2010-07-22

Das war ein Vorspiel nur

Maak US-beleid duidelik (Brief, Die Burger, 6 Augustus 2003)

IS dit te veel gevra om van die Universiteit van Stellenbosch te verwag dat opgehou word met die bontpratery oor die kwessie van Afrikaans as voorgraadse onderrigtaal?

Volgens die spesiale uitgawe van die personeelblad Kampusnuus van 24 Julie bepaal die onlangs aanvaarde taalbeleid van die US dat Afrikaans "by verstek"/"outomaties" die leer- en onderrigtaal vir alle voorgraadse onderrigprogramme en -modules is; dat "net in heel spesifieke, veral deeglik gemotiveerde gevalle" hiervan afgewyk kan word en dan "slegs indien die taalkomitee dit sou goedkeur".

Die "beperkte opsies" is in dié verband moontlik die "Engelse opsie" (Engels as "primêre"/enigste onderrigtaal), die tweetalige opsie en die parallelmedium-opsie.

Dit lyk vir my glashelder: Engels (alleen, saam met Afrikaans, óf parallel met Afrikaans) word voorgraads slegs by uitsondering gebruik.

Hoe rym dit dan met volgende stellings in 'n bylae wat op 3 Augustus in Rapport en City Press verskyn het?

. Op bl. 19 staan: "Behalwe in uitsonderlike gevalle word formele lesings in die eerste en tweede jaar in Afrikaans en Engels (my kursivering) aangebied. In die derde jaar is dit in Afrikaans."

. In 'n Engelstalige advertensie van die fakulteit geesteswetenskappe op bl. 18 word dit woordeliks herhaal: "Except in exceptional cases . . . offered in Afrikaans and English."

Wat het ons hier? 'n Glipsie? 'n Nuwe taalbeleid? Bloot 'n foutiewe vertolking van die bestaande beleid? Dalk 'n poging om die beleid na buite meer "aanvaarbaar" te laat klink?

Dit verg nie 'n genie om te sien dat die genoemde stellings drasties van die amptelike beleid afwyk nie. Voornemende studente kan hierdeur onder 'n vals indruk gebring word.

M.K.R. VAN HUYSTEEN
Stellenbosch

Klik hier vir die oorspronklike.

2010-06-07

'US: probeer tolkdienste!' - 'n oorwoë pleidooi

Marius Swart, dosent aan die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Stellenbosch, het by die Adam Tas Taalsimposium van die Woordfees 'n belangrike en deeglike pleidooi vir die wenslikheid van tolkdienste gelewer:
"Vertaal- en tolkdienste kan studente en dosente in staat stel om, binne die raamwerk van Afrikaans en Engels as hooftale wat in die universiteit se meertalige taalbeleidsraamwerk genoem word en waarmee ons hier  vertroud is, die taal van hul keuse te gebruik en hulle daarin uit te druk. Daarmee saam kan dit lei tot die behoud van Afrikaans as dinamiese wetenskapstaal, asook die uitbou van ons derde provinsiale taal, Xhosa, as wetenskapstaal. Hierdie voordele, asook verskeie ander, is al deur empiriese navorsing aan die NWU bewys (Verhoef, 2006:94)."
Klik hier vir die volledige artikel.

2010-05-21

Van Zyl Slabbert en die onthullingsbrief

Op 22 September 2005 het Frederik van Zyl Slabbert, Hermann Giliomee en Breyten Breytenbach die stille uitbreiding van die T-opsie op Stellenbosch onthul. In die daaropvolgende ses maande is meer as 300 briewe daaroor in Die Burger gepubliseer. Hier volg hulle oorspronklike brief:

Die Fakulteit van Lettere en Wysbegeerte van die Universiteit van Stellenbosch het die verreikende besluit geneem om voortaan in alle kursusse Engels op `n benaderde 50-50 basis saam met Afrikaans in dieselfde klas as voertaal te gebruik. Dit is die sogenaamde tweetalige of T-opsie. Dit word ook dubbelmedium genoem in teenstelling met parallelmedium waar afsonderlike klasse in Afrikaans en Engels as voertaal gebruik word. 
Dit staan in skerp kontras met versekerings wat die laaste jare gegee is. Op 24 September 2002 het die rektore van die vyf Histories Afrikaans universiteite hulle verbind tot die “behoud en uitbouing” van Afrikaans as onderrigtaal. In die taaldebat aan US daardie jaar is allerlei formele en informele beloftes gemaak dat die T-opsie streng beperk sal word. By die US se Konvokasie-vergadering in November 2002, het die US Rektor, prof. Chis Brink gesê: “Ons het nou ‘n nasionale taalbeleidsraamwerk wat ruimte gee vir die strategie om Afrikaans as primêre onderrigmedium te gebruik. Dit beteken dat, tensy andersins gemotiveer en besluit, voorgraadse modules outomaties in Afrikaans gedoseer word.” `n Mens kan byvoeg dat die onlangse Appélhofuitspraak oor die Mikro-saak aan US die grondwetlike basis gee vir Afrikaanse enkelmedium onderrig. 
Prof Brink het in 2002 aan die Konvokasie beloof dat hy nie sal toelaat dat Afrikaans op `n “onwillekeurige glybaan” beland nie. Tans word in die Fakulteit van Lettere en Wysbegeerte die helfte van die kursusse in alle jare en die meerderheid van die kursusse in die derde jaar gedoseer met Afrikaans as die enigste voertaal (die sogenaamde A-opsie). Met die jongste besluit gly Afrikaans na slegs 50 persent van alle kursusse. 
En dit sal nie die einde wees nie. Aan die Universiteit van Pretoria doseer die meeste departement van die Fakulteit van Lettere en Wysbegeerte net in Engels ten spyte daarvan die beleid formeel dubbelmedium is. 
Prof. Niek Grové, registrateur van UP, sê dat daar nou die besef gekom het dat “pragmatisme in taal gevaarlik is.” Die universiteit het pas besluit om weer te besin oor die voertaalbeleid. 
Die kampusse op Bloemfontein en Potchefstroom het doelbewus besluit om die dubbelmedium as opsie te vermy omdat dit gevaarlik vir Afrikaans is. Wanneer sal Stellenbosch soos UP agterkom dat die T-opsie gevaarlik is? En sal dit dan te laat wees?