2011-06-11

Taaldebat vlam weer op met groep se mosie teen US-bestuur

Stellenbosch - Die Maties-taaldebat het weer opgevlam toe ’n groep huidige en oud-Maties kennis gegee het dat hulle ’n mosie van wantroue in die universiteitsbestuur gaan instel.

Dié mosie sal Donderdag op die algemene jaarvergadering van die konvokasie van die Universiteit Stellenbosch (US) bespreek word.

Dit handel oor die US-bestuur se hantering van Afrikaans, het mnr. Ernst Marais (26), doktorale regstudent, gesê.

“Ek het die mosie Vrydag by mnr. Johan Aspeling, die registrateur van die universiteit, ingedien. Dit is ondersteun deur handtekeninge van om en by 30 huidige asook oud-Maties. Almal is jongmense. Die mosie is nou aangebring op die agenda van die konvokasievergadering wat Donderdagaand gehou word.”

Sy sekondant is adv. Jacques du Preez (30), ’n oud-Matie.

Prof. Pieter Kapp, voorsitter van die Konvokasie, het gesê die hele storie is vir hom “?’n totale verrassing”.

Marais het hul mosie só gemotiveer: “Daar is ’n daadwerklike behoefte en ’n aanvraag onder hedendaagse jong Afrikaanssprekendes om universiteitsopleiding in hul moedertaal te ontvang. Dit is wetenskaplik bewys dat kennisverwerwing die beste in mense se moedertaal geskied.

“Dubbelmedium (die sogenaamde ‘T-opsie’) misluk in hierdie opsig omdat dit nie behoorlik gemoniteer word nie en dit tot die verengelsing van die US lei.”

Prof. Hermann Gilliomee wat bekend daarvoor is dat hy die vorige taaldebat sterk gedryf het, wou nie veel verdere kommentaar lewer nie. Hy het wel gesê: “Ek is bly daaroor dat jonger mense nou die saak weer opneem. Uiteraard ondersteun ek die inisiatief.”

Prof. Kapp het gesê: “?’n Mosie moet ingedien word. Ons het die mosie Vrydag (betyds, voor die voorgeskrewe 72 uur vóór die algemene jaarvergadering) ontvang en het wel gekontroleer of almal bona fide lede van die konvokasie is. Die uitvoerende komitee vergader eers Woensdag en daar mag moontlik prosedurekwessies geopper word.”

Mnr. Mohamed Shaikh, universiteitswoordvoerder, het gesê: “Die mosie is volgens alle aanduidings gegrond op foutiewe aannames. Buitendien hou die US-raad toesig oor die implementering van die taalbeleid en besluite is deurlopend gemik op die bevordering van Afrikaans as akademiese taal in ’n meertalige konteks.

“Beteken so ’n mosie dat lede van die konvokasie die integriteit van die US-raad betwyfel wanneer dit by Afrikaans as onderrigtaal kom?”