2009-05-19

Hoës van US kon nie druk weerstaan

Brief: Die Burger 11/05/2009

Die US is besig om radikaal te verontafrikaans met senior US-bestuurslui ten gunste van vetoregte na Engels.
Soos berig (DB, 06.05.09, vir die volle artikel klik hier) wou ’n paar studente my verlede week op ’n studenteberaad verhinder om my in Afrikaans voorbereide toespraak so te lewer. Te min tolk-apparate was beskikbaar en enkele apparaatlose studente het geweier om by die twee tolke in die lokaal te sit. (Die meerderheid van nie-Afrikaanssprekendes wou wel dat ek voortgaan.)
Skokkend was egter die studentedekaan, mnr. Llewellyn MacMaster, se gevolglike weiering dat ek Afrikaans praat, sowel as die US-mediawoordvoerder, mnr. Mohamed Shaikh, se stilswyende goedkeuring van MacMaster se beskouing.
Nadat MacMaster eers nog stamelend my reg tot Afrikaans erken het, kondig hy skielik aan dat ek nie in Afrikaans mag voortgaan nie. En Shaikh, in stede daarvan om MacMaster met die US-taalbeleid reg te help, maak slegs verskoning dat hy kort tevore Afrikaans gepraat het!
Nou wil sommiges nog die sotlikheid verdedig dat die dubbelmedium/T-opsie die toekoms van Afrikaanse onderrig verseker. Nie eens die studentedekaan en mediawoordvoerder kon druk vir Engels van enkele studente weerstaan nie.
Tog word ons aanhoudend verseker dat, as 50% van ’n klas in Afrikaans en 50% in Engels aangebied word, nie-Afrikaanssprekendes dit sal aanvaar en dosente in Afrikaans sal aanhou doseer. Waansinnig!
Die rede vir my voortgang in Afrikaans, ten spyte van MacMaster se weiering, het e­k aan die beswaarmakers verduidelik: Engels­ praat sou druk wegneem van die US-bestuur sonder om die onderliggende probleem aan te pak.
Die eks-rektor, prof. Chris Brink, had die hol versekering dat geen student wat Engels verkies ’n vetoreg oor Afrikaans sal hê nie.
Die nuwe bestel onder prof. Russel Botman laat dit blykbaar ook graag toe. Soortgelyke voorvalle kenmerk Matie-klasse, op Stellenbosch én Tygerberg.
Piet le Roux
Stellenbosch

2 comments:

  1. Anonymous19/5/09 20:38

    Daar bestaan spanning oor taal by die Universiteit van Stellenbosch. Die oplossing is heel eenvoudig. Moedig Swart en veral Bruin studente aan om by Stellenbosch in te skryf met een voorwaarde: dat alle lesings vir nuwe studente vanaf 2010 net in Afrikaans sal geskied. Ek hoop dat dr Blade hierdie boodskap sal lees en dit toepas.
    John, Hermanus

    ReplyDelete
  2. Anonymous19/5/09 23:13

    Laat my dink aan die liedjie (aangepas):
    Dosente moenie met die taal so mors nie, die studente wil dit hoor;
    Dit kom van ver af, van Piet le Roux se plaas.

    ReplyDelete