2010-04-08

Wie's jou taalstryder?

Aan die taalstryders* wat sê dat Afrikaans as onderrigtaal op Stellenbosch nie belangrik is nie en dat diegene wat so daaroor kla by belangriker sake (hetsy armoede, misdaad, of drank) moet uitkom:

Waarom hou juis hulle nie op met stry oor hierdie onbelangrike saak nie? As diegene wat hulle so sterk beywer vir 'n nie-primêre posisie van Afrikaans op Stellenbosch ophou stry oor hierdie "nonsens," dan is die probleem mos ook opgelos? As dit dan kwansuis so onbelangrik is.

Die realiteit is egter: Óf jy moet erken onderrigtaal op Stellenbosch is vir jou minstens ewe belangrik is as vir diegene wat hulle vir 'n sterk posisie vir Afrikaans op Stellenbosch beywer, óf jy moet terugstaan en aan Giliomee en ander hul sin oor onderrigtaal gee.

Die ironie is dan dat die hele huidige taaldebat ontketen is deurdat die US wegbeweeg het van sy taalbeleid van 2002 wat in 2002 met algemene instemming aanvaar is. Die huidige "taalstryd" is 'n gevolg van 'n verandering in beleidsuitvoering deur US-amptenare wat in 2005 aan die lig gekom het. Giliomee, Breyten B en Van Zyl Slabbert, wat dit op die lappe gebring het, is nie die taalstryders nie, maar die beleidsverdedigers.

Die taalstryders is diegene wat aanhou om af te wyk van die 2002-beleid - wat bepaal dat Afrikaans die outomatiese en voorkeur-onderrigmedium moet wees.

Piet le Roux

*In 2006 het ek, in Die Matie, Chris Brink 'n taalstryder genoem. (In my resensie verwys ek verkeerdelik na "nieu-Afrikaners" - sover ek weet het Brink 'neo' gebruik. By die res staan ek graag.)

No comments:

Post a Comment