2009-06-09

Transformeer in Afrikaans

Dave Steward (FW de Klerk Stigting) en Jan Bosman (Afrikanerbond) skryf in Die Burger van 9 Junie 2009 o.a. soos volg:
As verskoning word dikwels aangevoer dat Afrikaans in die pad staan van transformasie van die US.
As met transformasie bedoel word die vermindering van wit studente ten gunste van bruin, swart en Indiër-studente, het die verengelsing van die US bepaald nie in sy doel geslaag nie. Inteendeel. Van 2003 tot verlede jaar het die getal swart studente aan dié universiteit van 462 tot 875 toegeneem. Die enigste wins wat die US gemaak het, is om die getal wit Engelssprekende studente te vermeerder van 2 570 in 2003 tot 3 246 verlede jaar.
In dié tyd het die getal bruin Engelssprekende studente gegroei van 473 in 2003 tot 972 verlede jaar.
Transformasie aan die US is tot nadeel van die bruin landelike bevolking, wat hoofsaaklik Afrikaanssprekend is. Gegewe die feit dat die sensus van 2001 aandui dat die bruin bevolking van die Wes-Kaap verreweg die grootste groep eerstetaalgebruikers van Afrikaans is, met 1,9 miljoen teenoor 454 408 wat Engels as eerste taal aangedui het, is die verengelsing van die US tot nadeel van die kerngebruikers van Afrikaans.
Ironies genoeg is daar ook meer Swart eerstetaal verbruikers van Afrikaans in die Wes-Kaap as Engels.
Hierdie syfers staaf die argument dat transformasie aan die US in Afrikaans en deur Afrikaans kan plaasvind.
Die bestuur van die US het te lank die afskaling van Afrikaans verdoesel onder die dekmantel van allerlei modelle en opsies wat aangebied is.
Die praktyk bewys egter dat Afrikaans sy status as akademiese en wetenskapstaal verloor. Dit het reeds aan ander universiteite gebeur, waarvan die eertydse Randse Afrikaanse Universiteit en die Universiteit van Port Elizabeth waarskynlik die beste voorbeelde is. Ten spyte van talle versekeringe is die universiteite oorwegend Engels. Ander historiese Afrikaanse universiteite loop tans dieselfde pad.
Die bestuur van die US moet nou in duidelike taal en sonder verdere misleiding van studente, voornemende studente, donateurs, alumni, dosente en ouers ’n onomwonde waarborg gee ten opsigte van Afrikaans aan die universiteit.
Wat nou nodig is, is ’n duidelike en meetbare verbintenis tot Afrikaans wat die feitelike sowel as die praktiese posisie van Afrikaans as akademiese en wetenskapstaal aan hierdie universiteit sal bevestig.
Vir die volledige artikel, klik hier.

2 comments:

  1. Anonymous17/6/09 23:05

    Dit sal intteresant wees om die totale verhouding Afrikaanssprekende studente tot Engelstaliges te sien.

    Wat ek deels deur ook die US se webblad te besoek aflei, is dat BAIE dosente eintlik Engelssprekend is - Natuurlik sal hulle die T opsie wil bevorder.

    ReplyDelete
  2. Volgens 'n analise deur Raadslid Jacko Maree was daar in die jaar 2003 'n totaal van 9677 Afrikaanssprekende en 3697 Engelssprekende studente aan US. Teen 2009 is daar 9750 Afrikaanssprekende en 5675 Engelssprekende studente. Die Afrikaanssprekendes het dus met 0,75% (minder as 1%) toegeneem, terwyl die Engelssprekendes met 53,5% toegeneem, waarvan verreweg die meeste wit Engelssprekende studente is. Die groep wat die meeste baat by die voortslepende verengelsing van US, is laasgenoemde kategorie.

    ReplyDelete