2010-05-18

Surrealisties, but not nice

“Surrealisties” het ek gedink, en meer en meer so na gelang die voordrag aangehou het. Dit is dan surrealisties in die sin van Sewe Dae by die Silbersteins eerder as die “surreal but nice” van Notting Hill. Daar was ons groupie mense, minder as wat ek gedink het ons sal wees, bymekaar by in die Reform Club in Pall Mall, tussen die tradisionele engelse “jintelmans” clubs, die duur restourante, duur mansklerewinkels, kunswinkels en hoë klas bordele van St James’s (die een waar Fergie se pa betrap was was net oorkant die straat).

En daar staan en praat en praat hulle, of eerder, spreek hulle ons toe. Dis nou die Rektor en Visie Kansellier van Stellenbosch Prof Botman en Prof Lubbe van die Regsfakulteit. Die geleentheid was ‘n onthaal vir Stellenbosch alumni en vriende, en ons het daar gestaan en luister en wag. Maar waarvoor ons gewag het, het nie gekom nie. Tydens beide die twee universitietsamptenare se voordragte, nie een word Afrikaans nie! Ek moet erken dat ek verstom was, en toenemend so soos hulle die universiteit se nuwe strategiese plan uiteengesit het. Nie eers ‘n paar woorde om te se wel hier is ons nou in Engeland so ons praat Engels nie. Not so much as a “by your leave”, soos hule hier sê. Niks.

Ek dink toe aan daai Bok van Blerk liedjie “So waai die wind”, waar hy sing oor sy oupa wat praat oor Afrikaans wat verdwyn op Maties, en ek wonder toe of my “tyd” ook maar net verby was, is ek en mense soos ek nou geskiedenis? Is ek so vêr “agter die tyd” met die dat ek al so lank in die VK leef en werk?

Maar ek kon myself nie keer nie en toe die twee here se voordragte verby was, en hulle nooi nie vrae van die gehoor uit nie, moes ek my hand opsteek en my verbasing uitspreek. Ek was verstom. Albei se moedrtaal is Afrikaans, maar nie ‘n woord nie.

Prof Botman gee toe ‘n lang uitleg oor wat alles aan die gang is, oor hoe “duur” Afrikans is, oor hoe die internasionliserende Afrikanse maatskappye nie vir die Universiteit geld gee nie, bevolkingsgroei tendense ens. ens. en hule ‘n multikultuele en multitalige toekoms voorsien (is afrikaans nie een van daai tale of kulture nie?). Maar die vraag oor waarom niks Afrikaans gepraat is deur hom en Prof Lubbe nie bly onbeantwoord.

Na die “formele” deel van die aand, die twee twee menere se voordragte, oor was, het een engels-sprekende ou wat lyk soos ‘n mengsel tussen Ginger Baker en Richard Grant op my afgestorm en gesê (in Engels) dat as ek so sterk voel oor Afrikaans, hoekom gaan bly ek nie in Suid Afrika nie? Ek moet erken dat ek nie juis sien hoe die twee goed met mekaar verwant is nie, maar dan moet ek ook erken dat ek vir my eerste rekeningkunde eksamen op Wits in 1974 – 8% gekry het, so my vermoë in daai opsig is nie juis so wonderlik nie.

‘n Ander ou storm toe op my af en begin aangaan oor hoe siek en sat hy was vir die NGKerk en Afrikaner nasionalisme en toe ek met hom saamstem besef hy dat hy miskien iets anders gehoor het as wat ek gesê het. Toe verstaan ons mekaar beter.

In die loop van die aand het daar nog baie intressante gesprekke plaasgevind, onder andere met ‘n oud-Matie wat half Afrikaans en half Amerikaans is met ‘n Bulgaarse vriendin (hy was baie bly dat hy kon met ons kon Afrikaans praat, ek en die vriendin het gepraat oor Serbië, die Seven Daughters of Eve en my DNA famielie in Bulgarye - die kinders van Jasmine), ‘n Afrikaanssprekende Sweed wat op Maties gestudeer het het gesê dat die Swede nooit hulle taal so sou laat gaan nie – ons het lekker gesels oor die monument vir die Sweedse vrywilligers by Magersfontein; ‘n oud-Matie meisie wie se man vir ‘n Japanese maatskappy werk wat in Belgie bly; ‘n Nederlandse industrialis met wie ek gesels het oor sy Spitfire jare, sailor Malan en die Biggin Hill lugbasis, asook hoe ek deur iemand in Italie verwar is met Ian Smith, ‘n bekende RAF loods wat in noord Italië (naby Cuneo/ Dronero) afgeskiet is. Daar was ‘n selfoon gesprek met ‘n voormalige visie rektor oor Afrikaans (maar toe het ek al heelwat wyn in gehad), so ek kon nie so goed volg nie; en nog baie ander geselligheid met onder andere die broer van ‘n voormalige kollega van die dae toe ek nog in Italië gewerk het.

Maar een ding wat vir my nogal treffend was, is dat seker die helfte van die mense wat daar teenwoording was, op een of ander tyd in die loop van die aand my kom gelukwens het dat ek gesê het wat hulle almal gedink het ... waarom is niks Afrikaans gepraat deur die universiteitsamptenare nie? Nogal intressant. Heelwat om oor te dink gedurende my treinrit huis toe (dit is as ek nie aan die slaap raak nie...). Dit was so half soos ‘n uitvoering van Hamlet sonder die teenwoordigheid van die Prins van Denemarke. Was dit die bedoeling gewees, het ek gewonder? Is dit nou beleid dat alle kommunikasie met alumni in Engels sal wees? Dit is ‘n goeie manier om om die inversiteit van sy Alumni te vervreem, dink ek. Selfs UNISA korrespondeer met sy studente in die taal van hulle keuse (al s dit net ‘n keuse tussen Engelsen Afrikaans dink ek).

En toe, so ‘n week later, kom die kersie op die koek. In my in-boks, die “Thank you” boodskap, “With warm thanks again and kind regards, Professor H Russel Botman Rector and Vice Chancellor”. Asseblief!

Jan Smit*

Jan Smit is 'n oud-Matie en vennoot in die Centre for Strategy and Evaluation Services in die Verenigde Koninkryk.

No comments:

Post a Comment