2010-04-29

T-opsie lok NIE ekstra studente

Daar word beweer dat die T-opsie nodig is omdat die US andersins studente sal verloor. Die syfers vertel 'n ander verhaal.

'n Vergelyking van die inskrywingsyfers van studente by die Fakulteit Lettere en die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW) wys op die teendeel.

Lettere het sedert 2004 toenemend die T-opsie ingestel en geen noemenswaardige studentegroei ervaar nie. EBW het deurgaans by die A-opsie gehou en toon ook konstante studentegroei. EBW is blykbaar ook die fakulteit wat, met al sy Afrikaans, proporsioneel die meeste swart, bruin en indiërstudente kon trek.

'n Volgende stap in hierdie analise sal moet wees om tussen studente se taalgroepe te onderskei, maar die aanduidings sover is dat die US 'n onbenullig klein risiko loop om studente te verloor weens "te veel" onderrig in Afrikaans. Die Engelse studente aan die US kom nie vir Engelse onderrig nie.

Die teendeel is moontlik waar.
______________________________________
Byvoeging: Die onderstaande meningswisseling is 'n goeie kwalifikasie van bostaande stellings:

2010-04-08

Wie's jou taalstryder?

Aan die taalstryders* wat sê dat Afrikaans as onderrigtaal op Stellenbosch nie belangrik is nie en dat diegene wat so daaroor kla by belangriker sake (hetsy armoede, misdaad, of drank) moet uitkom:

Waarom hou juis hulle nie op met stry oor hierdie onbelangrike saak nie? As diegene wat hulle so sterk beywer vir 'n nie-primêre posisie van Afrikaans op Stellenbosch ophou stry oor hierdie "nonsens," dan is die probleem mos ook opgelos? As dit dan kwansuis so onbelangrik is.

Die realiteit is egter: Óf jy moet erken onderrigtaal op Stellenbosch is vir jou minstens ewe belangrik is as vir diegene wat hulle vir 'n sterk posisie vir Afrikaans op Stellenbosch beywer, óf jy moet terugstaan en aan Giliomee en ander hul sin oor onderrigtaal gee.

Die ironie is dan dat die hele huidige taaldebat ontketen is deurdat die US wegbeweeg het van sy taalbeleid van 2002 wat in 2002 met algemene instemming aanvaar is. Die huidige "taalstryd" is 'n gevolg van 'n verandering in beleidsuitvoering deur US-amptenare wat in 2005 aan die lig gekom het. Giliomee, Breyten B en Van Zyl Slabbert, wat dit op die lappe gebring het, is nie die taalstryders nie, maar die beleidsverdedigers.

Die taalstryders is diegene wat aanhou om af te wyk van die 2002-beleid - wat bepaal dat Afrikaans die outomatiese en voorkeur-onderrigmedium moet wees.

Piet le Roux

*In 2006 het ek, in Die Matie, Chris Brink 'n taalstryder genoem. (In my resensie verwys ek verkeerdelik na "nieu-Afrikaners" - sover ek weet het Brink 'neo' gebruik. By die res staan ek graag.)

2010-04-06

Net 17% van Die Burger-lesers verveel deur Taaldebat.

Ruim 83% van deelnemers aan Die Burger se peiling hiernaas meen nie dat die taaldebat hulle verveel nie. 52% meen dit is te belangrik om uit te los en 31% meen die dekking maak geen verskil nie (lees: die US sal in elkgeval verengels).

Net 17% sê die debat verveel hulle.

Dit laat my wonder op watter inligting Die Burger se verteenwoordiger sy stelling - dat Die Burger se lesers moeg is vir die taaldebat - grond (gemaak by Die Burger Gesprekreeks by die KKNK op Sondag, 4 April 2010). Dis in elkgeval nie uit die peiling duidelik nie - om die waarheid te sê laat die peiling 'n weerlegbare vermoede tot die teendeel ontstaan.