2010-07-22

Das war ein Vorspiel nur

Maak US-beleid duidelik (Brief, Die Burger, 6 Augustus 2003)

IS dit te veel gevra om van die Universiteit van Stellenbosch te verwag dat opgehou word met die bontpratery oor die kwessie van Afrikaans as voorgraadse onderrigtaal?

Volgens die spesiale uitgawe van die personeelblad Kampusnuus van 24 Julie bepaal die onlangs aanvaarde taalbeleid van die US dat Afrikaans "by verstek"/"outomaties" die leer- en onderrigtaal vir alle voorgraadse onderrigprogramme en -modules is; dat "net in heel spesifieke, veral deeglik gemotiveerde gevalle" hiervan afgewyk kan word en dan "slegs indien die taalkomitee dit sou goedkeur".

Die "beperkte opsies" is in dié verband moontlik die "Engelse opsie" (Engels as "primêre"/enigste onderrigtaal), die tweetalige opsie en die parallelmedium-opsie.

Dit lyk vir my glashelder: Engels (alleen, saam met Afrikaans, óf parallel met Afrikaans) word voorgraads slegs by uitsondering gebruik.

Hoe rym dit dan met volgende stellings in 'n bylae wat op 3 Augustus in Rapport en City Press verskyn het?

. Op bl. 19 staan: "Behalwe in uitsonderlike gevalle word formele lesings in die eerste en tweede jaar in Afrikaans en Engels (my kursivering) aangebied. In die derde jaar is dit in Afrikaans."

. In 'n Engelstalige advertensie van die fakulteit geesteswetenskappe op bl. 18 word dit woordeliks herhaal: "Except in exceptional cases . . . offered in Afrikaans and English."

Wat het ons hier? 'n Glipsie? 'n Nuwe taalbeleid? Bloot 'n foutiewe vertolking van die bestaande beleid? Dalk 'n poging om die beleid na buite meer "aanvaarbaar" te laat klink?

Dit verg nie 'n genie om te sien dat die genoemde stellings drasties van die amptelike beleid afwyk nie. Voornemende studente kan hierdeur onder 'n vals indruk gebring word.

M.K.R. VAN HUYSTEEN
Stellenbosch

Klik hier vir die oorspronklike.