2011-08-11

‘Afrikaans verdwyn sonder monitering’

Stellenbosch - Die toekoms van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch (US) lyk somber indien die toepassing van dubbelmedium-onderrig in klasse nie dopgehou word nie.

Só meen mnr. Ernst Marais, ’n doktorale regstudent wat namens ’n groep huidige en oud-Maties ’n mosie ingedien het waarin hulle eis dat die US-bestuur ’n volwaardige plek vir Afrikaans aan die universiteit moet verseker.

Die mosie sal Donderdagaand op die algemene jaarvergadering van die konvokasie van die US bespreek word.

Volgens Marais faal die US om dubbelmedium-onderrig, ook bekend as die T-opsie (’n minimum Afrikaanse aanbod van 50% in die klas), doeltreffend in klasse toe te pas.

’n Ongepubliseerde studie wat deur die F.W. de Klerk-stigting gedoen en deur mnr. Piet le Roux, ’n oud-Matie, saamgestel is, toon dat 36,5% van voorgraadse klasse net in Afrikaans aangebied word.

By nadere ondersoek blyk dit uit die verslag dat slegs studente van die fakulteite ekonomiese en bestuurswetenskappe, ingenieurswese en opvoedkunde ’n meerderheid A-opsie (klas net in Afrikaans) ontvang.

In die ses oorblywende fakulteite is die A-opsie in die minderheid en word die T-opsie tot in 100% van sommige fakulteite gebruik.

“Die toepassing van die T-opsie word nie gemoniteer nie en baie van die klasse is meestal – indien nie uitsluitlik nie – in Engels. Dít word meestal veroorsaak deur studente wat Afrikaans sleg of glad nie magtig is nie en dan ’n ‘vetoreg’ uitoefen en dosente versoek om meer Engels te praat. Engels word dan die dominante taal,” het Marais gesê.

Hy het vervolg dat Afrikaans as hoofonderrigtaal aan die US gaan verdwyn indien dié neiging voortgaan.

“Dit is waarom ons die US-bestuur deur middel van die mosie vra om ’n volwaardige plek vir Afrikaans te verseker en om, waar nodig, Engelse studente deur middel van tolkdienste en/of parallelmedium-onderrig te akkommodeer,” het hy bygevoeg.

Die US het gister teen laatmiddag nie gereageer op navrae oor hoe die taalbeleid tans uitgevoer word nie.

Die Afrikanerbond, ATKV en Adam Tas-studentevereniging het gister hul steun aan die mosie toegesê.


Berig deur Malani Venter gepubliseer in Die Burger op 2011-11-08

No comments:

Post a Comment