2012-02-11

Hoekom Engelssprekers na Maties stroom


Dosent (9/2) begaan die glips om te reageer op ʼn berig wat hy/sy klaarblyklik nie deurgelees het nie. Hy verwys na die berig “Meer as 60% van leerders verkies Engelse as medium van onderrig” (DB 8/2), en maak dan stellings dat studente aan die Universiteit Stellenbosch Engelse onderrig verkies. Nóg sy afleidings uit die berig, nóg sy bewerings oor studentevoorkeure vir Engelse onderrig, is korrek.

Die betrokke berig oor taalvoorkeure by Suid-Afrikaanse leerlinge gee dan júís erkenning aan die uitsondering van Afrikaans. “Na raming is Afrikaans 1,1miljoen se huistaal, terwyl 1,3miljoen dit as onderrigtaal verkies.” Só gesien lyk dit selfs asof ʼn beduidende groep Afrikaans-tweedetaalsprekers Afrikaans verkies.

Dosent vertel ook dat net 5 uit 90 studente hul hande opgesteek het toe hy gevra het wie Afrikaanse onderrig verkies. Hy kon netsowel vir hulle gevra het: “Wie van julle wil hê ek moet Afrikaans praat sodat enkele eentalig Engelse persone – wat onder die T-opsie vaandel ingeskryf is – nie die klas verstaan nie? ʼn Vraag wat nog minder reaksie sou uitlok is “Wie van julle is onverdraagsaam en te dom om Engels te verstaan?”

Gelukkig is daar ook goeie navorsing beskikbaar. In 2008 het wyle prof. Lawrie Schlemmer, in ʼn omvattende ondersoek onder studente in opdrag van die US-raad, bevind dat “die beginsel van Afrikaans as leidende taal, met sterk toevoegings en/of addisionele lesings in Engels, die gewildste oplossings is wat in die opname-resultate verskyn.”

ʼn Veel beter vraag vir Dosent sou wees: “Wie van julle verkies voorgraads hoofsaaklik Afrikaanse onderrig op Stellenbosch bó hoofsaaklik Engelse onderrig by die Universiteit van Kaapstad?” Die antwoord hierop laat derduisende Engels-eerstetaal Maties al vir die laaste eeu na ʼn verwelkomende, hoofsaaklik Afrikaanse Stellenbosch stroom.

Geskryf deur Piet le Roux gepubliseer in Die Burger op 11 Februarie 2012

No comments:

Post a Comment