2010-02-17

Onthou Koos Bekker se punt

Keira, wat's jou ringtone?
26/10/2005 07:39 - (SA) Die Burger

As Stellenbosch sou verengels, kies die universiteit die roete van papbroekigheid, skryf Koos Bekker.

DIE gedoente van die laaste paar weke op Stellenbosch gaan oor verskeie dinge. Maar waaroor dit nie gaan nie, is die reg van enige student in Suid-Afrika wat wil, om in Engels te studeer.

Daar is vandag sowat 20 universiteite in Suid-Afrika. Van hulle het sowat 15 Engels as voertaal en verskeie van die oorblywende 5 toenemend ook. Die vraag is of daar enige universiteit behoort te wees vir studente wat, for better or worse, graag deur die voertaal van Afrikaans wil studeer.
[redakteursnota: daar is in 2010 eintlik net 4 wat oorbly, die Universiteit van Johannesburg het vir alle praktiese doeleindes Engels as voertaal; foto van Naspers-webblad]

So tussen die eike deur skiet die geleerdes tans op mekaar met T- en A + E-opsies. (Akademici is betrokke: Gun hulle 'n paar intellektuele pirouettes.)

Dit tref mens dat die meeste goeie universiteite wêreldwyd veeltalig is, in die sin dat die Sorbonne ook sekere klasse in Hindi aanbied, of Wits sekere periodes in Frans. Die vraag op die Akker is dus nie of bepaalde tale êrens in 'n klas aangebied word nie, maar wat die gemene voertaal is: Wat praat die SR op sy vergaderings, Die Matie in sy koerant, die subkomitee in die chemie- departement, waarin formuleer jy die openingsin op Eendrag se huisvergadering?

AS mens eenmaal besluit het die lingua franca behoort Afrikaans te wees, dan volg 'n paar dinge. Byvoorbeeld, dat die skep van parallelle leerbane in Afrikaans en Engels die dood in die pot is. As 'n student op Stellenbosch kan aankom en weet dat hy van die eerste tot die laaste klas nooit Afrikaans hoef te leer nie, kan Stellenbosch tog nooit Afrikaans as voertaal volhou nie.

Wanneer daardie student eendag tot die SR verkies word, gaan hy nie aandring op die reg om self Engels te gebruik nie (dít kan hy dekades al doen). Hy gaan sê ek ontneem jou nou die reg om Afrikaans te praat op enige vergadering waar ek teenwoordig is: Dis nie meer 'n verpligte vak op skool nie, ek het dit nooit hier op Stellenbosch geleer nie, en ek verstaan eenvoudig nie wat jy daar sê nie. (Tolkdienste of tegnologie kan so iets nooit oplos nie.)

As alternatief word Afrikaans en Engels om die beurt in dieselfde klas gepraat. Die vraag is hoe lank, in 'n situasie waar Afrikaanstalige studente se begrip van Engels byna altyd soveel beter as die omgekeerde is.

OM dan tot die kern deur te dring: Behoort Stellenbosch oor 10 jaar nog Afrikaans as lingua franca te hê?

Die vermoë om meer as een taal/kultuur te bemeester en daarin te leef, beteken veel meer as om die beste tagliatelle in Salerno te kan bestel.

Dit gaan ook oor 'n verruiming van jou kop. Elke moderne kind kry oorvloedige blootstelling aan die Anglo-Saksiese kultuur deur die media (ook deur ons s'n); om dan groot te word in 'n ander taal of kultuur is 'n bonus. (Ek dink soms een probleem met George Bush is juis die selftevrede smirk in 'n Anglo-Saksiese kokon; tot die tande bewapen en geslote vir elke ander uitgangspunt).

Dit sou my, byvoorbeeld, groot plesier gee as een van my nefies ná Stellenbosch sy visie te Sjanghai gaan verbreed in Manderyns of te São Paulo in Portugees.

'n Vraag: Is daar dalk 'n argument voor uit te maak dat die wens om in Afrikaans te studeer so irrasioneel is dat dit studente verbied behoort te word, selfs al sou die persoon dit self wou hê? (Min of meer soos ons met kinderpornografie of tik doen.) Steek daar waarde in 'n siening dat niemand effektief in ons ekonomie kan werk as hy nie deur die medium van Engels opgevoed word nie?

Ek lees terloops verlede maand op pad van San Francisco af 'n boekresensie in die Wall Street Journal. Die artikel borrel oor die mooi Engelse prosa van 'n skrywer wat in Wene opgevoed is. Dit verwys dan na Londen van die 1950's en na "the community of European emigré intellectuals who dominated the universities, filled the better magazines and newspapers with dazzling prose and broadcast regularly on radio and television. They gave British culture, which in those days tended to be dull and gray, a cosmopolitan flavour, rather as Londoners of Asian, African and Caribbean ancestry do now."

Talle skrywers in Engels is natuurlik in ander tale opgevoed. Die brutaalste toets vir jou taalvermoë is seker in die ope hof, op jou voete, onder kruisverhoor. Onder ons beste tien advokate in Suid-Afrika - wat meestal in Engels argumenteer - tel vandag seker 'n groter porsie Afrikaans-opgevoedes as Engelsopgevoedes: Fanie Cilliers, Schalk Burger, Altus Joubert, Wim Trengove, Jeremy Gauntlett om enkeles te noem. Ekskuus, waar het hulle klasgeloop, en in watter taal?

Soos talle van my tydgenote het ek ook op Stellenbosch studeer, later aan Wits en toe oorsee. Die tyd op die Akker was ryker en voller, en ek het vinniger ontwikkel. Hoekom? Net anekdoties, maar miskien hang dit saam met die feit dat mens, voor jy in die wêreld uitgaan, eers moet weet wie jy is en daarmee vrede maak. Of met die feit dat jy in jou huistaal konsepte op 'n grondiger manier leer verstaan? Weet nie, maar navorsing wys telkens beter resultate vir opvoeding in jou huistaal.

MENSE dink soms dat sekere maatskappye dalk geld maak uit Afrikaans. Ek twyfel of dit 'n faktor is. Byvoorbeeld: Net sowat 12% van Naspers se omset word in Afrikaans bedryf - die res in Engels (die meeste), Grieks (10%), Chinees, Thai, Zoeloe, Pedi, Frans, Portugees, Hindi, ens. As 'n leser ophou om Huisgenoot te koop en liewer 'n You of 'n Drum of heat van die rak afhaal, dan skeel dit finansieel geen duit nie. Ons verkoop daagliks ook meer koerante in Engels as in Afrikaans.

Geen groot maatskappy waaraan ek kan dink, sal 'n vinger lig om Afrikaans te beskerm nie. Die redes om so 'n taal/ kultuur te koester, hou nie verband met geld nie. Eerder met die gemeenskap wat ons wil wees, met ons wortels in Afrika en met die verhouding van wit en bruin Afrikaanssprekende lede van dieselfde huisgesin.

Afrikaans moet dus op handelsprinse nie vertrou nie. Maar miskien ook nie op alle akademici nie. Soos die meeste van ons, doen hulle ook maar onder druk hul daaglikse job.

As 'n lektor in fisika verplig word om sy notas in twee tale op te stel en elke term deurlopend moet vertaal, en nie 'n sent ekstra daarvoor betaal word nie; dan ontbrand daar gou 'n motivering om na een taal oor te slaan, en die enkeltaal gaan nie Afrikaans wees nie.

Op wie kan Afrikaans dan vertrou? Mens vermoed liewer op gewone ouens, die sprekers, die konvokasie van oud-studente, sommige huidige studente, skoliere wat graag êrens in Afrikaans wil studeer.

WAT van globalisering, vra 'n antie beangs: Sê my, jong, gaan almal wêreldwyd nie eners word en net Engels praat nie? My aanvoeling is dat alle gekultiveerde mense ter wêreld oor 'n paar dekades Engels sal kan verstaan, en sal selfone dra, en af en toe 'n hamburger sal eet. Maar die golf van globalisering skep ook teengolwe, waarvan party gunstig vir plaaslike taal en kultuur is.

Mens kan dit miskien ten beste illustreer aan die hand van 'n ander globale tendens, soos die gebruik van selfone.

In die ou dae, toe die goed nog skaars was, sou dit 'n groot prestasie wees bloot om een te hê (lees: om Engels te praat). Jy't nie omgegee dat jou swart baksteentjie nes al die ander s'n lyk of lui nie, en dus geen individualisme gehad het nie. Maar noudat ons almal selfone het, kom die teengolf. Nou soek elk van ons identiteit: 'n onderskeidende styl (kyk my blou Nokia 7710). Ons soek elkeen ons eie ringtone. (Binnekort kom jou eie avatars en jou eie muurpapier en emosikon en caller tune: jou selfoon word só jy.)

Dieselfde gaan met taal en kultuur gebeur. Dis iets om Engels te kan praat tot almal dit kan doen; dan word dit vanselfsprekend en ons soek identiteit. (Stel jou voor die robotjie R2-D2 vra jou kleinkind in die jaar 2020: "Wie's jy?"

"Ek's 'n nommer en ek praat Engels," fluister jou kleinkind.

"OK," sê R2-D2, "maar vertel my iets oor jouself wat interessant of uitsonderlik is: waar kom jy vandaan, wat's jou kultuur, wat maak jou 'n mensch?")

DAAR word soms gesê uitnemendheid is eintlik die issue: In Engels kan jy meer uitnemend/funksioneel/effektief doseer. Uitnemendheid is goddeliker as Keira Knightley en Angelina Jolie ineengerol; buig die knie, O Afrikaanse luis.

Werklik? Die teken van 'n beskawing is dikwels dat hy iets nie op die effektiefste manier doen nie. Dis hoekom ons nie seniors uitsit die dag nadat hulle afgetree het nie, maar miljarde aan hul gesondheidsorg bestee hoewel hulle ekonomies- funksioneel 'n las is. Waar pas godsdiens of kuns of die beskerming van vroue in as brutaal-effektief die enigste maatstaf is?

Suid-Afrika het nie elf tale in sy Grondwet verskans omdat dit effektief is nie - dis sekerlik nié. Ons het dit gedoen om erkenning te gee aan kulturele diversiteit en sentiment. Dis soos 'n beskaafde land werk. Ons beswaar teen Nazisme is nie dat dit oneffektief was nie: inteendeel, die masjien van Auschwitz het uitnemend gewerk. Mens skop teë omdat dit - hoe effektief ook al - uit 'n morele oogpunt verkeerd is.

Nou word daar soms ook politiek-morele motiverings vir Engels aangevoer. Party is verrykend. Een argument kan mens miskien ten beste beoordeel vanuit die sterrehemel, sê maar uit die oogpunt van iemand wat op Mars staan: Kyk, daaronder aan die suidpunt van Afrika, daar teen die voet van die berge, in 'n groen kol onder die eikelower, lig een ou 'n wysvinger op en sê vir die ander ou: "Ons universiteit sal meer eg lojaal teenoor ons land wees as ek die lingua franca verander van 'n taal van Afrika na 'n taal van Europa". Soos die tieners sê: Hal-lo. (Of dit in die 21ste eeu überhaupt nog aspirerend is om 'n Europeër te probeer wees, weet ek nie. Europa is 'n moeë ou brontosaurus in die wêreldekonomie. Die toekoms lê in dim sum en roti, nie in yorkshire pudding nie: Vlieg oos, jongman.)

SOMS sê iemand, sotto voce, hy hoor die president of die ANC wil heimlik hê dat Afrikaanse universiteite moet verengels. Aah. Sover ek weet, het die president in hierdie opsig nog altyd onberispelik opgetree. Vra vir Willie Esterhuyse of enigiemand anders met gereelde toegang: die president het 'n hoë agting vir die funksie van Afrikaanssprekendes in ons ekonomie. Ook vir die rol wat dié taal speel om 'n groot klomp wittes en bruines 'n bietjie hegter aan hierdie kontinent te anker. Dít ongeag die feit dat hoë akademici van verskeie universiteite hom verseker het dat alles hunky-dory op hul kampusse verloop. Veral dat, ondanks Jakes Gerwel se aanbeveling, niks van owerheidsweë asseblief gedoen moet word om enkele kampusse vir Afrikaans te oormerk nie.

NOU wat moet 'n ordentlike mens dan dink van al die T/A&E-opsies en ander akronieme - is die taalkomitee van die US vir die verwarring te blameer? Ek weet nie; hulle lyk oorwegend na welwillende mense wat van dag tot dag met praktiese probleme worstel. Maar ons sal hulle duidelike leiding moet gee oor ons doelwit op lang termyn.

As Stellenbosch homself as tweetalig begin projekteer - of slegs binnensmonds- mompelend Afrikaans wil wees - kan hy dit nooit bly nie. Ten einde sy kommunale funksies Afrikaanstalig te hou, sal hy helder en selfversekerd moet sê dat hierdie 'n Afrikaanstalige universiteit is en dis waarom ons Afrikaans praat wanneer ons byeenkom. Anders gaan die argument onstuitbaar word: Ag, ons almal in hierdie byeenkoms van ons tweetalige instelling is Engels magtig en alle lede is nie ewe gemaklik in Afrikaans nie, sal ons vanoggend maar Engels praat? Enigeen wat nie Engels verstaan nie?

'n Interessante stukkie dinamiek vloei uit die voertaal na die bruin gemeenskap. Stellenbosch kan nie Afrikaanstalig wees en wit nie. As hy Afrikaans wil praat, lê dit 'n verpligting op sy skouers om uit te reik en bewustelik, op groot skaal, taalgenote uit die bruin gemeenskap te werf. Hy sal aan hulle beurse moet gee; na hulle moet luister; hard moet werk aan integrasie. As die taal vervang word, breek dié hefboom: 'n Engelstalige Stellenbosch sal maklik 'n klompie swart-swart en Indiër- studente trek. Mooi, maar uit 'n nasionale perspektief gesien, is dit kwalik 'n prestasie omdat 15+ universiteite reeds hierdie groepe as primêre teiken koester.

Stellenbosch lê egter in die hart van die Wes-Kaap, waar die meerderheid mense bruin is en 80% van hulle praat tuis Afrikaans. Nou is Afrikaanstalige bruines dié demografiese groep van almal in die land wat die laagste aan universiteite verteenwoordig is - swakker as swart-swart studente. Indien Stellenbosch as Afrikaanstalige, Wes-Kaapse universiteit nie teenoor hierdie jong mense 'n spesiale verpligting het nie, wie dan? Sonder Afrikaans sal daar prakties gesproke geen hefboom wees om Stellenbosch meer vir die bruin gemeenskap te laat doen as wat die wet voorskryf nie, en dis maar min.

Miskien is ek romanties, maar die idille wat Jan Rabie in sy (soms middelmatige) romans voorhou, is vir my aantreklik. Dalk kan die wit Afrikaanssprekende vir sy bruin broer sê: Ou maat, daar is 300 jaar lank teenoor jou onreg gepleeg. Kom ons hef mekaar op: Ek help jou materieel, soos om die kinders te laat leer, en jy help my om my selfrespek te herwin. Só kan ons dalk saam 'n verdraagsame gemeenskap in die Wes-Kaap bou, en nog beter burgers van Afrika word.

As Stellenbosch sou verengels, kies hy myns insiens die roete van papbroekigheid. Dit keer in die praktyk die rug toe op ons wortels in Afrika en op ons bruin boeties en sussies. Watse soort gemeenskap bou ons só in die Wes-Kaap?

Koos Bekker is besturende direkteur van Naspers. Hy dien in die raad van die Universiteit van Stellenbosch, in die International Marketing Council van die presidensie en in die SA 2010 Soccer World Cup LOC. Hy skryf alleen in sy persoonlike hoedanigheid.

1 comment:

  1. Anonymous1/3/10 10:49

    Gaaf dat 'n Naspers-grootbaas so 'n reguit standpunt oor heirdie saak inneem.

    ReplyDelete