemonitor word nie.

“Buitengewone taaleise word aan dosente en studente gestel en dit lei prakties tot ’n vetoreg deur die dikwels klein getal studente wat nie Afrikaans verstaan nie.”

Du Preez is aan die F.W. de Klerk-stigting verbonde en sê die stigting is bekommerd oor die implikasies wat die verdwyning van Afrikaans op universiteitsvlak inhou vir dié taal in skole, in die sakewêreld en die media.

***

Mnr. Mohamed Shaikh, ’n woordvoerder van die US, reageer soos volg:

“Dit is onwaar dat parallelmedium-onderrig wat in 2007 in die taalbeleid van die US vervat is ‘nie ingevoer (is) nie’.

Parallelmedium-onderrig (PMO) is suksesvol ingestel in die fakulteite ingenieurswese, natuurwetenskappe, ekonomiese en bestuurswetenskappe en agriwetenskappe en word tans op beduidende skaal na die senior studiejare in van hierdie fakulteite uitgebrei.

“Die beskuldiging dat geen deeglike ondersoek oor tolkdienste (wat die US belowe het ingevoer gaan word) nog gepubliseer is nie, is net so onwaar.”

’n Voorlopige ondersoek is met die hulp van die Noordwes-Universiteit gedoen waarna die US ’n volledige navorsingsprojek oor opvoedkundige tolking as deel van die US se onderrigmodel van stapel gestuur en afgehandel het. Die finale verslag word tans voorberei en sal binnekort voor die US-raad dien.

Die US sê hy verstaan ook nie die basis van die berekeninge van die beskuldiging dat die taalbeleid van 2002 “net op die boeke bestaan” met gemiddeld “net 38% Afrikaans nog in die fakulteite oor” nie.

“Dit val vreemd op. Die onderrig-aanbod in Afrikaans aan die US vir 2012, bereken volgens ’n formule wat die US-raad aanvaar het, is 62%. Die US-raad hou toesig oor die instel van die taalbeleid.”

***

Jong Afrikaanssprekendes wíl hul universiteitsopleiding in hul moedertaal ontvang.

Daarom is dit ’n groep hoofsaaklik bloedjong oud-Maties wat hulle op die Grondwet gaan beroep wat hul reg op opleiding aan openbare opvoedkundige instellings in die taal van hul keuse waarborg.

Dié beginsel geld nie net Afrikaanssprekendes nie, maar alle jong Suid-Afrikaners met ander moedertale, sê mnr. Ernst Marais (26).

Marais gaan die mosie Donderdagaand op ’n konvokasie-vergadering van die Universiteit van Stellenbosch (US) oor die stand van Afrikaans op die kampus indien.

“Ons as jong Afrikaanssprekendes wil graag die transformerende en versoenende potensiaal van Afrikaans ’n werklikheid laat word. Daarom laat ons ruimte vir opleiding aan die US in Engels deur middel van tolke en parallel-me­dium.”

Marais sê die Gerwel-kommissie het in die 1990’s aanbeveel twee Suid-Afrikaanse universiteite word aangewys om Afrikaans as akademiese taal te ontwikkel, een in die suide en een in die noorde.

“Kragtens dié nie-amptelike verslag is die US by uitstek die universiteit in die suide om dié rol te vervul.”

Me. Alana Bailey, woordvoerder oor taalsake by die burgerregte-organisasie AfriForum, het aan Rapport gesê Donderdagaand se mosie is van groot belang.

“Ek het al ’n paar keer skriftelik kontak met die US-bestuur gemaak oor die kwessie. Ek het ’n afspraak met prof. Russel Botman, die rektor, gehad, maar hy het nie opgedaag nie. Die US neem ’n baie geslote houding in teenoor enige poging om hieroor te praat. Hulle beskuldig kritici daarvan dat kritiek hul beeld skade aandoen. Maar studente se klagtes word afgemaak en nie ernstig genoeg hanteer nie. Die mosie gee ’n nuwe, jong stem aan die debat. Die US se reaksie hierop gaan vir voornemende studente sê of die US ernstig is oor Afrikaans.”

Bailey sê AfriForum wil weet wat die belangrikste vir die US is: “Afrikaans en akademiese uitnemendheid deur moedertaalonderrig, of gehoorsaamheid aan die ideologie van die regerende party?

“Die beweerde voordele van Engels om van jou ’n wêreldleier te maak is ’n mite,” sê sy.

Mnr. Chris Klopper, president van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU), sê die toekoms van Afrikaans hang, benewens die behoud van dié taal op tersiêre vlak, ook af van ’n groter hoeveelheid beurstoekennings vir Afrikaanssprekende studente.

“Een rede waarom die Afrikaans-aanbod op tersiêre vlak so vinnig agteruitgaan, is omdat Afrikaanse studente al hoe minder beurse ontvang.”

Volgens hom beland net 54% van Afrikaanse leerlinge wat vir universiteitstoelating kwalifiseer uiteindelik op universiteit. “Dis omdat hulle nie beurse kry nie. Die syfer moet opgestoot word tot 70%.

“Om dit reg te kry, is dit tyd dat die Afrikaanssprekende gemeenskap opstaan en sê: ‘Ons soek nóú beurse vir ons kinders.’?”
Klopper sê ’n doelgerigte gesprek rondom meer finansiering is broodnodig, “en daarvoor het ons die Afrikaanse Taalraad (ATR) nodig om moontlik as bemiddelaar op te tree”.

Klopper sê die SAOU het ’n mandaat vir dié eis van sy 32 000 lede.

“Daar is géén politiek hieraan gekoppel nie. Dit gaan suiwer oor taalbelange. As daar nie meer Afrikaans op universiteitsvlak is nie, watter motivering is daar nog vir kinders om na Afrikaanse skole te gaan? Watter motivering bestaan daar dan nog vir die uitgee van Afrikaanse boeke en ander publikasies?”

Hierin speel die US ’n groot rol, maar daar het dadels gekom van sy beloftes dat Afrikaans sy status op dié kampus gaan behou, sê hy.

“Die afskaal van Afrikaans op naskoolse vlak gaan ’n domino-uitwerking