2009-06-26

Skaakmat vir Afrikaans

Dit is nie slegs by ons universiteite waar Afrikaans agteruit boer nie:
"Almal wat al skaak gespeel het, weet hoe dit werk: Jy skuif eers stil-stil jou stukke in plek voordat jy die finale skuif maak en jou opponent die nekslag toedien.
Sulke stadige skuiwe van pionne sien ek tans in die ANC se planne vir die regswese. Voordat Afrikaners dit weet, gaan die ANC ons skaakmat om Engels as enigste voertaal in ons howe te aanvaar."

JMT Labuschagne, in BY 26 Junie 2009.
Vir die hele artikel, klik hier.

2009-06-21

Onderrigtaal: Is dít billik?


Behoort universiteite in ons land agteroor te leun om eentalige mense as studente te akkommodeer? Hulle moet, tereg, oop wees vir almal, maar dan op meriete. Hulle bly nietemin elite-instellings, en ’n mate van taalvaardigheid in meer as een taal kan van voornemende studente verwag word.
Studente moenie toegelaat word bloot omdat hulle “aan die US wil studeer” (Botman hierbo) nie. ’n Universiteit is nie vir die massas nie.
Is bogenoemde dilemma nie die kern van die Stellenbosse taaltragedie nie?Ek meen die US behoort nóú ’n besliste keuse te maak tussen twee botsende doelstellings.As enkelmedium-instellings dan so ’n vervloeking is, waarom maak die Grondwet voorsiening daarvoor, in bepaalde omstandighede (Art. 29(2))?
Prof Andries Cilliers, BY, 2009-06-20
Vir die hele artikel, klik hier.

2009-06-19

Onthou waaroor dit in US-stryd werklik gaan

Dr Leopold Scholtz skryf:
"Die “Giliomiete” moes die laaste maande vreeslik moeite doen om akkurate statistieke oor die feitelike taalsituasie op voetsoolvlak uit ’n onwillige universiteitsowerheid te trek. Dié statistieke dui op ’n onteenseglike versnelling in die opmars van Engels en die agteruitgang van Afrikaans. Trouens, die tempo van die proses het aansienlik toegeneem sedert die vorige rektor, prof. Chris Brink, na groener weivelde in Engeland verkas het. En dit ondanks die vae versekeringe van die universiteitsowerheid dat daar geen verengelsingsagenda is nie.
"Tegelyk het die universiteit, danksy die toevloei van talle wit Engelssprekende studente, witter geword. Wat net weer bewys: Die egte keuse waarvoor die US staan, is tussen Engelser en witter enersyds, en Afrikaanser en veelrassiger andersyds.
"Die koers waarop die universiteit tans loop – hóór nou wat ek sê – gaan binne ’n paar jaar onvermydelik op ’n eentalige Engelse einde uitloop. Wie dit nie insien nie, is naïef verby, want alle akademiese navorsing, internasionaal en plaaslik, dui onteenseglik daarop."
Dr Leopold Scholtz, Die Burger, 19 Junie 2009.
Vir die hele berig, klik hier.

2009-06-18

'N GRONDWETLIKE REG EN 'N MORELE PLIG

Ek glo dat alle Raadslede die missiestelling van die US, tesame met die tans geldende taalbeleid, onderskryf. Hierdie beleidsraamwerk gee aan Afrikaans ‘n prominente posisie: Dit bepaal ondermeer dat die onderrig-, bestuurs-, en administratiewe taal van die US oorwegend Afrikaans sal wees, maar aanvaar die belangrikheid van Engels en ook Xhosa in ‘n meertalige omgewing. Die versekering word gegee dat geen student die gebruik van Afrikaans mag veto nie. Bepaalde syferfeite asook optredes van US personeel in die openbaar dui egter aan dat daar ‘n disjunksie bestaan tussen die geldende missie en taalbeleid, en werklike taalimplementering. Twee voorbeelde: 1) Die A-opsie, wat prioriteit moet geniet, word uitgerangeer. Vandag word net 640 uit 1601 modules in Afrikaans aangebied, 625 in dubbelmedium en 336 in Engels. 2) Op 10 Mei nooi die studente-organisasie Adam Tas vir Piet le Roux uit om ‘n toespraak te kom lewer by ‘n studenteberaad. Engelse studente maak beswaar teen sy gebruik van Afrikaans. Die Studentedekaan gee opdrag dat Le Roux terstond moet oorskakel na Engels. Le Roux gaan voort in Afrikaans en word doodgeskree. Die US woordvoerder teenwoordig vra om verskoning dat hy self vroeër Afrikaans gepraat het. Nie alleen oefen die studente ‘n vetoreg uit nie, die US personeellede doen dit self. Dat beleidsriglyne geïgnoreer word, is strydig met die Raad en Rektoraat se gesag. Dit is administratiefregtelik verdag.
Dr Marié Heese, Eikestadnuus 2009-06-19
Vir die volledige rubriek, klik hier.

2009-06-12

Hoe Suid-Afrika nou uit oorsese oë lyk

"Dit is so ’n tragedie dat die vyande van Afrikaans – aan die US en elders – nie primêr die regerende ANC is nie. Die aantal aktiewe Afrikaans-haters in dié party is ’n minderheid; dit laat die meeste eenvoudig koud.
Nee, die eintlike vyande is wit Afrikaners wat onder ’n selfhaat gebuk gaan, en hul taal in die proses opoffer.
Dié verskynsel word in Europa met groot onbegrip aanskou. Dáár het Afrikaans sy apartheidstigma uit die verlede al donkiejare gelede verloor."
Dr Leopold Scholtz, Die Burger 12 Junie 2009; vir die hele rubriek, klik hier.

2009-06-09

Transformeer in Afrikaans

Dave Steward (FW de Klerk Stigting) en Jan Bosman (Afrikanerbond) skryf in Die Burger van 9 Junie 2009 o.a. soos volg:
As verskoning word dikwels aangevoer dat Afrikaans in die pad staan van transformasie van die US.
As met transformasie bedoel word die vermindering van wit studente ten gunste van bruin, swart en Indiër-studente, het die verengelsing van die US bepaald nie in sy doel geslaag nie. Inteendeel. Van 2003 tot verlede jaar het die getal swart studente aan dié universiteit van 462 tot 875 toegeneem. Die enigste wins wat die US gemaak het, is om die getal wit Engelssprekende studente te vermeerder van 2 570 in 2003 tot 3 246 verlede jaar.
In dié tyd het die getal bruin Engelssprekende studente gegroei van 473 in 2003 tot 972 verlede jaar.
Transformasie aan die US is tot nadeel van die bruin landelike bevolking, wat hoofsaaklik Afrikaanssprekend is. Gegewe die feit dat die sensus van 2001 aandui dat die bruin bevolking van die Wes-Kaap verreweg die grootste groep eerstetaalgebruikers van Afrikaans is, met 1,9 miljoen teenoor 454 408 wat Engels as eerste taal aangedui het, is die verengelsing van die US tot nadeel van die kerngebruikers van Afrikaans.
Ironies genoeg is daar ook meer Swart eerstetaal verbruikers van Afrikaans in die Wes-Kaap as Engels.
Hierdie syfers staaf die argument dat transformasie aan die US in Afrikaans en deur Afrikaans kan plaasvind.
Die bestuur van die US het te lank die afskaling van Afrikaans verdoesel onder die dekmantel van allerlei modelle en opsies wat aangebied is.
Die praktyk bewys egter dat Afrikaans sy status as akademiese en wetenskapstaal verloor. Dit het reeds aan ander universiteite gebeur, waarvan die eertydse Randse Afrikaanse Universiteit en die Universiteit van Port Elizabeth waarskynlik die beste voorbeelde is. Ten spyte van talle versekeringe is die universiteite oorwegend Engels. Ander historiese Afrikaanse universiteite loop tans dieselfde pad.
Die bestuur van die US moet nou in duidelike taal en sonder verdere misleiding van studente, voornemende studente, donateurs, alumni, dosente en ouers ’n onomwonde waarborg gee ten opsigte van Afrikaans aan die universiteit.
Wat nou nodig is, is ’n duidelike en meetbare verbintenis tot Afrikaans wat die feitelike sowel as die praktiese posisie van Afrikaans as akademiese en wetenskapstaal aan hierdie universiteit sal bevestig.
Vir die volledige artikel, klik hier.

2009-06-01

Toekoms van Afrikaans by US ‘meer somber as ooit tevore’

As die Gerwel-plan vir Afrikaanse universiteite ná die verkiesing deur die regering in werking gestel sou word, sal die Universiteit Stellenbosch waarskynlik nie kwalifiseer as een van die universiteite wat Afrikaans as wetenskap- en voertaal statutêr moet uitbou en bevorder nie. - Hermann Giliomee; berig in Rapport, 2-4-2009; vir die volledige berig, klik hier.

Tukkies maan US oor Engels

Die Tukkie-studenteraad het hul steun aan hul ­Matie-eweknieë toegesê in die stryd teen die instelling van parallelmediumonderrig aan die Universiteit Stellenbosch (US).
Volgens die Universiteit van Pretoria (UP) se verteenwoordigende studenteraad (VSR) kan universiteite waar parallelmediumonderrig aangebied word dit nie bekostig om nog meer toegewings te maak nie. Nog minder kan Afrikaans.
Vir die volledige berig, klik hier.

U.S. Studenteraad sê sy sê

Die US Studenteraad het op 4 Mei 2009 die volgende besluit aanvaar: –
“Die US Studenteraad steun nie die Raadsbesluit om parallel-medium onderrig met die daaropvolgende dubbelmedium implikasies in die ekstra 4 fakulteite te implementer nie. Die volgende hoofredes, word aangevoer:
* Bekommernis oor die praktiese uitvoerbaarheid en finansiële implikasie daarvan;
* Die moontlikheid dat segregasie bevorder kan word hierdeur;
* en dat navorsingstyd van dosente hierdeur ingeboet sal word.
Daarom stel ons voor dat ander opsies dringend ondersoek moet word.”


In 'n gepaardgaande verklaring het die Studenteraad onder andere gesê:

"Die Studenteraad van die Universiteit Stellenbosch is ten gunste van ‘n taalmodel vir die Universiteit wat nie segregasie in klasse bevorder nie, nie omvangryke finansiële implikasies inhou of kosbare navorsingstyd van akademici in beslag neem nie en ook nie eksklusief Afrikaans is nie. Die SR is daarom ten gunste van die ondersoek van moontlikhede soos die wyer gebruik van tolkdienste en ander tegnologie om lesings meer toeganklik vir nie-Afrikaanssprekende studente te maak. (….)
Mnr. Retief Swart, voorsitter van die SR, het gesê dat die SR hom opnuut verbind tot die bevordering van Afrikaans as akademiese taal."

Vir die volledige berig klik hier.

Fears for Afrikaans at Maties: review

"There is no case of a successful dual-medium instruction in the world and even those that tried to do that - the University of the Western Cape and the former University of Port Elizabeth - quickly became English institutions," a well-placed source said."It would be a great loss to language diversity if Afrikaans were to disappear," the source said.
Vir die volle berig, klik hier.

Minderheidstale - verdwynende tale: Die gedagtes van 'n bittereinder

Deur Ampie Coetzee
Die universiteit wat in die verlede 'n Afrikaanse universiteit was, en vir die mense van die Wes-Kaap (veral die Kaapse Vlakte), die Boland, Namakwaland en die Suid-Kaap tersiêre onderwys kon bring, was die Universiteit van Stellenbosch. Maar oor dié universiteit is daar nie eintlik veel meer te sê nie. Die inname van Engelssprekendes het al 'n geruime tyd gelede begin; en ook die argumente vir Engels as gedeelde onderrigtaal – wat net kan lei tot die oorname van Engels.
Vir die hele artikel, klik hier.

Gerrit Brand se Blog

"Intussen slaag fakulteite soos ingenieurswese en ekonomiese en bestuurswetenskappe, wat hoofsaaklik Afrikaans gebruik, beter daarin om swart studente te trek as 'n fakulteit soos lettere en wysbegeerte, die mees Engelse fakulteit. Die enigste demografiese verandering wat deur meer Engels te weeg gebring is, is 'n toename in wit, Engelssprekende studente. Opnames onder studente toon ook nie dat Afrikaans die faktor is wat die US minder aantreklik vir sogenaamde "African" swartes maak nie. Onthou, universiteite soos Tukkies en die ou RAU se swartstudentetal het drasties gestyg terwyl hulle nog uitsluitlik Afrikaans was. Geografie is die belangrikste faktor wat die aantal "African" swartes aan die US laag hou."
Vir die res van die debat, klik hier.

DF Malherbelesing 2007: DIE DEBAT OOR DIE POSISIE VAN AFRIKAANS AAN DIE UNIVERSITEIT STELLENBOSCH: ’N ONTLEDING

Die probleem is, volgens kritici van die T-opsie, dat geen behoorlike navorsing gedoen is oor wat die uitwerking van die T-opsie op voetsoolvlak in die klaskamer het nie.
Uit die ontledings van die wedersydse argumente blyk nog ’n interessante feit. Dit is dat waar die argumente van die A-opsioniste hoofsááklik – maar nie uitsluitlik nie – akademies en pedagogies van aard is, dié van die T-opsioniste hoofsááklik – maar nie uitsluitlik nie – ideologies van aard is.
Ook opvallend is die totale gebrek aan empiriese navorsing by die T-opsioniste, wat moontlik die verklaring kan wees waarom hulle so van akademiese en pedagogiese argumente wegskram.
Russel Botman, het self erken: “Daar is nie werklik goeie en uitgebreide navorsing oor meertalige onderrig op tersiêre vlak nie, en veral nie in meertalige gemeenskappe nie. Ons begin nou maar eers begryp wat die probleme is en wat die aard van die data is, trouens, is is besig om self daardie data te genereer!
’n Groep bekende Afrikaanssprekendes, t.w. André P. Brink, Ampie Coetzee, Johan Degenaar, Jannie Gagiano, Hermann Giliomee, Lawrence Schlemmer, Richard van der Ross, Christo Viljoen en Ton Vosloo het dit (die Taalplan en –beleid soos aangekondig deur Chris Brink op 14 November 2002) aanvanklik onomwonde verwerp: “As hierdie plan deurgaan, sal die taaltaakspan in die geskiedenis bekend word as die Trojaanse perd wat Afrikaans aan die US tot ’n val gebring het.”
(Nota: Frederik VanZyl Slabbert, tans Kanselier van die US, het die T-opsie as “pedagogiese onsin” beskryf).
Vir die hele artikel klik hier.

Maak US deure oop

"Die deure vir geleerdheid moet juis nou so wyd moontlik oop­gemaak word, nie net vir die nuwe Engelssprekende elite nie, maar ook vir ander­staliges. Afrikaans is die moedertaal van die oorgrote meerderheid inwoners van die Wes-Kaap-provinsie en ons kan met reg eis dat by minstens een universiteit in die Wes-Kaap Afrikaans as amptelike voertaal ­behou word. Maar ons eis moet verder strek as net dít.
"Ons moet daadwerklike ­pogings aanwend om Matieland se deure wyer oop te maak ook vir die ontmagtigde Afrikaans­spreken­de en anderstalige landgenote deur aan ’n ­parallelmedium-onderrigbenadering oorweging te skenk."
Christo van der Rheede, Uitvoerende Hoof van die SBA; vir die volledige artikel klik hier.

Afrikaanse universiteite alleen moet toegee

"Oor taal aan die Universiteit Stellenbosch (US) is die laaste woord nog glad nie gespreek nie.
"Tensy ek die saak totaal verkeerd verstaan, is die nuwe beleid wat vandeesweek deur die US-raad aanvaar is, ’n kwessie van een stap vorentoe en een (dalk twee) terug."

Leopold Scholtz, Die Burger 26 Feb 2009 (Vir die volle artikel klik hier).

Dié stemme word nie gehoor in die Taaldebat

"Die probleem wat ek het met die rigting van transformasie by die US en meer bepaald die taalkwessie, spruit uit die geringskatting van die arm Afrikaanse stem op sy voorstoep. As transformasie die regstelling van ongelykhede van die verlede, die gelykstelling en gelyke behandeling van al ons mense beteken, kan ons nie anders as om kennis te neem van ook hierdie stem nie, anders diskrimineer ons. "
Christo van der Rheede, Uitvoerende Hoof van die SBA; vir die volledige artikel klik hier.

Voorstelle vir 'n realistiese Taalbeleid

"Indien die US sou kies om op voorgraadse vlak tweetalig te word, sal dit onvermydelik daartoe lei dat Afrikaans verdwyn, soos in Pretoria en Bloemfontein gebeur het – ten spyte van al die mooiklinkende versekerings tot die teendeel. So 'n ontwikkeling sal 'n bespotting van die bestaande taalbeleid en die waardes van die universiteit maak. Die allerlaaste ding waarvan die US sekerlik beskuldig wil word, is morele bankrotskap!"
Dr Adelbert Scholtz (US Raadslid) maak voorstelle vir 'n werkbare taalbeleid aan die US; vir die volledige memorandum klik hier.

Wat sê navorsing oor die taaldebat?

Dr Marie Heese (US Raadslid) skryf:
Kathleen Heugh konstateer in 2007 (26): Tot op datum onderskryf geen greintjie geloofwaardige wetenskaplike navorsing die flou redes wat aangevoer word vir ‘n gebrek aan die behoorlike, gesonde voorsiening van moedertaalonderrig tesame met verrykende tweedetaalonderrig in Suid-Afrika nie. Daarenteen bestaan daar robuuste internasionale navorsing wat die belangrikheid van moedertaalonderrig beklemtoon, ook op tersiêre vlak. Kernbegrippe van belang vir die taaldebat rondom die Universiteit van Stellenbosch is die volgende: die onderskeid tussen “BICS” en “CALP”, die onderskeid tussen verrykende en verskralende tweetaligheid, en die gevolge van taaldominansie.
Vir die volledige artikel, klik hier.