2012-02-16

Posisioneer die Universiteit homself as selfstandige en uitnemende deelnemer in eie reg?


Brief van kandidaat Piet le Roux

15 Februarie 2012
Beste Oud-Matie

Alle oud-Maties mag stem in die huidige verkiesing van lede van die Stellenbosse universiteitsraad. Ek staan as kandidaat en nooi jou graag om te oorweeg om vir my te stem, voor 13 Maart.

Die US-raad speel 'n bepalende rol in die lewenskrag en karakter van 'n Matieland wat ons na aan die hart lê. Enkele van die vrae wat oud-Maties myns insiens vir hierdie verkiesing behoort te oorweeg is:

  • Behou Stellenbosch die Afrikaanse kampuservaring en Afrikaanse voorgraadse onderrig waarvoor soveel Afrikaanse - en juis ook Engelse en ander Maties - oor die laaste eeu na Stellenbosch gekom het?
  • Staan die universiteit naby aan die regering en sy toenemend twyfelagtige onderwys-, ras- en ander beleide, of posisioneer dit homself eerder as selfstandige en uitnemende deelnemer in eie reg?
  • Is die universiteit 'n massa-onderriginstelling wat aanhoudend meer residensiële studente inneem en al meer verblyfplek oprig, of fokus dit op geskikte tegnologiese innovasie en koester dit 'n lojale nismark met inagneming van die dorpsaard van Matieland?

Dit is in hierdie verband vir my aangenaam dat prof. Hermann Giliomee in 'n ope brief aan oud-Maties sy steun aan my kandidatuur toegesê het.

Nodeloos om te sê is dit my erns om die universiteit in sy geheel só te benader dat dit die invloedryke, eersteklas instelling bly waar my kinders, kinders van my mede-oud-Maties en 'n spektrum van nuwe Maties graag sal wil studeer en ontmoet. Benewens die belangrike beleidsvraagstukke, is ek dan ook bekwaam en ywerig om die omvattende oorsigverpligtinge van 'n raadslid deeglik na te kom.

Lees gerus my blog by pietleroux.blogspot.com vir inligting oor waar om te stem, my kandidatuur en meer besonderhede oor my rekord van betrokkenheid. In die loop van die volgende paar weke sal ek op díe blog uitbrei en reageer op navrae oor my standpunte, so laat weet gerus as jy vrae het.

Indien jy weet van ander oud-Maties wat in hierdie e-pos belang sal stel, is jy welkom om dit aan hulle te stuur.

Vriendelike groete.

Piet le Roux
Honneurs B.Comm. (Ekonomie) (2008)

2012-02-15

Student getuig oor wantoepassing van die taalbeleid

Afrikaans@Maties is onlangs in die volgende korrespondensie tussen 'n student en 'n beampte van sy departement ge-Cc. Die korrespondensie is ook aan die betrokke dekaan en die Rektor ge-Cc. Die identiteite van die betrokke partye word met skuilname vervang.

-----------
From: Adam
Sent: 13 February 2012 11:43 PM
To: Prof. Simonsberg
Cc: Dekaan; Prof Russel Botman; afrikaansbymaties@gmail.com
Subject: Klasterugvoer

Goeie dag prof. Simonsberg,

Ek is tans 'n derde jaar E&E-student, graag bring ek die volgende kwessies onder u aandag na afloop van die eerste week van klas.

Dit spyt my om u mee te deel dat ek nie gelukkig is met die manier hoe die Afrikaanse taalaanbod toegepas word nie.

Volgens die jaarboek word al my vakke as die A-spesifikasie voorgehou.
3.4.2.1  A-spesifikasie*
Onderrig is hoofsaaklik in Afrikaans.
Studiemateriaal (handboeke, notas, transparante, elektroniese leer- en
onderrigmateriaal) kan in Afrikaans en/of Engels wees.
Studieraamwerk is in Afrikaans en Engels

My probleem is egter nou die volgende:
Alhoewel die dosente Afrikaans praat tydens lesings is die oorgrote meerderheid van notas, werksopdragte (tutoriale), kursus-webblaaie en selfs bordskrif uitsluitlik in Engels beskikbaar. Ek verstaan dat alle E&E-vakke sedert 2012 na Engels toe getolk word. Boonop vind die tolking deur middel van kopfone plaas wat volgens die tolk R5000 stuk kos.
Die huidige situasie op grondvlak lyk as volg:
Vak
Spreektaal
Bordskrif
Skyfies
Kursuswebblad
Handboek
Tuts
Beheerstelsels
Afr met tolk
Engels
Engels
Afr en Eng
Engels
A&E
Elektromagnetika
Afr met tolk
Engels
Engels
Engels
Engels
Eng
Elektronika 315  
Afr met tolk
Afrikaans
A&E
Afr en Eng
Engels
Eng
Stelsels en Seine
Afr met tolk
Engels
Engels
Afr en Eng
Engels
A&E
Ontwerp (E) 314
Afr met tolk
n/a
Afr en Eng
Afrikaans
Engels

Soos u in die bostaande tabel kan sien het Afrikaanse studente merendeels slegs hul eie, handgeskrewe notas wat uitsluitlik op gehoor gebaseer word as studiebron. Terselfdertyd word Engelse studente op alle platforms in Engels gevoer.

Ek vind dit bitter onregverdig dat Afrikaans in die E&E-departement tot slegs 'n gesproke taal gereduseer word terwyl Engelse studente onder die dekmantel van die A-opsie geen kennis van Afrikaans nodig het nie. Ek voel ook dat dit die bestuur van die Ingenieursfakulteit se skuld is dat hierdie situasie ontstaan het waar sekere studente aanvoer dat hulle geen begrip van Afrikaans het nie en dan met moord wegkom. Hierdie studente het twee jaar lank kans gehad om ’n redelike kennis van Afrikaans op te bou deur taalvaardigheidsklasse. Ongelukkig het hierdie studente dan ook bitter min blootstelling aan en oefening in die taal gekry buite hierdie klasse aangesien hulle altyd net kon aanvoer dat hulle nie verstaan nie. Die dosente sou dan agteroor buig om in Engels voort te gaan. Male sonder tal het ek byvoorbeeld onder mnr Pieke se aandag gebring dat die middaguur-sessies in jaar een en twee wat veronderstel was om volgens die T-spesifikasie aangebied te word 99% Engels was, omdat sekere studente aangevoer het dat hulle nie kon verstaan nie. Prof Simonsberg, ek stem volhartig saam met Jean Laponce, ʼn gesiene Kanadese taalkenner, hy sê: “The system is to the advantage of English, Afrikaans being retained as a mere decoration.” Mag ek vra dat u toesien dat u dosente Afrikaans as ’n onderrigtaal aanwend eerder as ’n vensterversiering aan die buitewêreld?

Matiegroete
Adam


2012/2/14 Prof. Simonsberg

Beste Adam

Ek neem kennis van jou epos en aangesien ons volledig aan die jaarboek se A-spesifikasie voldoen, verstaan ek nie regtig wat jou probleem is nie.  Ek stel voor jy maak ‘n afspraak om my te kom spreek.

Groete
Prof Simonsberg


2012/2/14 Adam

Geagte prof. Simonsberg

Dat dit aan ’n slim verdraaiing van die letter van die jaarboek voldoen mag dalk so wees, maar dink u werklik dat dit die gees daarvan nastreef?

Soos ek u interpretasie van die spesifikasie verstaan is Afrikaans dan nou finaal verneder tot slegs 'n gesproke taal en is al die mooi paaiwoorde van oor die jare heen deur Prof Botman werklikwaar net 'n taktiek om dit wat op grondvlak gebeur te verdoesel totdat die laaste lesing by hierdie Universiteit in Afrikaans geskied.

Matiegroete
Adam

2012-02-14

Piet le Roux-blog


Kandidaat vir die US-raadsverkiesing Piet le Roux het onlangs sy eie blog van stapel gestuur. Besoek dit gerus vir meer inligting oor sy betrokkenheid by die bevordering van Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch.

Adres: http://pietleroux.blogspot.com/