2009-09-21

Afrikaans en die voertaal-voetbal in Suid-Afrika:`n Storie van taalblyers en taalglyers

Die voetbal van voertaal
Deur Hermann Giliomee
Stryd rondom taal, veral voertaal in skole en universiteite, staan sentraal in die geskiedenis van Suid-Afrika. Tussen 1910 en 1932, toe die twee blanke gemeenskappe mekaar nog as verskillende “rasse” bestempel het, het koerante soos The Star en sekere politici die Afrikaanse taalaktiviste as “rassiste” bestempel wanneer hulle die eksklusiewe gebruik van Engels in hofsake, regulasies en opvoedkundige instellings bevraagteken.
Die gevierde skrywer C.J. Langenhoven, het toe die sleutelvraag aan `n Engelssprekende politikus gestel. ‘Hoekom is my politiek altyd rassisme en jou rassisme altyd politiek?’
Op 16 Julie 2009 het dr. Blade Nzimande, Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, uitgevaar teen mense wat die verskanste regte van die Grondwet manipuleer om op rassistiese manier swart studente uit te sluit. Volgens hom gebruik taalaktiviste konstitusionele regte om swart studente van Afrikaanse enkelmedium skole en universiteite uit te sluit.
Ministers wat sulke taal gebruik is of onkundig of moedswillig. Die Grondwet bepaal dat daar `n reg is tot onderrig in enige van die elf amptelike tale mits dit prakties moontlik is. Die regering probeer nietemin voortdurend om skole of universiteite wat oorwegend of heeltemal Afrikaans-medium is, te dwing om “toegang” aan swart kinders te bied. Daarmee bedoel dit `n aanbod van Engels-medium klasse hetsy in parallelmedium (twee aparte strome van Afrikaans-medium en Engelsmedium) hetsy in dubbelmedium (twee tale afwisselend in een klas). Die Appélhof het in `n uitspraak die grondwetlike reg tot Afrikaanse enkelmedium instellings bevestig, maar laer howe het botsende uitsprake gegee.
Wat vir die minister en sy amptenare tel, is toegang vir swart studente in Engels in die ou Afrikaanse universiteite sonder dat die staat daarvoor ekstra betaal. En omdat die Afrikaanse gemeenskap verdeel en versplinter is, hang die toekoms van Afrikaans aan universiteite af van mense wat besef hoe belangrik dit is om, op grond van sowel pedagogiese as taalredes, te sorg dat daar ten minste voorgraads `n vaste en volhoubare plek vir Afrikaans is. Hierdie artikel sal die agtergrond van die nuwe taalstryd skets.
Vir die volledige artikel, klik hier.

2009-09-19

Deur ’n spieël in ’n raaisel?


Marie Heese skryf (BY, 19 Sept. 2009):
Met ’n swaar gemoed het ek uit die raad van die Universiteit Stellenbosch (US) bedank.
Die konvokasie het my daar geplaas op grond van my standpunt dat transformasie nagestreef behoort te word, maar deur die medium van Afrikaans.
Ons het ’n grondwetlike reg en ’n morele plig om vir studente van alle rassegroepe wat in Afrikaans wil studeer, dit minstens voorgraads moontlik te maak. Ek sal nie voortgaan om in ’n raad te dien wat dit nie wil verseker nie.
Die raad van die US bevind sigself vandag, soos Alice wat deur die spieël geklim het, in ’n agterstevoor wêreld. Lewis Carroll se Rooi Koningin kon ses onmoontlike dinge glo voor ontbyt. Ek kan nie.
Lees die volledige artikel hier.
Lees ook: "Heese, Mouton bedank oor 'US te wit, te Engels' is", Rapport, 2009-09-20 deur hier te klik.