2010-03-01

So praat 'n Vryburger

[ongeredigeerde weergawe]

'n Taalvisie uit Adam Tas se oogpunt

Nico de Wet
(Voorsitter 2007)
Adam Tas Inligtingsessie
27 Februarie 2010

Ek het gewonder hoekom Adam Tas vir my as ou voorsitter gevra het om te verduidelik wat hul taalvisie is. Ek neem maar aan dit was ’n taktiese besluit: indien ek iets te rof sou kwytraak, kan hulle maklik hulself daarvan distansieer. En ek dink dit was inderdaad slim van hulle, want ek het hierdie toespraak laat in die aand geskryf, toe ek die minste lus was vir doekies omdraai.
Ek gaan sommer begin deur onmiddellik oor die T-opsie (ook bekend as dubbelmedium) te praat.

Die rede hoekom ons nie van die T-opsie hou nie, is nie omdat prof. Giliomee, prof. Kapp, of een of ander navorsing so sê nie. Ons is nie die Jeugliga van een of ander Taalbul-Beweging nie. Die rede hoekom ons nie van die T-opsie hou nie is baie meer eenvoudig as dit: Ons hou nie van die T-opsie nie want uit eie ervaring het ons gesien dit werk nie.


In teorie kan ek verstaan hoekom die T-opsie vir baie mense so aantreklik lyk. Ek self het gedink dis ’n briljante idee voordat ek Stellenbosch toe gekom het. Afrikaans, Engels, Swart, Wit, Bruin almal gelukkig saam in een klaskamer. Almal word hul vakgebied in beide Afrikaans en Engels baas en so bou ons die Reënboognasie. Dit klink amper soos Invictus. En daarom, wanneer daar oor die T-opsie in die koerante gedebatteer word, lyk dit altyd asof die verdedigers die morele hoërgrond beklee en dat die kritici een of ander verskuilde agenda het. Hoe kan ’n mens ’n beleid aanval wat sulke edele en vooruitstrewende motiewe het.

Die moeilikheid is egter dat, nes kommunisme, werk die t-opsie nie in die praktyk nie.
Laat ek vir julle ’n paar voorbeelde noem wat ek, my Adam Tas kollegas en ons vriende en kennisse al ervaar het (let wel, net ’n paar, want ons sal die hele dag oor verskillende gevalle kan gesels) :

1. Die dosent begin deur te vra: “Wie verstaan nie Engels nie.” Niemand steek hulle hand op nie en daar gaan die dosent hoofsaaklik in Engels voort met ’n paar Afrikaanse woorde hier en daar as versiering.

Nou dit is ’n totaal en al ongeldige vraag van die dosent se kant af. Want obviously verstaan ons almal “Engels”. Maar daar is ’n verskil tussen om te verstaan wat in Engelse sopies op TV aangaan en om jou vak deur Engels te leer verstaan.

2. Die dosent begin deur te sê dat sy lank oorsee of by ’n ander universiteit in die land gewerk het waar sy hoofsaaklik in Engels gedoseer het, dus is haar Afrikaans nie te goed nie, en dus gaan sy maar hoofsaaklik in Engels doseer.

3. Die dosent begin deur te sê daar is internasionale studente in die klas; dis nie sy skuld nie, die Universiteite het hulle daar geplaas, en dus sal hy ter wille van hulle hoofsaaklik Engels praat.

4. Die dosent begin deur te sê dat sy glad nie Afrikaans kan praat nie, maar dat sy ’n ooreenkoms met haar kollegas het dat die tweede semester van die vak in Afrikaans aangebied word. Die tweede semester kom en haar kollega sê vir ons dat daai ooreenkoms ongeldig was en dat hy dubbelmedium gaan toepas – natuurlik soos meeste T-opsie klasse, waar daar ’n minimum in Afrikaans gepraat word en ’n maksimum in Engels.

5. Die student moet ’n aanbieding in die klas doen wat baie vir sy predikaat tel. Die dosent verstaan nie eintlik Afrikaans nie. Nou het die student ’n dilemma: doen die aanbieding in Afrikaans en kry ’n slegte punt, of doen dit in Engels en kry ’n slegte punt.

6. Die T-opsie word wel konsekwent toegepas – of altans die dosent probeer dit regtig doen. Maar kort-kort word daar deur Engelse studente neerhalende opmerkings gemaak in die klas oor die feit dat daar in Afrikaans gepraat word. Sommige sal sommer uit moedswilligheid aanhoudend vra dat die Afrikaans in Engels herhaal word. Dit skep dus onafwendbaar ’n atmosfeer van spanning en antagonisme tussen verskillende groepe in die klas, alles behalwe die Reënboognasie ideaal wat die T-opsie veronderstel is om na te streef.

7. Die klas word volledig in albei tale aangebied – maar in dieselfde klaskamer. Met ander woorde, elke liewe woord en sin word in albei tale herhaal. En soms word dit twee keer of drie keer in albei tale herhaal. Dus in effek, in plaas van 50 minute, het ons tussen 15 en 25 minute klas.

Nou u mag dalk vra waarom staan ons Afrikaanse studente nie op nie. Waarom kla ons nie meer nie. Nou laat ek vir u ’n paar moontlike redes gee:

1. Dit is polities inkorrek om vir Afrikaans op te staan. As jy jou hand opsteek in die klas en aandring op Afrikaans, dan word jy in twee moontlike ligte geplaas:
a. Of jy is dom.
b. Of jy is ’n rassis.

2. As jy wel mal genoeg is om vir Afrikaans op te staan – soos ek – en ’n mooi, respekvolle, maar tog eerlike e-pos aan die dosent stuur, dan kry ’n mens ’n reaksie soos die volgende (en die is die presiese woorde van ’n dosent):

“Geen verdere debatte of insette sal oor so iets onwetenskaplik en onakademies verder toegestaan word nie.”

3. Wat die dosente of departementshowe ook somtyds doen – en dit het al twee of drie keer met my gebeur – hulle speel die burokratiese kaard. Hulle roep jou in en het ’n lang vriendelike gesprek met jou oor demografiese statistieke oor die klas en die kompleksiteit van die saak en dat hulle onder baie druk is om almal te akkommodeer. En dan waarborg hulle jou hulle sal die situasie oplos. Dit is in die pyplyn. Maar as jy terug in die klas is, gaan dinge maar net voort soos wat dit was – in Engels.

4. Die ergste wat ek al gehoor het – gelukkig het dit nog nie met my gebeur nie (of altans ek is nog nie bewus daarvan nie), maar wel met ander persone wat ek ken – is dat jy deur die dosent ge-viktimiseer word: dat die dosent jou sleg hanteer en akademies penaliseer weens jou opstokery.
Die bottom-line is, die T-opsie werk nie. En nie voordat die Universiteit aan ons bewys dat die T-opsie doeltreffend gemoniteer kan word en dat verpligte taalvaardigheid-klasse ingestel sal word nie, kan Adam Tas nie die T-opsie ondersteun nie. En met “bewys” verwys ek nie na vernuftige oratoriese vermoë nie (waarmee die Universiteit se beleid-verdedigers briljant is); ek praat van konkrete, fisiese dade met konkrete, fisiese resultate.

Maar al kry die Universiteit die onmoontlike reg; sien ek nie hoe die T-opsie volhoubaar of in elk geval die mees ideale taalbeleid is nie. Dit is onrealisties om te verwag dat Engelse studente (wat nie ’n woord Afrikaans verstaan of ’n behoefte het om dit te verstaan nie – onder andere weens die historiese stigma daaraan verbonde) gaan gelukkig wees in ’n klas waar daar helfte van die tyd in Afrikaans gepraat word nie. ’n Mens soek mos dan vir moeilikheid. En die spanning in die klas en die druk op die dosent gaan net vererger soos wat die Universiteit nou probeer om ons rassediversiteit te verbeter (sien Visie 2015).

Nou dit help nie Adam Tas kritiseer net nie; ons moet mos nou konstruktief wees en help met ’n oplossing.

Laat ek eers baie duidelik sê, Adam Tas het niks teen Engels of transformasie of diversiteit nie. Ek dink die punt is reeds baie duidelik vandag gemaak dat transformasie en diversiteit twee van ons kern beginsels is. So ons wil hê dat Stellenbosch meer divers word; maar dit mag nie gebeur ten koste van Afrikaans as medium van onderrig nie; want dan bevorder ons nie diversiteit nie.
Die ironie natuurlik is dat die T-opsie juis nie met transformasie help nie. Jou Engelssprekend studente – wat die Universiteit wil trek – hou niks daarvan nie. Soos wat ek reeds gesê het dit skep net konflik tussen verskillende groepe in die klas.

Adam Tas het dus die volgende voorstel:

Waar die klasse groot is, soos in die eerstejaar, kan daar parallelmedium toegepas word. En ek vertrou dit word reeds gedoen. Baie geluk aan die Universiteit. Maar wanneer klasse te klein word vir parallelmedium behoort ons die model van Potch te gebruik, naamlik die instelling van tolkdienste. Ons Bestuur sê dis te duur; die Bestuur van Potch sê dis bekostigbaar. Ons sal dus baie graag wil hê dat daar ’n amptelike ondersoek ingestel word om die koste te bereken; en dat die resultate van die ondersoek aan ons almal beskikbaar gestel word.

En indien tolkdienste inderdaad te duur is, dan moet ons ’n paar eerlike en realistiese gesprekke hê. Dalk is dit dan die beste om Stellenbosch op voorgraadse vlak primêr “Afrikaans” te hou met die nodige ondersteunings-strukture aan studente wat nie gemaklik in Afrikaans is nie. Dit sal natuurlik transformasie van getalle in die korttermyn vertraag – maar as jy kyk na die demografie van die groter Afrikaanse gemeenskap, dan sal Stellenbosch in die langtermyn onafwendbaar transformeer – indien natuurlik die institusionele kultuur meer inklusief en vriendelik gemaak word vir studente van ander agtergronde. En dit is nie te moeilik nie. Adam Tas kan baie daarmee help.

Ten slotte: Die argument wat nou onlangs baie in die media aangevoer word is dat ons nie kan bekostig om oor die taalbeleid en Stellenbosch ideologies te wees nie. Vir finansiële en/of politiese redes moet ons maar konformeer en aanpas vir die sogenaamde werklikhede van Suid-Afrika en die wêreld. Maar ek dink, as ons wil hê die reënboognasie moet werk, dat multikulturalisme en meertaligheid moet werk, dan kan ons nie bekostig om nie ideologies te wees nie. Die reënboognasie is in elk geval ’n ideologie; en die verwesenliking daarvan maak dit noodsaaklik om teen die stroom te gaan, om teen die werklikhede te gaan en die status quo te verander. Dus kan die Staat en al sy instansies, soos die Universiteit van Stellenbosch, nie net besigheid-logika toepas wat deur die nuutste neigings in die samelewing gedikteer word nie. Die Universiteit kan nie net homself oorlaat aan die sogenaamde werklikhede van die samelewing nie. Die Universiteit moet juis probeer om die werklikhede te verander sodat ons wêreld meer regverdig word.

Dankie.

6 comments:

  1. Anonymous1/3/10 18:01

    Ek het eers gedog Nico is die ou met die kommunis-hoed op, maar toe sien ek hom staan in die agtergrond, regs (met die horings). Nou's ek verward.

    ReplyDelete
  2. Anonymous1/3/10 22:31

    Nee wat Nico, dis maar tyd om te aanvaar dat jy nou in 2010 sit!!!

    ReplyDelete
  3. Anonymous1/3/10 22:55

    Ek dink Nico is 'n yster.

    ReplyDelete
  4. @ Anonymous 2 hierbo: Is dit nie wat hulle in 1984 ook gesê het nie?

    ReplyDelete
  5. Jasper van Zyl4/3/10 00:29

    Nico de Wet is sy tyd vooruit. Vergeet van 2010!

    ReplyDelete
  6. Anonymous10/4/10 12:49

    Goed gesê, engelse mense wat by stellenbosch kom studeer was bewus dat dit 'n afrikaanse universiteit is voordat hulle ingeskryf het, dus aanvaar nou die gevolge van julle besluite

    ReplyDelete