Brief deur Hermann Giliomee
Februarie 2012
Beste Oud-Matie
Ek neem die vrymoedigheid om die
volgende drie kandidate vir die komende verkiesing van Raadslede van die
Universiteit van Stellenbosch (US) by u aan te beveel om vakatures op die
US-Raad te vul. Alle gradueerde oud-studente en donateurs van die US mag vanaf
9 Februarie op die
universiteitswebblad (direkte
skakel) stem. Stemming
sluit op 13 Maart om 16h00.
Ek vra u ook vriendelik om hierdie brief
aan al u vriende en kennisse te stuur wat as alumni en donateurs stemgeregtig
is en hulle aan te moedig om te stem. Saam kan ons dit doen as elkeen hierdie
e-pos aan ten minste vyf e-posadresse stuur.
Raadslede wat verkies moet word deur die
Konvokasie
- Ainsley Moos (Redakteur:
Volksblad)
- Piet le Roux (Solidariteit)
- Koos Bekker (Naspers)
Mnr. Jannie Durand van die Remgro-groep, wat ek ook graag sou aanbeveel, saam met bogenoemde drie, is reeds
onbestrede verkies tot US-Raadslid deur die Donateurs.
Die aanbevole kandidate het nie gevra
dat hul kandidatuur op hierdie wyse bevorder word nie en ek wil ook geensins te
kenne gee dat hulle oor die kwessie van Afrikaans as onderrigmedium aan die US
presies dieselfde mening huldig as die een wat ek al in die openbaar
uitgespreek het nie. Ek het die kwessie wel met ʼn aantal mense bespreek wat die
belange van die universiteit op die hart dra.
Ek is daarvan oortuig dat die bogenoemde
persone hulle uitstekend van hul taak as
Raadslede sal kwyt.
Bo en benewens die voertaalkwessie is
daar verskeie ander aktuele aangeleenthede, soos transformasie, die outonomie
van die universiteite en finansiële verantwoordbaarheid, die uitbou van die US
as universiteit van internasionale gehalte met Afrikaans as voertaal, ens., wat
kundige toesig deur die Raad vereis. Ek glo dat die aanbevole kandidate in al
die gevalle ʼn belangrike bydrae sal kan maak.
Soos voor die verkiesings van 2008 en
2010 gee ek in hierdie skrywe ʼn kort oorsig van die stand van Afrikaans aan die
US, wat vir talle alumni ʼn belangrike saak is.
Dit wil soms voorkom of die stryd om aan
Afrikaansmedium-onderrig aan die US ʼn vaste en volwaardige plek te gee nie
beslissend afgehandel kan word nie. Sedert 2006 beywer Konvokasie- en
Donateursverkose Raadslede hulle vir so ʼn beleid en tog wys die openbare
“telbord” tot dusver geen wesenlike vordering nie.
Tussen 2004 en 2011 het die A-opsie
modules (die voorlesing geskied in Afrikaans) as ʼn proporsie van die
voorgraadse aanbod afgeneem van ongeveer 75 persent tot 37 persent. Die syfer
van 37 persent is net moontlik gemaak omdat in drie fakulteite (Ingenieurswese,
Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en Opvoedkunde) Afrikaansmedium-onderrig nog
sterk staan. In die ses ander fakulteite
is die gemiddelde blootstelling van studente aan die A-opsie modules minder as
10 persent – in sommige gevalle nul.
Dubbelmedium (Afrikaans en Engels in
dieselfde klas, oftewel die sogenaamde T-opsie) word in ongeveer die helfte van
al die kursusse voorgraads gebruik. Dit is ʼn onderrigmodus wat nie deur
gerespekteerde universiteite in Europa of die VSA gebruik word nie. Dit lei
onafwendbaar tot die uitfasering van die kleiner taal (in die US-geval
Afrikaans).
Jean Laponce, ʼn gesiene Kanadese
taalkenner, het gewaarsku dat as huidige tendense nie omgedraai word nie
Afrikaans aan Stellenbosch oor die medium tot lang termyn verplaas sal word.
Soos hy dit stel: “The system is to the
advantage of English, Afrikaans being retained as a mere decoration.”
Desondanks was daar oor die afgelope
jaar aan die US tog aansienlike vordering in die verwesenliking van die doelwit
om Afrikaansmedium as die vernaamste voertaalopsie te vestig.
- ʼn Regsmening het voor die US-Raad gedien dat
die oordeelkundige gebruik van Afrikaansmedium nie ongrondwetlik is nie en dié
mening is ook duidelik in die pers uitgespel deur Jan Heunis, ʼn huidige
Konvokasie-verkose US-Raadslid en visepresident van die Konvokasie, wie se
termyn eers in 2014 verstryk.
- Die US-Konvokasie het by sy
vergadering in November 2011 met ʼn oorweldigende meerderheid ʼn mosie aanvaar
waarin die US-Raad gevra word dat daar “dringend ʼn volwaardige plek vir
Afrikaans in alle fakulteite verskaf word en indien daar desnoods ook ʼn Engelse
aanbod gedoen word dit deur tolking of parallelmedium geskied.”
- Twaalf Afrikaanse organisasies
met ʼn gesamentlike ledetal van meer as 500 000 ingeskrewe lede, insluitende die
Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Suid-Afrikaanse
Onderwysersunie, het hierdie mosie gesteun.
- ʼn Opname van die Suid-Afrikaanse
Onderwysersunie in agt provinsies het gevind dat die behoefte aan Afrikaans as
opleidingsmedium op universiteitsvlak gewissel het van 100% tot 77% met ʼn
geweegde gemiddelde van 87%. Die bevinding strook met die een in die 2007
Schlemmer-opname onder voorgraadse studente aan die US. Daarvolgens was
“hoofsaaklik Afrikaansmedium” die opsie wat die meeste Afrikaanse studente
verkies (meer as 80%).
- In ʼn TV-onderhoud op 13 November
2011 op “Robinson Regstreeks” het die US-Rektor verklaar: “Daar is geen twyfel nie, ʼn student wat na US kom, kan in sy taal
studeer.” Dit is nog onduidelik of dit beteken in die T-opsiemetode (wat
wesenlik onmoniteerbaar is) of in Afrikaansmedium of by wyse van simultane
tolkdienste.
- Die US-Raad het ʼn verslag aanvaar
waarin die meer uitgebreide gebruik van simultane tolkdienste aanbeveel word.
Die Raadslede verkies deur die Konvokasie en Donateurs kan sorg dat die wyer
instel van tolkdienste en die monitering daarvan op die mees doeltreffende wyse geskied.|
- Die
opvoedkundige Marie Heese (ʼn voormalige Konvokasie-verkose Raadslid), het in ʼn
gesaghebbende artikel in Die Burger aangetoon dat daar eenstemmigheid onder voorste
pedagoë is dat moedertaal-onderrig, ook op universiteitsvlak, die
doeltreffendste is.
Die stryd is nog lank nie verby nie,
maar ons glo dat ʼn keerpunt in sig is. Dit is nodig om bekwame Raadslede te
kies om hulle by ander Raadslede te voeg om seker te maak dat Afrikaans sy
regmatige plek aan die US beklee en dat die US onder die top universiteite in
die land bly en sy internasionale aansien verder uitgebou word.
Ek vra u dus met 'n oop gemoed om te
gaan stem omdat u stem ʼn wesenlike verskil kan maak. Hoe groter die aantal
stemme in die verkiesings vir die kandidate uit die Konvokasie en Donateurs,
hoe swaarder die gewig van hierdie mense op die US-Raad.
Indien u per stembrief wil stem en teen
24 Februarie nog geen stembrief vanaf die Universiteit ontvang het nie, kontak
asseblief die registrateurskantoor by 021 808 9398.
Ek sluit af met die woorde van Koos Bekker in sy bydrae tot groot
polemiek in Die Burger in Oktober 2005 oor Afrikaansmedium as voertaal
aan die US. Hy het die vraag gestel: “Op
wie kan Afrikaans vertrou?” Sy antwoord was: “Op gewone mense soos die Konvokasie en sommige studente.”
Vriendelike groete.
Hermann Giliomee
(US-Raadslid, 2006-2010, verkies deur die Konvokasie)