2009-05-21

Dit is die praktyk wat tel

Prof Pieter Kapp, President: US Konvokasie skryf:
Die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid het nie ’n gebrek aan mooi versekeringe en beginselstandpunte nie, maar wel aan ’n duidelike uitvoerbare strategiese plan wat Afrikaans se posisie só sal verskans dat daar op geen manier teen Afrikaans gediskrimineer kan word nie.
Niemand kan fout vind met die Universiteit Stellenbosch (US) se beginselverbintenis tot Afrikaans nie. Daar is ook geen probleem met die US se strewe na uitnemendheid en diversiteit nie. Die vriendelike akkommodering van Engels was nog nooit vir die US ’n struikelblok nie.
Die hart van die probleem is die verdringing van Afrikaans en die bevordering van Engels ten koste van Afrikaans. Die probleem lê nie by die beginsels nie, maar by die praktiese uitvoering daarvan op voetsoolvlak. Dié beginselverbintenis tot Afrikaans moet gerugsteun word deur ’n duidelike beleid en plan wat die posisie van Afrikaans sodanig verskans dat dit nie deur willekeurige besluite verander kan word nie. Die groot gaping tussen wat gesê word en wat op voetsoolvlak ervaar word, is nie ’n unieke US-probleem nie – dit is ’n algemene Suid-Afrikaanse probleem.
Vir die volledige artikel in Die Burger van 27 Mei 2009, klik hier.
Die artikel is 'n repliek op die artikel "Afrikaans sal bly staan" deur die rektor, prof Russel Botman, wat in Die Burger van 22 Mei 2009 verskyn het.

Die Verval Van Afrikaans By Die Universiteit Van Stellenbosch

Deur Jacko Maree

Hierdie memorandum skets die glybaan na verengelsing waarin die US verval het.
Die US is besig om bo alle twyfel hals oor kop te verengels en die feite hierin vermeld staaf dit. Is die verengelsing van die US die bestuur en die Raad se wens? Die US staan by ʼn kruispad en daar moet nou ʼn definitiewe keuse gemaak word wat duidelik uitgespel moet word.
Die toekoms van die US as ʼn Afrikaanse instelling hang af van watter besluite daar oor die volgende paar maande geneem gaan word. Indien die huidige proses van verengelsing van die US nie deur die Raad met doelgerigte Raadsbesluite gestuit en teengewerk gaan word nie, sal die US eersdaags de facto en de jure ʼn Engelse universiteit wees en daarna sal dit stellig vir altyd te laat wees om die proses om te draai.
Om die volledige memorandum af te laai, klik hier.

2009-05-19

Hoës van US kon nie druk weerstaan

Brief: Die Burger 11/05/2009

Die US is besig om radikaal te verontafrikaans met senior US-bestuurslui ten gunste van vetoregte na Engels.
Soos berig (DB, 06.05.09, vir die volle artikel klik hier) wou ’n paar studente my verlede week op ’n studenteberaad verhinder om my in Afrikaans voorbereide toespraak so te lewer. Te min tolk-apparate was beskikbaar en enkele apparaatlose studente het geweier om by die twee tolke in die lokaal te sit. (Die meerderheid van nie-Afrikaanssprekendes wou wel dat ek voortgaan.)
Skokkend was egter die studentedekaan, mnr. Llewellyn MacMaster, se gevolglike weiering dat ek Afrikaans praat, sowel as die US-mediawoordvoerder, mnr. Mohamed Shaikh, se stilswyende goedkeuring van MacMaster se beskouing.
Nadat MacMaster eers nog stamelend my reg tot Afrikaans erken het, kondig hy skielik aan dat ek nie in Afrikaans mag voortgaan nie. En Shaikh, in stede daarvan om MacMaster met die US-taalbeleid reg te help, maak slegs verskoning dat hy kort tevore Afrikaans gepraat het!
Nou wil sommiges nog die sotlikheid verdedig dat die dubbelmedium/T-opsie die toekoms van Afrikaanse onderrig verseker. Nie eens die studentedekaan en mediawoordvoerder kon druk vir Engels van enkele studente weerstaan nie.
Tog word ons aanhoudend verseker dat, as 50% van ’n klas in Afrikaans en 50% in Engels aangebied word, nie-Afrikaanssprekendes dit sal aanvaar en dosente in Afrikaans sal aanhou doseer. Waansinnig!
Die rede vir my voortgang in Afrikaans, ten spyte van MacMaster se weiering, het e­k aan die beswaarmakers verduidelik: Engels­ praat sou druk wegneem van die US-bestuur sonder om die onderliggende probleem aan te pak.
Die eks-rektor, prof. Chris Brink, had die hol versekering dat geen student wat Engels verkies ’n vetoreg oor Afrikaans sal hê nie.
Die nuwe bestel onder prof. Russel Botman laat dit blykbaar ook graag toe. Soortgelyke voorvalle kenmerk Matie-klasse, op Stellenbosch én Tygerberg.
Piet le Roux
Stellenbosch