2012-02-10

Agt benoem vir drie raadsposte

STELLENBOSCH - Agt kandidate is deur lede van die konvokasie van die Universiteit Stellenbosch (US) vir die drie vakatures in die US-raad benoem.

Mnr. Martin Vilijoen van die universiteit se kommunikasiedepartement het in 'n verklaring gesê 'n verkiesing sal gevolglik gehou word om te bepaal wie die konvokasieverteenwoordigers in die raad sal wees vir die tydperk 2 April 2012 tot 1 April 2016.

Konvokasielede het tot 16:00 op 13 Maart om hul stemme uit te bring.

Die vakatures het onstaan na die verstryking van die ampstermyne van mnr. Koos Bekker en dr. Adelbert Scholtz, asook dr. Rhoda Kadalie se bedanking uit die raad verlede jaar.

Die konvokasie, wat ses verteenwoordigers in die universiteitsraad het, bestaan uit almal uit wat gedurende die afgelope Desember-gradeplegtighede en sertifikate en diplomas van die US en ook heeltydse, huidige en afgetrede akademiese personeel van die US.

Die kandidate vir die verkiesing is mnre. Koos Bekker, uitvoerende hoof van Naspers, Ainsley Moos, hoofredakteur en uitgewer van die Volksbladgroep, Piet le Roux, senior navorser van Solidariteit, en Omar Henry, voormalige nasionale krieketspeler en uitvoerende hoof van Boland-Atletiek, asook drs. Adelbert Scholtz, praktiserende sielkundige, arbeidskonsultant en emeritiuspredikant, Le Roux van der Westhuizen, uitvoerende hoof van die Millenium Trust, en Prieur du Plessis, voorsitter van Plexus Batebestuur, en me. Sanet Nowers, direkteur in die Wes-Kaapse onderwysdepartement.

Slegs een kandidaat, mnr. Jannie Durand, is deur die donateurs van die US aangewys om dr. Paul Cluver as hul verteenwoordiger in die raad te vervang. Hy is dus onbestrede tot die raad verkies.

Die verkiesingsproses word gemonitor deur KPMG, wat na die verkiesing 'n ouditverslag aan die kiesbeampte sal lewer.

Berig deur Ilse Krige gepubliseer in Die Burger op 10 Februarie 2012.

1 comment:

  1. Anonymous16/2/12 14:10

    Vertel vir ons meer van die ander kandidate. Sanette Nowers het uit die Konvokasie se Uitvoerende Komitee twee jaar gelede bedank na die vorige Konvokasie President, prof Pieter Kapp, se beroemde "kettingsae teen die eikebome" toespraak. By die vorige Raadsverkiesing was sy onsuksesvol.
    LeRoux van der Westhuizen is die enigste van die 8 kandidate wat niks te sê het oor Afrikaans as onderrigtaal nie; ek vind dit insiggewend.
    Adelbert Scholtz het, na verneem word, gestem teen 'n amendement dat die T-opsie beperk sou word tot die eerste studiejaar van die Fakulteit Regsgeleerdheid; die amendement is met een stem afgestem, waarna die T-opsie in al vier jaar ingestel is.

    ReplyDelete