2012-02-15

Student getuig oor wantoepassing van die taalbeleid

Afrikaans@Maties is onlangs in die volgende korrespondensie tussen 'n student en 'n beampte van sy departement ge-Cc. Die korrespondensie is ook aan die betrokke dekaan en die Rektor ge-Cc. Die identiteite van die betrokke partye word met skuilname vervang.

-----------
From: Adam
Sent: 13 February 2012 11:43 PM
To: Prof. Simonsberg
Cc: Dekaan; Prof Russel Botman; afrikaansbymaties@gmail.com
Subject: Klasterugvoer

Goeie dag prof. Simonsberg,

Ek is tans 'n derde jaar E&E-student, graag bring ek die volgende kwessies onder u aandag na afloop van die eerste week van klas.

Dit spyt my om u mee te deel dat ek nie gelukkig is met die manier hoe die Afrikaanse taalaanbod toegepas word nie.

Volgens die jaarboek word al my vakke as die A-spesifikasie voorgehou.
3.4.2.1  A-spesifikasie*
Onderrig is hoofsaaklik in Afrikaans.
Studiemateriaal (handboeke, notas, transparante, elektroniese leer- en
onderrigmateriaal) kan in Afrikaans en/of Engels wees.
Studieraamwerk is in Afrikaans en Engels

My probleem is egter nou die volgende:
Alhoewel die dosente Afrikaans praat tydens lesings is die oorgrote meerderheid van notas, werksopdragte (tutoriale), kursus-webblaaie en selfs bordskrif uitsluitlik in Engels beskikbaar. Ek verstaan dat alle E&E-vakke sedert 2012 na Engels toe getolk word. Boonop vind die tolking deur middel van kopfone plaas wat volgens die tolk R5000 stuk kos.
Die huidige situasie op grondvlak lyk as volg:
Vak
Spreektaal
Bordskrif
Skyfies
Kursuswebblad
Handboek
Tuts
Beheerstelsels
Afr met tolk
Engels
Engels
Afr en Eng
Engels
A&E
Elektromagnetika
Afr met tolk
Engels
Engels
Engels
Engels
Eng
Elektronika 315  
Afr met tolk
Afrikaans
A&E
Afr en Eng
Engels
Eng
Stelsels en Seine
Afr met tolk
Engels
Engels
Afr en Eng
Engels
A&E
Ontwerp (E) 314
Afr met tolk
n/a
Afr en Eng
Afrikaans
Engels

Soos u in die bostaande tabel kan sien het Afrikaanse studente merendeels slegs hul eie, handgeskrewe notas wat uitsluitlik op gehoor gebaseer word as studiebron. Terselfdertyd word Engelse studente op alle platforms in Engels gevoer.

Ek vind dit bitter onregverdig dat Afrikaans in die E&E-departement tot slegs 'n gesproke taal gereduseer word terwyl Engelse studente onder die dekmantel van die A-opsie geen kennis van Afrikaans nodig het nie. Ek voel ook dat dit die bestuur van die Ingenieursfakulteit se skuld is dat hierdie situasie ontstaan het waar sekere studente aanvoer dat hulle geen begrip van Afrikaans het nie en dan met moord wegkom. Hierdie studente het twee jaar lank kans gehad om ’n redelike kennis van Afrikaans op te bou deur taalvaardigheidsklasse. Ongelukkig het hierdie studente dan ook bitter min blootstelling aan en oefening in die taal gekry buite hierdie klasse aangesien hulle altyd net kon aanvoer dat hulle nie verstaan nie. Die dosente sou dan agteroor buig om in Engels voort te gaan. Male sonder tal het ek byvoorbeeld onder mnr Pieke se aandag gebring dat die middaguur-sessies in jaar een en twee wat veronderstel was om volgens die T-spesifikasie aangebied te word 99% Engels was, omdat sekere studente aangevoer het dat hulle nie kon verstaan nie. Prof Simonsberg, ek stem volhartig saam met Jean Laponce, ʼn gesiene Kanadese taalkenner, hy sê: “The system is to the advantage of English, Afrikaans being retained as a mere decoration.” Mag ek vra dat u toesien dat u dosente Afrikaans as ’n onderrigtaal aanwend eerder as ’n vensterversiering aan die buitewêreld?

Matiegroete
Adam


2012/2/14 Prof. Simonsberg

Beste Adam

Ek neem kennis van jou epos en aangesien ons volledig aan die jaarboek se A-spesifikasie voldoen, verstaan ek nie regtig wat jou probleem is nie.  Ek stel voor jy maak ‘n afspraak om my te kom spreek.

Groete
Prof Simonsberg


2012/2/14 Adam

Geagte prof. Simonsberg

Dat dit aan ’n slim verdraaiing van die letter van die jaarboek voldoen mag dalk so wees, maar dink u werklik dat dit die gees daarvan nastreef?

Soos ek u interpretasie van die spesifikasie verstaan is Afrikaans dan nou finaal verneder tot slegs 'n gesproke taal en is al die mooi paaiwoorde van oor die jare heen deur Prof Botman werklikwaar net 'n taktiek om dit wat op grondvlak gebeur te verdoesel totdat die laaste lesing by hierdie Universiteit in Afrikaans geskied.

Matiegroete
Adam

3 comments:

  1. Dit is alles 'n illustrasie van die blufspel wat op die Matie kampus aan die gang is. Die rektor sê een ding, en belowe op TV dat Afrikaanssprekende studente in Afrikaans aan Maties kan kom studeer, maar op grondvlak gebeur iets heeltemal anders. Dit getuig van 'n totale gebrek aan beheer en toesig, en telkens kry eentalige Engelse studente hul sin deur te kla "I don't understand Afrikaans,". Dit ten spyte van die feit dat die US Taalbeleid vereis dat studente tweetalig moet wees, en onderwerp sal word aan 'n taalbedrewenheidstoets, alvorens hul tot T-opsie vakke toegelaat word.

    ReplyDelete
  2. Anonymous27/2/12 16:30

    Ag ou Adam. Hoekom val jy vir arme prof Simonsberg hier aan en gaan sien jy hom nie eerder (soos hy jou gevra het) om jou probleem op te los nie?

    ReplyDelete
  3. Plakkies Petoors5/3/12 18:09

    Hier sit ek nou as iemand wat vir Adam moontlik ook klas gegee het. Ek staan self sterk vir Afrikaans en swoeg vele kere om die regte Afrikaanse terme te kry (soms te skep) om die tegnologie aan studente in Afrikaans oor te dra. Dalk moet Adam ook die ander kant sien. Nou het hy meer blootstelling aan Engels (die aanvaarde internasionale wetenskaptaal) gekry en kan dus vir homself 'n beter nessie skrop na hy sy Maties graad gekry het, as andersins.
    In plaas van om vyande te maak (van mede Afrikaanssprekendes) deur stof op te skop, gaan gesels met jou klasmaats en dosente in Afrikaans en behou so die taal. Dit sal bly voortleef deur elke individu wat KIES om dit te gebruik. Geen afdwing van regulasie of taalbeleid sal dit regkry nie.

    ReplyDelete