2011-07-11

Afrikaans, Engels, ‘n leë dop en ‘n mosie aan die Universiteit Stellenbosch

Vrydag is daar ‘n pro-Afrikaanse mosie ingedien wat eerskomende Donderdagaand voor die konvokasie vir stemming dien. Die mosie is deur 35 jong Afrikaanssprekende Maties onderteken wat òf nog aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer òf wat pas afgestudeer het.

Die ondergetekendes eis dat die US dringend `n volwaardige plek vir Afrikaans in alle fakulteite verskaf en indien daar ook `n Engelse aanbod gedoen word dit deur tolking of parallelmedium geskied. Die oorsprong van hierdie mosie lê nie net in die feit dat die Grondwet aan Afrikaanssprekendes die reg gee om onderrig in openbare onderwysinstellings te ontvang in die taal van hul keuse nie, maar ook omdat daar ‘n daadwerklike behoefte onder hedendaagse Afrikaansprekendes is om universiteitsopleiding in Afrikaans te ontvang. Ons Grondwet wil ‘n samelewing daarstel wat gebou is op menswaardigheid, gelykheid en vryheid. Hierdie ideale kan net gerealiseer word indien die grondwetlike regte van die inwoners van ons diverse land gerespekteer word. Ander Suid-Afrikaners het natuurlik ook hierdie regte en daarom mik ons vir ‘n US wat getransformeerd en inklusief is en wat klasse dmv tolking en parallelmediumonderrig aanbied. Hierdie oplossings is egter nie probleemvry nie. Maar waarvoor was die struggle dan as ons vandag nie bereid is om moeite te doen ten einde Grondwetlike verskanste regte te beskerm nie? Indien dit nie gedoen word nie is die beloftes van ‘n nuwe Suid-Afrika, soos vervat in die Grondwet, bloot ‘n leë dop.

Die uitbreiding en nie-monitering van die T-opsie is besig om Afrikaans erg te ondermyn en as sake so aangaan sal die US binne enkele jare totaal verengels het. Volgens die Schlemmer-verslag van 2008 is die meerderheid studente in elk geval erg gekant teen die T-opsie.

Oud-president Nelson Mandela het in die 1990’s ‘n kommissie in die lewe geroep onder Jakes Gerwel om die toekoms van Afrikaans te ondersoek. Die sogenaamde Gerwel Kommissie, wie se verslag nooit amptelik aanvaar is nie, het aanbeveel dat twee universiteite in Suid-Afrika aangewys word om Afrikaans as akademiese taal te ontwikkel, een in die suide en een in die noorde. In terme van hierdie verslag is Stellenbosch by uitstek die universiteit in die suide om hierdie rol te vervul.

As jy die mosie steun, kliek gerus op die “like” knoppie op die Facebook-blad.