2012-02-12

Laai US-Raad met taalbulle, vra Giliomee

’n Nuwe salvo oor die posisie van Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch (US) is dié week gevuur toe oud-Maties landwyd opgeroep is om drie kandidate tot die US-raad te verkies wat die belange van Afrikaans op die kampus ten beste kan bevorder.

Hulle sal by uitstek sorg dat “die keerpunt vir Afrikaans by Maties wat in sig is”, bereik word.

In ’n ope brief aan lede van die konvokasie (oudstudente) vra die historikus prof. Hermann Giliomee, voorste kampvegter vir Afrikaans op Stellenbosch, dat stemgeregtigdes hul kruisies trek langs die name van mnre. Koos Bekker, uitvoerende hoof van Naspers, Ainsley Moos, redakteur van Rapport se susterskoerant Volksblad, en Piet le Roux, stigter van Maties se Adam Tas-studentevereniging en tans senior navorser by die vakbond Solidariteit.

Die stemmery het verlede Donderdag begin en sluit op 13 Maart.

Die dienstydperk van die verkose kandidate is van 2 April tot 1 April 2016.

Agt kandidate is deur konvokasielede benoem vir die drie vakatures.

Dit het ontstaan vanweë die verstryking van die ampstermyne van Bekker en dr. Adelbert Scholtz (arbeidskonsultant en emeritus-predikant), en die bedanking uit die raad van die menseregte-aktivis dr. Rhoda Kadalie verlede jaar.

Bekker en Scholtz het hulle weer beskikbaar gestel.

Die ander kandidate is Moos en Le Roux, mnr. Omar Henry (voormalige nasionale krieketspeler en uitvoerende hoof van Boland Krieket); mnr. Le Roux van der Westhuizen (uitvoerende hoof van die Millennium Trust); dr. Prieur du Plessis (voorsitter van Plexus Batebestuur); en me. Sanet Nowers (direkteur in die Wes-Kaapse Onderwysdepartement).

Giliomee vra in sy brief stemme vir Moos, Le Roux en Bekker “omdat hulle hulle uitstekend van hul taak as raadslede sal kwyt. Benewens die voertaalkwessie vereis ander aktuele sake – transformasie, die outonomie en uitbou van die universiteit, finansiële verantwoordbaarheid, asook internasionale gehalte met Afrikaans as voertaal – kundige raadstoesig.

“Ek glo dié drie kan in al dié gevalle belangrike bydraes lewer. Dis nodig om bekwame lede te kies om hulle by ander raadslede te voeg om te verseker Afrikaans beklee sy regmatige plek aan die US – ook dat die US onder die top-universiteite in die land bly en dat sy internasionale aansien verder uitgebou word.”

Giliomee sê die stand van Afrikaans aan die US is vir alumni belangrik:

* Sedert 2006 beywer die konvokasie- en donateursverkose raads­lede hulle vir ’n beleid om Afrikaansmedium-onderrig aan die US ’n vaste en volwaardige plek te gee. 
“Die openbare telbord wys tot dusver is geen wesenlike vordering gemaak nie.”

* Tussen 2004 en 2011 het voorlesings in Afrikaans van 75% na 37% afgeneem.

* Dubbelmediumklasse (T-opsie), “wat in sowat 50% van klasse toegepas word, is ’n onderrigmodus wat nie deur gerespekteerde Europese of Amerikaanse universiteite gebruik word nie”.

* Die US-konvokasie het einde verlede jaar ’n mosie aanvaar waarin die US-raad gevra word “vir ’n dringende, volwaardige plek vir Afrikaans in alle fakulteite en, indien Engels ook aangebied word, dit deur tolking of parallelmedium geskied”.

* Die US-raad het ’n verslag aanvaar waarin die meer uitgebreide gebruik van gelyktydige tolkdienste aanbeveel word. “Die raadslede wat deur die konvokasie en die donateurs verkies word, kan sorg dat tolkdienste wyer ingestel word.”

Giliomee skryf voorts:

“Die stryd om Afrikaans op die Matie-kampus is lank nie verby nie. Ons glo ’n keerpunt is in sig. “Bekwame raadslede is nodig om te verseker dat Afrikaans sy regmatige plek aan die US beklee, dat die US onder die top-universiteite in die land bly en dat sy internasionale aansien verder uitgebou word.”

DEBAT OOR AFRIKAANS AS HOOFONDERRIG- EN VOERTAAL 

* In die Wes-Kaap praat die meeste mense Afrikaans (56%), naas Xhosa (23,7%) en Engels (19,3%).
* Afrikaans (13%) is die derde grootste moedertaal in Suid-Afrika, naas Zoeloe (24%) en Xhosa (18%).
* Die wit en bruin Afrikaanse gemeenskap van die Wes-Kaap het ’n grondwetlike reg om ’n volwaardige Afrikaanse universiteit te hê.
* Twee van die drie universiteite in die Wes-Kaap (Universiteite van Kaapstad en Wes-Kaapland) is Engels.
* Die US is geposisioneer om in Suid-Afrika dié vooginstelling te wees vir Afrikaans se status as akademiese taal: Maties se geskiedenis is nou vervleg met Afrikaans.
* Afrikaans is ’n gevorderde, volledig ontwikkelde vak-, wetenskap- en literêre taal.
* Die Matie-kampus is in ’n gebied van oorwegend Afrikaanssprekendes geleë.
* “Die taaldebat op Matieland is nie net ’n geografies beperkte kwessie nie, dit gaan oor die voortbestaan van Afrikaans.” – Prof. Christo Viljoen, konvokasie-voorsitter
* Twaalf Afrikaanse organisasies (ledetal 500?000) wil hê Afrikaans moet ’n volwaardige plek in alle US-fakulteite kry.
* ’n Opname van die SAOU toon die behoefte aan Afrikaans as opleidingsmedium op universiteitsvlak wissel van 100% tot 77% (gemiddeld 87%).
* Die T-opsie (tweetalige lesings) “is pedagogiese onsin”. – Wyle dr. Frederik Van Zyl Slabbert
* “Op wie kan Afrikaans vertrou? Op gewone mense soos die konvokasie en sommige studente.”  – Mnr. Koos Bekker, Oktober 2005 

1 comment:

  1. Anonymous16/2/12 13:57

    Die term "Taalbulle" is kennelik deur 'n subredakteur van Rapport ingevoeg en kom nie in die berig self voor nie. Dit is vernederend en ongevraads, en iemand soos Koos Bekker sal beslis nie gelukkig wees daarmee nie. Buitendien roer 7 van die 8 kandidate vir die US Raadsverkiesing die kwessie van Afrikaans as onderrigtaal aan die US aan, en sou al 7 dus seker as "Taalbulle" beskryf kan word.

    ReplyDelete