2011-08-11

‘Afrikaans verdwyn sonder monitering’

Stellenbosch - Die toekoms van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch (US) lyk somber indien die toepassing van dubbelmedium-onderrig in klasse nie dopgehou word nie.

Só meen mnr. Ernst Marais, ’n doktorale regstudent wat namens ’n groep huidige en oud-Maties ’n mosie ingedien het waarin hulle eis dat die US-bestuur ’n volwaardige plek vir Afrikaans aan die universiteit moet verseker.

Die mosie sal Donderdagaand op die algemene jaarvergadering van die konvokasie van die US bespreek word.

Volgens Marais faal die US om dubbelmedium-onderrig, ook bekend as die T-opsie (’n minimum Afrikaanse aanbod van 50% in die klas), doeltreffend in klasse toe te pas.

’n Ongepubliseerde studie wat deur die F.W. de Klerk-stigting gedoen en deur mnr. Piet le Roux, ’n oud-Matie, saamgestel is, toon dat 36,5% van voorgraadse klasse net in Afrikaans aangebied word.

By nadere ondersoek blyk dit uit die verslag dat slegs studente van die fakulteite ekonomiese en bestuurswetenskappe, ingenieurswese en opvoedkunde ’n meerderheid A-opsie (klas net in Afrikaans) ontvang.

In die ses oorblywende fakulteite is die A-opsie in die minderheid en word die T-opsie tot in 100% van sommige fakulteite gebruik.

“Die toepassing van die T-opsie word nie gemoniteer nie en baie van die klasse is meestal – indien nie uitsluitlik nie – in Engels. Dít word meestal veroorsaak deur studente wat Afrikaans sleg of glad nie magtig is nie en dan ’n ‘vetoreg’ uitoefen en dosente versoek om meer Engels te praat. Engels word dan die dominante taal,” het Marais gesê.

Hy het vervolg dat Afrikaans as hoofonderrigtaal aan die US gaan verdwyn indien dié neiging voortgaan.

“Dit is waarom ons die US-bestuur deur middel van die mosie vra om ’n volwaardige plek vir Afrikaans te verseker en om, waar nodig, Engelse studente deur middel van tolkdienste en/of parallelmedium-onderrig te akkommodeer,” het hy bygevoeg.

Die US het gister teen laatmiddag nie gereageer op navrae oor hoe die taalbeleid tans uitgevoer word nie.

Die Afrikanerbond, ATKV en Adam Tas-studentevereniging het gister hul steun aan die mosie toegesê.


Berig deur Malani Venter gepubliseer in Die Burger op 2011-11-08

Wetsontwerp oor taal ‘is 'n dilemma vir universiteite'

Kaapstad - Taalwetgewing wat Vrydag in die parlement ter tafel gelê is, gaan nie die kopseer van Maties se jongste taaldebat help verlig nie.

Nêrens in die Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale word melding gemaak van meertaligheid in hoëronderwys-instellings nie.

Dié kwessie word ook nie hanteer in die Wysigingswetsontwerp vir Hoër Onderwys en Opleiding wat tans voor die Nasionale Raad van Provinsies dien nie.

Mnr. Cerneels Lourens van die organisasie Regslui vir Afrikaans het gesê dit is ’n groot leemte in die taalwetsontwerp.

“Dié taalwetsontwerp is ’n kind van die Grondwet en behoort uitgebrei te word om voorsiening te maak vir instellings vir hoër onderwys en die beskerming van moedertaalonderrig.”

Lourens het gesê daar is nog groot regsonsekerheid oor veeltaligheid by dié instellings.

Hy het gevra hoekom word daar nie druk op die Universiteit van Kaapstad geplaas om binne ’n oorwegend Afrikaanse gemeenskap ook Afrikaans as voertaal te gebruik nie.

“Dit lyk soos ’n politieke agenda van die regering en dalk is dit tyd vir Maties om hul eie Arab Spring vir Afrikaans te hê.”

Lourens het gesê wetgewende bepalings hieroor sal help om eenvormigheid in die bevordering van veeltaligheid in instellings vir hoër onderwys te skep.

“Die regte van minderhede, soos Afrikaanssprekendes in instellings vir hoër onderwys, behoort ook in die wetsontwerp beskerm te word.”

Die huidige taalwetsontwerp het net betrekking op nasionale departemente en hoe hulle die taalbeleid prakties moet toepas.

Mnr. Andricus van der Westhuizen, DA-LP gemoeid met onderwys, het gesê die leemte in wetgewing is deel van die dilemma vir universiteite.

“Indien meertaligheid bevorder moet word, sal die regering meer finansiële steun aan dié instellings moet gee en dit sal groter sekerheid skep wanneer dit in ’n wet geskryf staan.

“Daar sal dus meer finansiële beskerming vir die instellings wees.”

Intussen is die taaldebat weer deur ’n groep oud- en huidige Maties gestook deurdat ’n mosie teen die universiteitsbestuur ingedien is oor sy hantering van Afrikaans.

Die mosie sal Donderdag op die algemene jaarvergadering van die universiteit se konvokasie bespreek word.

Berig deur Alicestine October gepubliseer in Die Burger op 2011-11-08

2011-07-11

Afrikaans, Engels, ‘n leë dop en ‘n mosie aan die Universiteit Stellenbosch

Vrydag is daar ‘n pro-Afrikaanse mosie ingedien wat eerskomende Donderdagaand voor die konvokasie vir stemming dien. Die mosie is deur 35 jong Afrikaanssprekende Maties onderteken wat òf nog aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer òf wat pas afgestudeer het.

Die ondergetekendes eis dat die US dringend `n volwaardige plek vir Afrikaans in alle fakulteite verskaf en indien daar ook `n Engelse aanbod gedoen word dit deur tolking of parallelmedium geskied. Die oorsprong van hierdie mosie lê nie net in die feit dat die Grondwet aan Afrikaanssprekendes die reg gee om onderrig in openbare onderwysinstellings te ontvang in die taal van hul keuse nie, maar ook omdat daar ‘n daadwerklike behoefte onder hedendaagse Afrikaansprekendes is om universiteitsopleiding in Afrikaans te ontvang. Ons Grondwet wil ‘n samelewing daarstel wat gebou is op menswaardigheid, gelykheid en vryheid. Hierdie ideale kan net gerealiseer word indien die grondwetlike regte van die inwoners van ons diverse land gerespekteer word. Ander Suid-Afrikaners het natuurlik ook hierdie regte en daarom mik ons vir ‘n US wat getransformeerd en inklusief is en wat klasse dmv tolking en parallelmediumonderrig aanbied. Hierdie oplossings is egter nie probleemvry nie. Maar waarvoor was die struggle dan as ons vandag nie bereid is om moeite te doen ten einde Grondwetlike verskanste regte te beskerm nie? Indien dit nie gedoen word nie is die beloftes van ‘n nuwe Suid-Afrika, soos vervat in die Grondwet, bloot ‘n leë dop.

Die uitbreiding en nie-monitering van die T-opsie is besig om Afrikaans erg te ondermyn en as sake so aangaan sal die US binne enkele jare totaal verengels het. Volgens die Schlemmer-verslag van 2008 is die meerderheid studente in elk geval erg gekant teen die T-opsie.

Oud-president Nelson Mandela het in die 1990’s ‘n kommissie in die lewe geroep onder Jakes Gerwel om die toekoms van Afrikaans te ondersoek. Die sogenaamde Gerwel Kommissie, wie se verslag nooit amptelik aanvaar is nie, het aanbeveel dat twee universiteite in Suid-Afrika aangewys word om Afrikaans as akademiese taal te ontwikkel, een in die suide en een in die noorde. In terme van hierdie verslag is Stellenbosch by uitstek die universiteit in die suide om hierdie rol te vervul.

As jy die mosie steun, kliek gerus op die “like” knoppie op die Facebook-blad.