2010-03-19

Die onderstebo-benadering van iemand wat in die laaste agt jaar nie getwyfel het nie

Wat ek altyd sal onthou is André-Pierre du Plessis (voormalige Die Matie-redakteur) se derde punt van sy laaste Die Matie-hoofartikel: "Maak staat op die raad van die man wat twyfel of dit reg is. Die man wat nie twyfel nie, het die saak maar van een kant af bekyk." (Ek het later gehoor Langenhoven het ook al iets soortgelyks gesê.)

Nooit enige twyfel...
"Ek het nog nooit enige twyfel gehad dat wat die raad tussen 2002 en nou oor Afrikaans besluit het, in die belang van die US was nie." - dr Edwin Hertzog, voormalige US-raadsvoorsitter in Die Burger. Lesers kan sy stellings gerus self beoordeel aan die hand daarvan of sy artikel vanselfsprekende waarhede bevat of stellings wat, minstens op een of ander stadium, twyfel geregverdig het.

Onderstebo-benadering...
Dr Hertzog maak die argument uit dat 'n taalbeleid wat in praktyk deur dosente bepaal word 'n van-onder-na-bo-benadering is en dus geldig. Dit klink vir my analogies tot 'n bewering dat as staatsamptenare besluit die staat moet slegs in Engels funksioneer (of slegs halfdag werk, om 'n ekstreme voorbeeld te gebruik) en die parlement keur dit goed dan is dit 'n van-onder-na-bo-benadering en dus geldig. Hy verwys onder andere na die US-taalkomitee wat "of verkies of saamgestel is uit verskillende afdelings van die hele universiteitsgemeenskap." Dit is belangrik om te noem dat, vir die grootste deel van die taalkomitee se bestaan, 14 uit daardie 15 betaalde amptenare was en 1 'n student. Daarmee nie om te sê dat die lede van die taalkomitee nie geldige besluite kon neem nie, maar om in 'n gees van openbaarmaking aan lesers 'n billike aanduiding te gee van die kollegiale en ander druk waaronder taalkomiteelede verkeer het. Is dit, om die US-taalkomitee as voldoende verteenwoordigend van die universiteitsgemeenskap te sien, nie maar om die universiteitsgemeenskap as 'n 14:1-belangehouding van alleenlik betaalde amptenare en studente te sien nie?

In die staat se geval: dit is nie 'n organisasie met winsbejag nie, daar is nie aandeelhouers nie en die staatsamptenare is eintlik in diens van 'n aantal belangegroepe wat via genomineerdes/verteenwoordigers besluite neem.

In die universiteit se geval: dit is ook nie 'n organisasie met winsbejag nie, daar is nie aandeelhouers nie en die universiteitsdosente maak slegs maar 'n deel van die amptenary uit wat eintlik in diens staan van die belangegroepe (via die nominasieproses om 31 mense na die US-raad nomineer).

Waar, in dr Hertzog se uiteensetting, pas, byvoorbeeld, studente en ouers as kliënte in en waar pas donateurs soos Ons Weldoener in? Waar, for that matter, pas Die Matie in?

Piet le Roux

No comments:

Post a Comment