2011-05-11

Gee terug ons taal!

Die inploffing van Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch (US) is die dryfkrag agter die eis van ’n groep besorgde jonger geslag Maties en burgerlike organisasies dat Afrikaans op dié kampus van uitwissing gered word.

Toonaangewende Suid-Afrikaanse burgerlike organisasies beskuldig die universiteitsbestuur van ’n “sleepvoethouding” oor die taal, wat daartoe gelei het dat Afrikaans die afgelope ses jaar glo teen tussen 6% en 11% per jaar in die verskillende fakulteite verskraal het. Teen dié tempo beteken dit dat Afrikaans binne vier jaar omtrent nie meer as onderrigtaal aan die universiteit gaan bestaan nie.

In die meeste fakulteite het die gemiddelde aanbod van Afrikaans die laaste jare sedert prof. Russel Botman as rektor aangestel is tot 10% gedaal. Die gemiddelde staan tans op 38%, sê die onthutste groep Maties.

Dié “drastiese daling” in die aanbod van Afrikaans is waarom die burgerlike organisasies Donderdagaand oudstudente se mosie van wantroue in die US-bestuur se hantering van Afrikaans gaan steun.

In ’n verklaring sê die organisasies die US-raad se leë beloftes oor Afrikaans is die oorsaak van dié “drastiese daling”.

Die mosie gaan ingedien word deur ’n oud-Matie, mnr. Ernst Marais (26), gesekondeer deur adv. Jacques du Preez (30).

Vyftien oudstudente het die mosie onderteken en nege burgerlike organisasies het ’n verklaring uitgereik waarin hulle hul steun aan die oudstudente toesê.

Hulle is die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), die F.W. de Klerk-stigting, die Afrikaanse Taalraad (ATR), AfriForum, die FAK, Regslui vir Afrikaans en Die Voortrekkers.

Leiers van dié organisasies meen die mosie is belangrik omdat dit die aanbod van Afrikaans op sowel tersiêre onderrigvlak as in die publikasie- en mediabedryf op die spits dryf.

As die agteruitgang van Afrikaans op Stellenbosch nie gekeer word nie, gaan dit verreikende negatiewe gevolge hê vir die Afrikaanse media, boeke en kunste, meen hulle.

Hulle eis dat Afrikaans as volwaardige onderrig- en voertaal by die US herstel word, met Engels op versoek deur tolking en parallelmedium.

“Maar ons wil studente aanmoedig om aan te dring op hul reg om onderrig deur Afrikaans te ontvang,” lui die verklaring.

Luidens die mosie is die US “by uitstek” die onderriginstelling waar Afrikaanssprekendes in die taal van hul keuse kan studeer.

Die organisasies sê die US het verskeie leë beloftes oor Afrikaans gemaak:
* Die taalbeleid van 2002 “bestaan nog net op die boeke”;
* Die parallelmedium-onderrig wat in 2007 in die taalbeleid van die US vervat word, is nooit ingevoer nie; en
* Geen deeglike ondersoek oor tolkdienste, wat die US onderneem het om in te voer, is nog gepubliseer nie.

Marais sê hy dien die mosie in “omdat daar ’n behoefte onder hedendaagse Afrikaanssprekendes is om universiteitsopleiding in hul moedertaal te ontvang”.

En Du Preez sê: “Die beloofde gemiddelde van ’n 60%-aanbod in Afrikaans is nie volhoubaar nie omdat die toepassing nie doeltreffend gemonitor word nie.

“Buitengewone taaleise word aan dosente en studente gestel en dit lei prakties tot ’n vetoreg deur die dikwels klein getal studente wat nie Afrikaans verstaan nie.”

Du Preez is aan die F.W. de Klerk-stigting verbonde en sê die stigting is bekommerd oor die implikasies wat die verdwyning van Afrikaans op universiteitsvlak inhou vir dié taal in skole, in die sakewêreld en die media.

***

Mnr. Mohamed Shaikh, ’n woordvoerder van die US, reageer soos volg:

“Dit is onwaar dat parallelmedium-onderrig wat in 2007 in die taalbeleid van die US vervat is ‘nie ingevoer (is) nie’.

Parallelmedium-onderrig (PMO) is suksesvol ingestel in die fakulteite ingenieurswese, natuurwetenskappe, ekonomiese en bestuurswetenskappe en agriwetenskappe en word tans op beduidende skaal na die senior studiejare in van hierdie fakulteite uitgebrei.

“Die beskuldiging dat geen deeglike ondersoek oor tolkdienste (wat die US belowe het ingevoer gaan word) nog gepubliseer is nie, is net so onwaar.”

’n Voorlopige ondersoek is met die hulp van die Noordwes-Universiteit gedoen waarna die US ’n volledige navorsingsprojek oor opvoedkundige tolking as deel van die US se onderrigmodel van stapel gestuur en afgehandel het. Die finale verslag word tans voorberei en sal binnekort voor die US-raad dien.

Die US sê hy verstaan ook nie die basis van die berekeninge van die beskuldiging dat die taalbeleid van 2002 “net op die boeke bestaan” met gemiddeld “net 38% Afrikaans nog in die fakulteite oor” nie.

“Dit val vreemd op. Die onderrig-aanbod in Afrikaans aan die US vir 2012, bereken volgens ’n formule wat die US-raad aanvaar het, is 62%. Die US-raad hou toesig oor die instel van die taalbeleid.”

***

Jong Afrikaanssprekendes wíl hul universiteitsopleiding in hul moedertaal ontvang.

Daarom is dit ’n groep hoofsaaklik bloedjong oud-Maties wat hulle op die Grondwet gaan beroep wat hul reg op opleiding aan openbare opvoedkundige instellings in die taal van hul keuse waarborg.

Dié beginsel geld nie net Afrikaanssprekendes nie, maar alle jong Suid-Afrikaners met ander moedertale, sê mnr. Ernst Marais (26).

Marais gaan die mosie Donderdagaand op ’n konvokasie-vergadering van die Universiteit van Stellenbosch (US) oor die stand van Afrikaans op die kampus indien.

“Ons as jong Afrikaanssprekendes wil graag die transformerende en versoenende potensiaal van Afrikaans ’n werklikheid laat word. Daarom laat ons ruimte vir opleiding aan die US in Engels deur middel van tolke en parallel-me­dium.”

Marais sê die Gerwel-kommissie het in die 1990’s aanbeveel twee Suid-Afrikaanse universiteite word aangewys om Afrikaans as akademiese taal te ontwikkel, een in die suide en een in die noorde.

“Kragtens dié nie-amptelike verslag is die US by uitstek die universiteit in die suide om dié rol te vervul.”

Me. Alana Bailey, woordvoerder oor taalsake by die burgerregte-organisasie AfriForum, het aan Rapport gesê Donderdagaand se mosie is van groot belang.

“Ek het al ’n paar keer skriftelik kontak met die US-bestuur gemaak oor die kwessie. Ek het ’n afspraak met prof. Russel Botman, die rektor, gehad, maar hy het nie opgedaag nie. Die US neem ’n baie geslote houding in teenoor enige poging om hieroor te praat. Hulle beskuldig kritici daarvan dat kritiek hul beeld skade aandoen. Maar studente se klagtes word afgemaak en nie ernstig genoeg hanteer nie. Die mosie gee ’n nuwe, jong stem aan die debat. Die US se reaksie hierop gaan vir voornemende studente sê of die US ernstig is oor Afrikaans.”

Bailey sê AfriForum wil weet wat die belangrikste vir die US is: “Afrikaans en akademiese uitnemendheid deur moedertaalonderrig, of gehoorsaamheid aan die ideologie van die regerende party?

“Die beweerde voordele van Engels om van jou ’n wêreldleier te maak is ’n mite,” sê sy.

Mnr. Chris Klopper, president van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU), sê die toekoms van Afrikaans hang, benewens die behoud van dié taal op tersiêre vlak, ook af van ’n groter hoeveelheid beurstoekennings vir Afrikaanssprekende studente.

“Een rede waarom die Afrikaans-aanbod op tersiêre vlak so vinnig agteruitgaan, is omdat Afrikaanse studente al hoe minder beurse ontvang.”

Volgens hom beland net 54% van Afrikaanse leerlinge wat vir universiteitstoelating kwalifiseer uiteindelik op universiteit. “Dis omdat hulle nie beurse kry nie. Die syfer moet opgestoot word tot 70%.

“Om dit reg te kry, is dit tyd dat die Afrikaanssprekende gemeenskap opstaan en sê: ‘Ons soek nóú beurse vir ons kinders.’?”
Klopper sê ’n doelgerigte gesprek rondom meer finansiering is broodnodig, “en daarvoor het ons die Afrikaanse Taalraad (ATR) nodig om moontlik as bemiddelaar op te tree”.

Klopper sê die SAOU het ’n mandaat vir dié eis van sy 32 000 lede.

“Daar is géén politiek hieraan gekoppel nie. Dit gaan suiwer oor taalbelange. As daar nie meer Afrikaans op universiteitsvlak is nie, watter motivering is daar nog vir kinders om na Afrikaanse skole te gaan? Watter motivering bestaan daar dan nog vir die uitgee van Afrikaanse boeke en ander publikasies?”

Hierin speel die US ’n groot rol, maar daar het dadels gekom van sy beloftes dat Afrikaans sy status op dié kampus gaan behou, sê hy.

“Die afskaal van Afrikaans op naskoolse vlak gaan ’n domino-uitwerking

2010-07-22

Das war ein Vorspiel nur

Maak US-beleid duidelik (Brief, Die Burger, 6 Augustus 2003)

IS dit te veel gevra om van die Universiteit van Stellenbosch te verwag dat opgehou word met die bontpratery oor die kwessie van Afrikaans as voorgraadse onderrigtaal?

Volgens die spesiale uitgawe van die personeelblad Kampusnuus van 24 Julie bepaal die onlangs aanvaarde taalbeleid van die US dat Afrikaans "by verstek"/"outomaties" die leer- en onderrigtaal vir alle voorgraadse onderrigprogramme en -modules is; dat "net in heel spesifieke, veral deeglik gemotiveerde gevalle" hiervan afgewyk kan word en dan "slegs indien die taalkomitee dit sou goedkeur".

Die "beperkte opsies" is in dié verband moontlik die "Engelse opsie" (Engels as "primêre"/enigste onderrigtaal), die tweetalige opsie en die parallelmedium-opsie.

Dit lyk vir my glashelder: Engels (alleen, saam met Afrikaans, óf parallel met Afrikaans) word voorgraads slegs by uitsondering gebruik.

Hoe rym dit dan met volgende stellings in 'n bylae wat op 3 Augustus in Rapport en City Press verskyn het?

. Op bl. 19 staan: "Behalwe in uitsonderlike gevalle word formele lesings in die eerste en tweede jaar in Afrikaans en Engels (my kursivering) aangebied. In die derde jaar is dit in Afrikaans."

. In 'n Engelstalige advertensie van die fakulteit geesteswetenskappe op bl. 18 word dit woordeliks herhaal: "Except in exceptional cases . . . offered in Afrikaans and English."

Wat het ons hier? 'n Glipsie? 'n Nuwe taalbeleid? Bloot 'n foutiewe vertolking van die bestaande beleid? Dalk 'n poging om die beleid na buite meer "aanvaarbaar" te laat klink?

Dit verg nie 'n genie om te sien dat die genoemde stellings drasties van die amptelike beleid afwyk nie. Voornemende studente kan hierdeur onder 'n vals indruk gebring word.

M.K.R. VAN HUYSTEEN
Stellenbosch

Klik hier vir die oorspronklike.

2010-06-07

'US: probeer tolkdienste!' - 'n oorwoë pleidooi

Marius Swart, dosent aan die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Stellenbosch, het by die Adam Tas Taalsimposium van die Woordfees 'n belangrike en deeglike pleidooi vir die wenslikheid van tolkdienste gelewer:
"Vertaal- en tolkdienste kan studente en dosente in staat stel om, binne die raamwerk van Afrikaans en Engels as hooftale wat in die universiteit se meertalige taalbeleidsraamwerk genoem word en waarmee ons hier  vertroud is, die taal van hul keuse te gebruik en hulle daarin uit te druk. Daarmee saam kan dit lei tot die behoud van Afrikaans as dinamiese wetenskapstaal, asook die uitbou van ons derde provinsiale taal, Xhosa, as wetenskapstaal. Hierdie voordele, asook verskeie ander, is al deur empiriese navorsing aan die NWU bewys (Verhoef, 2006:94)."
Klik hier vir die volledige artikel.