2014-03-20

Uitslag bekend: wen vir Afrikaans

In 'n klinkende betuiging van steun vir Afrikaans is al drie persone wat deur prof. Hermann Giliomee by oud-Maties aanbeveel is tot die universiteitsraad verkies. Dr. George du Toit, prof. Wannie Carstens en mnr. Johan Theron sal vir die volgende vier jaar uit die geledere van oud-Maties op die raad van die Universiteit van Stellenbosch dien.

Baie dankie aan oud-Maties en besoekers van hierdie blog vir hulle steun.

Klik hier vir die US se persverklaring.

2014-03-03

Slegs drie kandidate positief oor Afrikaans, US-karakter

Slegs drie uit ses kandidate het hulself positief uitgelaat oor Afrikaans aan die US. In 'n onlangse standpuntstelling oor die US-raadsverkiesing in Die Burger was 'n waardering vir die US se taalkarakter, tradisierykheid en nie-rassige akademiese meriete slegs by Wannie Carstens, George du Toit en Johan Theron te bespeur.

Stem nou vir Carstens, Du Toit en Theron, soos aanbeveel deur prof. Hermann Giliomee. Moedig asseblief ook jou mede-oud-Maties aan, of dit nou kinders, ouers, grootouers, vriende of kollegas is.

Om elektronies te stem, klik hier.
Om op ander wyses te stem, klik hier.

2014-02-06

Aanbeveling deur Hermann Giliomee

Dennerand 5
Stellenbosch
6 Februarie 2014
Beste Konvokasielid

Ek wil graag die volgende kandidate aanbeveel in die verkiesing van lede vir die Raad van die Universiteit van Stellenbosch wat pas begin het.
  • Wannie Carstens
  • George du Toit
  • Johan Theron
Oor die aflope twee jaar is betekenisvolle vordering gemaak in die rigting van die ideaal om `n taalbeleid daar te stel waarin daar `n vaste, volwaardige en volhoubare plek vir Afrikaans gebied word. Langs hierdie fondament kan daar ook vakke of onderdele van vakke in Engels aangebied word.

Daar is op hierdie gebiede gevorder
  1. Dat studente ʼn volledige Afrikaanse ervaring aan die US kon hê. Dit was die belofte van die US-bestuur. 
  2. Ter wille van ‘toegang’ (iets wat deur die Staat vereis word) is beding dat ook Engelssprekendes wat wil baat by US se gehalte van opleiding, so ʼn ervaring kan hê. Daar is dus ʼn parallel-beleid (twee aparte strome). 
  3. Die T-opsie in sy huidige vorm word uitfaseer. 
  4. Die T-opsie behoort in die toekoms te staan vir die Tolk-opsie. Dus: klasse word getolk deur kundige persone (waarvoor in die begroting voorsiening gemaak word) en op hierdie wyse word goeie onderrig verseker. 
Baie kwessies moet nog aangespreek word, soos byvoorbeeld of studente in albei voertale vaardig moet wees, die invoer van behoorlike monitering, en die haalbaarheid van `n aanbod van 100% onderrig in Afrikaans en 100% Engels. Daar is die belangrike vraag of dit aan die dosent oorgelaat kan word in watter taal hy of sy onderrig gee en of `n bepaalde beleid deur die Raad neergelê moet word. Ook is daar die kwessie op daar `n perk geplaas moet word op die inname van Engelssprekendes, soos wat by `n universiteit in die noorde gedoen word. Al hierdie kwessies sal indringend bespreek en besleg moet word deur die Raad.

Ons maak op u samewerking staat om deur u stem die erfenis van Stellenbosch te bewaar en dit vir die toekoms te verseker.
 





Hermann Giliomee

2014 Verkiesing van nuwe US Raadslede begin vandag

[Hierdie is die kennisgewing van verkiesing soos dit op die US-webwerf verskyn]

Lede van die Konvokasie van die Universiteit Stellenbosch (US) het ses persone genomineer waarvan drie tot die US-Raad verkies moet word. Die verkiesing begin op 6 Februarie. Inligting oor elk van die kandidate sowel as hul beleidstellings, is hier beskikbaar.

Die ampstermyne van vyf lede van die Raad verstryk op 1 April 2014 – drie van hierdie raadslede word deur lede van die Konvokasie verkies.

Twee is reeds deur lede van die donateurskorps gekies.

Die persone vir wie volledige nominasies ontvang is:
  • Mnr Thys Blom, Voorsitter van die Wes-Kaapse en Breedevallei-tak van die Vereniging vir Mense met Gestremdhede; 
  • Prof Wannie Carstens, ʼn akademikus verbonde aan die Noordwes-universiteit in Potchefstroom; 
  • Dr Fanie du Toit, Uitvoerende Direkteur van die Instituut vir Geregtigheid en Versoening in Kaapstad; 
  • Dr George du Toit, ʼn ginekoloog en verloskundige van Stellenbosch; 
  • Dr Sorayah Nair, ʼn kliniese sielkundige van Kaapstad; 
  • en Mnr Johan Theron, ʼn prokureur en praktiserend as kommersiële litigant, van Kaapstad
ʼn Verkiesing sal gehou word om die drie vakatures op die Raad te vul.

Prof Carstens en dr George du Toit dien tans op die Raad. Die raadslede deur die Konvokasie verkies wie se ampstermyne verstryk, is dié van prof Carstens, dr Du Toit en adv JC Heunis.

Lede van die Konvokasie kan hulle stemme vir die genomineerde kandidate per gewone posstem of elektroniese stemming van 26 Februarie 2014 tot 17 Maart 2014 om 16:00 uitbring. Stemgeregtigdes op die US se databasis wat nie e-posadresse verskaf het nie, sal inligting oor die kandidate en ʼn stembrief per pos ontvang en die res sal die inligting en stemopsies per e-pos ontvang.

Donateursverteenwoordigers 
Die US se donateurskorps het twee lede vir verteenwoordiging in die US Raad benoem en aangesien slegs twee vakatures vir die hierdie groep op die US Raad bestaan, word die benoemdes onbestrede tot die Raad verkies. Hulle is mnr George Steyn en prof PW van der Walt wat beide tans op die Raad dien en hulself weer verkiesbaar gestel het. Mnr Steyn, ʼn Stellenbosse sakeman en voormalige besturende direkteur van die Pep-kleinhandelgroep is tans die Voorsitter van die Raad en prof Van der Walt – tans ondervoorsitter – is emeritus professor aan die US en voormalige dekaan van die US se Fakulteit ingenieurswese.

2012-03-16

Uitslag van die 2012 Verkiesing!

In die vorige verkiesing, in 2012, het die konvokasie die volgende kandidate tot die Raad van die Universiteit van Stellenbosch verkies:

  • Koos Bekker
  • Piet le Roux
  • Prieur du Plessis
Baie dankie vir al die ondersteuning!

Sien volgende beriggewing vir meer inligting:

2012-03-13

Die nasionale bate-sindroom se totalitêre implikasies

Lees Piet le Roux se nuutste rubriek oor die rol van die Universiteit. Dit is gister op die VryeStudent-webwerf gepubliseer.

Kliek hier vir die rubriek!

2012-03-12

Stem nou!

Stemming sluit môre (Dinsdag 13 Maart) om 16:00. Dis jou laaste kans om te stem. Stem nou voordat jy vergeet!

Druk hier om te stem.

2012-02-16

Posisioneer die Universiteit homself as selfstandige en uitnemende deelnemer in eie reg?


Brief van kandidaat Piet le Roux

15 Februarie 2012
Beste Oud-Matie

Alle oud-Maties mag stem in die huidige verkiesing van lede van die Stellenbosse universiteitsraad. Ek staan as kandidaat en nooi jou graag om te oorweeg om vir my te stem, voor 13 Maart.

Die US-raad speel 'n bepalende rol in die lewenskrag en karakter van 'n Matieland wat ons na aan die hart lê. Enkele van die vrae wat oud-Maties myns insiens vir hierdie verkiesing behoort te oorweeg is:

  • Behou Stellenbosch die Afrikaanse kampuservaring en Afrikaanse voorgraadse onderrig waarvoor soveel Afrikaanse - en juis ook Engelse en ander Maties - oor die laaste eeu na Stellenbosch gekom het?
  • Staan die universiteit naby aan die regering en sy toenemend twyfelagtige onderwys-, ras- en ander beleide, of posisioneer dit homself eerder as selfstandige en uitnemende deelnemer in eie reg?
  • Is die universiteit 'n massa-onderriginstelling wat aanhoudend meer residensiële studente inneem en al meer verblyfplek oprig, of fokus dit op geskikte tegnologiese innovasie en koester dit 'n lojale nismark met inagneming van die dorpsaard van Matieland?

Dit is in hierdie verband vir my aangenaam dat prof. Hermann Giliomee in 'n ope brief aan oud-Maties sy steun aan my kandidatuur toegesê het.

Nodeloos om te sê is dit my erns om die universiteit in sy geheel só te benader dat dit die invloedryke, eersteklas instelling bly waar my kinders, kinders van my mede-oud-Maties en 'n spektrum van nuwe Maties graag sal wil studeer en ontmoet. Benewens die belangrike beleidsvraagstukke, is ek dan ook bekwaam en ywerig om die omvattende oorsigverpligtinge van 'n raadslid deeglik na te kom.

Lees gerus my blog by pietleroux.blogspot.com vir inligting oor waar om te stem, my kandidatuur en meer besonderhede oor my rekord van betrokkenheid. In die loop van die volgende paar weke sal ek op díe blog uitbrei en reageer op navrae oor my standpunte, so laat weet gerus as jy vrae het.

Indien jy weet van ander oud-Maties wat in hierdie e-pos belang sal stel, is jy welkom om dit aan hulle te stuur.

Vriendelike groete.

Piet le Roux
Honneurs B.Comm. (Ekonomie) (2008)

2012-02-15

Student getuig oor wantoepassing van die taalbeleid

Afrikaans@Maties is onlangs in die volgende korrespondensie tussen 'n student en 'n beampte van sy departement ge-Cc. Die korrespondensie is ook aan die betrokke dekaan en die Rektor ge-Cc. Die identiteite van die betrokke partye word met skuilname vervang.

-----------
From: Adam
Sent: 13 February 2012 11:43 PM
To: Prof. Simonsberg
Cc: Dekaan; Prof Russel Botman; afrikaansbymaties@gmail.com
Subject: Klasterugvoer

Goeie dag prof. Simonsberg,

Ek is tans 'n derde jaar E&E-student, graag bring ek die volgende kwessies onder u aandag na afloop van die eerste week van klas.

Dit spyt my om u mee te deel dat ek nie gelukkig is met die manier hoe die Afrikaanse taalaanbod toegepas word nie.

Volgens die jaarboek word al my vakke as die A-spesifikasie voorgehou.
3.4.2.1  A-spesifikasie*
Onderrig is hoofsaaklik in Afrikaans.
Studiemateriaal (handboeke, notas, transparante, elektroniese leer- en
onderrigmateriaal) kan in Afrikaans en/of Engels wees.
Studieraamwerk is in Afrikaans en Engels

My probleem is egter nou die volgende:
Alhoewel die dosente Afrikaans praat tydens lesings is die oorgrote meerderheid van notas, werksopdragte (tutoriale), kursus-webblaaie en selfs bordskrif uitsluitlik in Engels beskikbaar. Ek verstaan dat alle E&E-vakke sedert 2012 na Engels toe getolk word. Boonop vind die tolking deur middel van kopfone plaas wat volgens die tolk R5000 stuk kos.
Die huidige situasie op grondvlak lyk as volg:
Vak
Spreektaal
Bordskrif
Skyfies
Kursuswebblad
Handboek
Tuts
Beheerstelsels
Afr met tolk
Engels
Engels
Afr en Eng
Engels
A&E
Elektromagnetika
Afr met tolk
Engels
Engels
Engels
Engels
Eng
Elektronika 315  
Afr met tolk
Afrikaans
A&E
Afr en Eng
Engels
Eng
Stelsels en Seine
Afr met tolk
Engels
Engels
Afr en Eng
Engels
A&E
Ontwerp (E) 314
Afr met tolk
n/a
Afr en Eng
Afrikaans
Engels

Soos u in die bostaande tabel kan sien het Afrikaanse studente merendeels slegs hul eie, handgeskrewe notas wat uitsluitlik op gehoor gebaseer word as studiebron. Terselfdertyd word Engelse studente op alle platforms in Engels gevoer.

Ek vind dit bitter onregverdig dat Afrikaans in die E&E-departement tot slegs 'n gesproke taal gereduseer word terwyl Engelse studente onder die dekmantel van die A-opsie geen kennis van Afrikaans nodig het nie. Ek voel ook dat dit die bestuur van die Ingenieursfakulteit se skuld is dat hierdie situasie ontstaan het waar sekere studente aanvoer dat hulle geen begrip van Afrikaans het nie en dan met moord wegkom. Hierdie studente het twee jaar lank kans gehad om ’n redelike kennis van Afrikaans op te bou deur taalvaardigheidsklasse. Ongelukkig het hierdie studente dan ook bitter min blootstelling aan en oefening in die taal gekry buite hierdie klasse aangesien hulle altyd net kon aanvoer dat hulle nie verstaan nie. Die dosente sou dan agteroor buig om in Engels voort te gaan. Male sonder tal het ek byvoorbeeld onder mnr Pieke se aandag gebring dat die middaguur-sessies in jaar een en twee wat veronderstel was om volgens die T-spesifikasie aangebied te word 99% Engels was, omdat sekere studente aangevoer het dat hulle nie kon verstaan nie. Prof Simonsberg, ek stem volhartig saam met Jean Laponce, ʼn gesiene Kanadese taalkenner, hy sê: “The system is to the advantage of English, Afrikaans being retained as a mere decoration.” Mag ek vra dat u toesien dat u dosente Afrikaans as ’n onderrigtaal aanwend eerder as ’n vensterversiering aan die buitewêreld?

Matiegroete
Adam


2012/2/14 Prof. Simonsberg

Beste Adam

Ek neem kennis van jou epos en aangesien ons volledig aan die jaarboek se A-spesifikasie voldoen, verstaan ek nie regtig wat jou probleem is nie.  Ek stel voor jy maak ‘n afspraak om my te kom spreek.

Groete
Prof Simonsberg


2012/2/14 Adam

Geagte prof. Simonsberg

Dat dit aan ’n slim verdraaiing van die letter van die jaarboek voldoen mag dalk so wees, maar dink u werklik dat dit die gees daarvan nastreef?

Soos ek u interpretasie van die spesifikasie verstaan is Afrikaans dan nou finaal verneder tot slegs 'n gesproke taal en is al die mooi paaiwoorde van oor die jare heen deur Prof Botman werklikwaar net 'n taktiek om dit wat op grondvlak gebeur te verdoesel totdat die laaste lesing by hierdie Universiteit in Afrikaans geskied.

Matiegroete
Adam

2012-02-14

Piet le Roux-blog


Kandidaat vir die US-raadsverkiesing Piet le Roux het onlangs sy eie blog van stapel gestuur. Besoek dit gerus vir meer inligting oor sy betrokkenheid by die bevordering van Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch.

Adres: http://pietleroux.blogspot.com/

2012-02-12

Laai US-Raad met taalbulle, vra Giliomee

’n Nuwe salvo oor die posisie van Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch (US) is dié week gevuur toe oud-Maties landwyd opgeroep is om drie kandidate tot die US-raad te verkies wat die belange van Afrikaans op die kampus ten beste kan bevorder.

Hulle sal by uitstek sorg dat “die keerpunt vir Afrikaans by Maties wat in sig is”, bereik word.

In ’n ope brief aan lede van die konvokasie (oudstudente) vra die historikus prof. Hermann Giliomee, voorste kampvegter vir Afrikaans op Stellenbosch, dat stemgeregtigdes hul kruisies trek langs die name van mnre. Koos Bekker, uitvoerende hoof van Naspers, Ainsley Moos, redakteur van Rapport se susterskoerant Volksblad, en Piet le Roux, stigter van Maties se Adam Tas-studentevereniging en tans senior navorser by die vakbond Solidariteit.

Die stemmery het verlede Donderdag begin en sluit op 13 Maart.

Die dienstydperk van die verkose kandidate is van 2 April tot 1 April 2016.

Agt kandidate is deur konvokasielede benoem vir die drie vakatures.

Dit het ontstaan vanweë die verstryking van die ampstermyne van Bekker en dr. Adelbert Scholtz (arbeidskonsultant en emeritus-predikant), en die bedanking uit die raad van die menseregte-aktivis dr. Rhoda Kadalie verlede jaar.

Bekker en Scholtz het hulle weer beskikbaar gestel.

Die ander kandidate is Moos en Le Roux, mnr. Omar Henry (voormalige nasionale krieketspeler en uitvoerende hoof van Boland Krieket); mnr. Le Roux van der Westhuizen (uitvoerende hoof van die Millennium Trust); dr. Prieur du Plessis (voorsitter van Plexus Batebestuur); en me. Sanet Nowers (direkteur in die Wes-Kaapse Onderwysdepartement).

Giliomee vra in sy brief stemme vir Moos, Le Roux en Bekker “omdat hulle hulle uitstekend van hul taak as raadslede sal kwyt. Benewens die voertaalkwessie vereis ander aktuele sake – transformasie, die outonomie en uitbou van die universiteit, finansiële verantwoordbaarheid, asook internasionale gehalte met Afrikaans as voertaal – kundige raadstoesig.

“Ek glo dié drie kan in al dié gevalle belangrike bydraes lewer. Dis nodig om bekwame lede te kies om hulle by ander raadslede te voeg om te verseker Afrikaans beklee sy regmatige plek aan die US – ook dat die US onder die top-universiteite in die land bly en dat sy internasionale aansien verder uitgebou word.”

Giliomee sê die stand van Afrikaans aan die US is vir alumni belangrik:

* Sedert 2006 beywer die konvokasie- en donateursverkose raads­lede hulle vir ’n beleid om Afrikaansmedium-onderrig aan die US ’n vaste en volwaardige plek te gee. 
“Die openbare telbord wys tot dusver is geen wesenlike vordering gemaak nie.”

* Tussen 2004 en 2011 het voorlesings in Afrikaans van 75% na 37% afgeneem.

* Dubbelmediumklasse (T-opsie), “wat in sowat 50% van klasse toegepas word, is ’n onderrigmodus wat nie deur gerespekteerde Europese of Amerikaanse universiteite gebruik word nie”.

* Die US-konvokasie het einde verlede jaar ’n mosie aanvaar waarin die US-raad gevra word “vir ’n dringende, volwaardige plek vir Afrikaans in alle fakulteite en, indien Engels ook aangebied word, dit deur tolking of parallelmedium geskied”.

* Die US-raad het ’n verslag aanvaar waarin die meer uitgebreide gebruik van gelyktydige tolkdienste aanbeveel word. “Die raadslede wat deur die konvokasie en die donateurs verkies word, kan sorg dat tolkdienste wyer ingestel word.”

Giliomee skryf voorts:

“Die stryd om Afrikaans op die Matie-kampus is lank nie verby nie. Ons glo ’n keerpunt is in sig. “Bekwame raadslede is nodig om te verseker dat Afrikaans sy regmatige plek aan die US beklee, dat die US onder die top-universiteite in die land bly en dat sy internasionale aansien verder uitgebou word.”

DEBAT OOR AFRIKAANS AS HOOFONDERRIG- EN VOERTAAL 

* In die Wes-Kaap praat die meeste mense Afrikaans (56%), naas Xhosa (23,7%) en Engels (19,3%).
* Afrikaans (13%) is die derde grootste moedertaal in Suid-Afrika, naas Zoeloe (24%) en Xhosa (18%).
* Die wit en bruin Afrikaanse gemeenskap van die Wes-Kaap het ’n grondwetlike reg om ’n volwaardige Afrikaanse universiteit te hê.
* Twee van die drie universiteite in die Wes-Kaap (Universiteite van Kaapstad en Wes-Kaapland) is Engels.
* Die US is geposisioneer om in Suid-Afrika dié vooginstelling te wees vir Afrikaans se status as akademiese taal: Maties se geskiedenis is nou vervleg met Afrikaans.
* Afrikaans is ’n gevorderde, volledig ontwikkelde vak-, wetenskap- en literêre taal.
* Die Matie-kampus is in ’n gebied van oorwegend Afrikaanssprekendes geleë.
* “Die taaldebat op Matieland is nie net ’n geografies beperkte kwessie nie, dit gaan oor die voortbestaan van Afrikaans.” – Prof. Christo Viljoen, konvokasie-voorsitter
* Twaalf Afrikaanse organisasies (ledetal 500?000) wil hê Afrikaans moet ’n volwaardige plek in alle US-fakulteite kry.
* ’n Opname van die SAOU toon die behoefte aan Afrikaans as opleidingsmedium op universiteitsvlak wissel van 100% tot 77% (gemiddeld 87%).
* Die T-opsie (tweetalige lesings) “is pedagogiese onsin”. – Wyle dr. Frederik Van Zyl Slabbert
* “Op wie kan Afrikaans vertrou? Op gewone mense soos die konvokasie en sommige studente.”  – Mnr. Koos Bekker, Oktober 2005 

2012-02-11

Hoekom Engelssprekers na Maties stroom


Dosent (9/2) begaan die glips om te reageer op ʼn berig wat hy/sy klaarblyklik nie deurgelees het nie. Hy verwys na die berig “Meer as 60% van leerders verkies Engelse as medium van onderrig” (DB 8/2), en maak dan stellings dat studente aan die Universiteit Stellenbosch Engelse onderrig verkies. Nóg sy afleidings uit die berig, nóg sy bewerings oor studentevoorkeure vir Engelse onderrig, is korrek.

Die betrokke berig oor taalvoorkeure by Suid-Afrikaanse leerlinge gee dan júís erkenning aan die uitsondering van Afrikaans. “Na raming is Afrikaans 1,1miljoen se huistaal, terwyl 1,3miljoen dit as onderrigtaal verkies.” Só gesien lyk dit selfs asof ʼn beduidende groep Afrikaans-tweedetaalsprekers Afrikaans verkies.

Dosent vertel ook dat net 5 uit 90 studente hul hande opgesteek het toe hy gevra het wie Afrikaanse onderrig verkies. Hy kon netsowel vir hulle gevra het: “Wie van julle wil hê ek moet Afrikaans praat sodat enkele eentalig Engelse persone – wat onder die T-opsie vaandel ingeskryf is – nie die klas verstaan nie? ʼn Vraag wat nog minder reaksie sou uitlok is “Wie van julle is onverdraagsaam en te dom om Engels te verstaan?”

Gelukkig is daar ook goeie navorsing beskikbaar. In 2008 het wyle prof. Lawrie Schlemmer, in ʼn omvattende ondersoek onder studente in opdrag van die US-raad, bevind dat “die beginsel van Afrikaans as leidende taal, met sterk toevoegings en/of addisionele lesings in Engels, die gewildste oplossings is wat in die opname-resultate verskyn.”

ʼn Veel beter vraag vir Dosent sou wees: “Wie van julle verkies voorgraads hoofsaaklik Afrikaanse onderrig op Stellenbosch bó hoofsaaklik Engelse onderrig by die Universiteit van Kaapstad?” Die antwoord hierop laat derduisende Engels-eerstetaal Maties al vir die laaste eeu na ʼn verwelkomende, hoofsaaklik Afrikaanse Stellenbosch stroom.

Geskryf deur Piet le Roux gepubliseer in Die Burger op 11 Februarie 2012

2012-02-10

Agt benoem vir drie raadsposte

STELLENBOSCH - Agt kandidate is deur lede van die konvokasie van die Universiteit Stellenbosch (US) vir die drie vakatures in die US-raad benoem.

Mnr. Martin Vilijoen van die universiteit se kommunikasiedepartement het in 'n verklaring gesê 'n verkiesing sal gevolglik gehou word om te bepaal wie die konvokasieverteenwoordigers in die raad sal wees vir die tydperk 2 April 2012 tot 1 April 2016.

Konvokasielede het tot 16:00 op 13 Maart om hul stemme uit te bring.

Die vakatures het onstaan na die verstryking van die ampstermyne van mnr. Koos Bekker en dr. Adelbert Scholtz, asook dr. Rhoda Kadalie se bedanking uit die raad verlede jaar.

Die konvokasie, wat ses verteenwoordigers in die universiteitsraad het, bestaan uit almal uit wat gedurende die afgelope Desember-gradeplegtighede en sertifikate en diplomas van die US en ook heeltydse, huidige en afgetrede akademiese personeel van die US.

Die kandidate vir die verkiesing is mnre. Koos Bekker, uitvoerende hoof van Naspers, Ainsley Moos, hoofredakteur en uitgewer van die Volksbladgroep, Piet le Roux, senior navorser van Solidariteit, en Omar Henry, voormalige nasionale krieketspeler en uitvoerende hoof van Boland-Atletiek, asook drs. Adelbert Scholtz, praktiserende sielkundige, arbeidskonsultant en emeritiuspredikant, Le Roux van der Westhuizen, uitvoerende hoof van die Millenium Trust, en Prieur du Plessis, voorsitter van Plexus Batebestuur, en me. Sanet Nowers, direkteur in die Wes-Kaapse onderwysdepartement.

Slegs een kandidaat, mnr. Jannie Durand, is deur die donateurs van die US aangewys om dr. Paul Cluver as hul verteenwoordiger in die raad te vervang. Hy is dus onbestrede tot die raad verkies.

Die verkiesingsproses word gemonitor deur KPMG, wat na die verkiesing 'n ouditverslag aan die kiesbeampte sal lewer.

Berig deur Ilse Krige gepubliseer in Die Burger op 10 Februarie 2012.

Raadsverkiesing 2012: Vir wie om te stem?

Brief deur Hermann Giliomee
Februarie 2012
Beste Oud-Matie

Ek neem die vrymoedigheid om die volgende drie kandidate vir die komende verkiesing van Raadslede van die Universiteit van Stellenbosch (US) by u aan te beveel om vakatures op die US-Raad te vul. Alle gradueerde oud-studente en donateurs van die US mag vanaf 9 Februarie op die universiteitswebblad (direkte skakel) stem. Stemming sluit op 13 Maart om 16h00.

Ek vra u ook vriendelik om hierdie brief aan al u vriende en kennisse te stuur wat as alumni en donateurs stemgeregtig is en hulle aan te moedig om te stem. Saam kan ons dit doen as elkeen hierdie e-pos aan ten minste vyf e-posadresse stuur.

Raadslede wat verkies moet word deur die Konvokasie
  • Ainsley Moos (Redakteur: Volksblad)
  • Piet le Roux (Solidariteit)
  • Koos Bekker (Naspers)
Mnr. Jannie Durand van die Remgro-groep, wat ek ook graag sou aanbeveel, saam met bogenoemde drie, is reeds onbestrede verkies tot US-Raadslid deur die Donateurs.

Die aanbevole kandidate het nie gevra dat hul kandidatuur op hierdie wyse bevorder word nie en ek wil ook geensins te kenne gee dat hulle oor die kwessie van Afrikaans as onderrigmedium aan die US presies dieselfde mening huldig as die een wat ek al in die openbaar uitgespreek het nie. Ek het die kwessie wel met ʼn aantal mense bespreek wat die belange van die universiteit op die hart dra.

Ek is daarvan oortuig dat die bogenoemde persone hulle uitstekend van hul taak as
Raadslede sal kwyt.

Bo en benewens die voertaalkwessie is daar verskeie ander aktuele aangeleenthede, soos transformasie, die outonomie van die universiteite en finansiële verantwoordbaarheid, die uitbou van die US as universiteit van internasionale gehalte met Afrikaans as voertaal, ens., wat kundige toesig deur die Raad vereis. Ek glo dat die aanbevole kandidate in al die gevalle ʼn belangrike bydrae sal kan maak.   

Soos voor die verkiesings van 2008 en 2010 gee ek in hierdie skrywe ʼn kort oorsig van die stand van Afrikaans aan die US, wat vir talle alumni ʼn belangrike saak is.

Dit wil soms voorkom of die stryd om aan Afrikaansmedium-onderrig aan die US ʼn vaste en volwaardige plek te gee nie beslissend afgehandel kan word nie. Sedert 2006 beywer Konvokasie- en Donateursverkose Raadslede hulle vir so ʼn beleid en tog wys die openbare “telbord” tot dusver geen wesenlike vordering nie.

Tussen 2004 en 2011 het die A-opsie modules (die voorlesing geskied in Afrikaans) as ʼn proporsie van die voorgraadse aanbod afgeneem van ongeveer 75 persent tot 37 persent. Die syfer van 37 persent is net moontlik gemaak omdat in drie fakulteite (Ingenieurswese, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en Opvoedkunde) Afrikaansmedium-onderrig nog sterk staan.  In die ses ander fakulteite is die gemiddelde blootstelling van studente aan die A-opsie modules minder as 10 persent – in sommige gevalle nul.

Dubbelmedium (Afrikaans en Engels in dieselfde klas, oftewel die sogenaamde T-opsie) word in ongeveer die helfte van al die kursusse voorgraads gebruik. Dit is ʼn onderrigmodus wat nie deur gerespekteerde universiteite in Europa of die VSA gebruik word nie. Dit lei onafwendbaar tot die uitfasering van die kleiner taal (in die US-geval Afrikaans).

Jean Laponce, ʼn gesiene Kanadese taalkenner, het gewaarsku dat as huidige tendense nie omgedraai word nie Afrikaans aan Stellenbosch oor die medium tot lang termyn verplaas sal word. Soos hy dit stel: “The system is to the advantage of English, Afrikaans being retained as a mere decoration.” 

Desondanks was daar oor die afgelope jaar aan die US tog aansienlike vordering in die verwesenliking van die doelwit om Afrikaansmedium as die vernaamste voertaalopsie te vestig.

  • ʼn Regsmening het voor die US-Raad gedien dat die oordeelkundige gebruik van Afrikaansmedium nie ongrondwetlik is nie en dié mening is ook duidelik in die pers uitgespel deur Jan Heunis, ʼn huidige Konvokasie-verkose US-Raadslid en visepresident van die Konvokasie, wie se termyn eers in 2014 verstryk.
  • Die US-Konvokasie het by sy vergadering in November 2011 met ʼn oorweldigende meerderheid ʼn mosie aanvaar waarin die US-Raad gevra word dat daar “dringend ʼn volwaardige plek vir Afrikaans in alle fakulteite verskaf word en indien daar desnoods ook ʼn Engelse aanbod gedoen word dit deur tolking of parallelmedium geskied.”
  • Twaalf Afrikaanse organisasies met ʼn gesamentlike ledetal van meer as 500 000 ingeskrewe lede, insluitende die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, het hierdie mosie gesteun.
  •  ʼn Opname van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie in agt provinsies het gevind dat die behoefte aan Afrikaans as opleidingsmedium op universiteitsvlak gewissel het van 100% tot 77% met ʼn geweegde gemiddelde van 87%. Die bevinding strook met die een in die 2007 Schlemmer-opname onder voorgraadse studente aan die US. Daarvolgens was “hoofsaaklik Afrikaansmedium” die opsie wat die meeste Afrikaanse studente verkies (meer as 80%).
  • In ʼn TV-onderhoud op 13 November 2011 op “Robinson Regstreeks” het die US-Rektor verklaar: “Daar is geen twyfel nie, ʼn student wat na US kom, kan in sy taal studeer.” Dit is nog onduidelik of dit beteken in die T-opsiemetode (wat wesenlik onmoniteerbaar is) of in Afrikaansmedium of by wyse van simultane tolkdienste.
  • Die US-Raad het ʼn verslag aanvaar waarin die meer uitgebreide gebruik van simultane tolkdienste aanbeveel word. Die Raadslede verkies deur die Konvokasie en Donateurs kan sorg dat die wyer instel van tolkdienste en die monitering daarvan op die mees  doeltreffende wyse geskied.|
  • Die opvoedkundige Marie Heese (ʼn voormalige Konvokasie-verkose Raadslid), het in ʼn gesaghebbende artikel in Die Burger aangetoon dat daar eenstemmigheid onder voorste pedagoë is dat moedertaal-onderrig, ook op universiteitsvlak, die doeltreffendste is.
Die stryd is nog lank nie verby nie, maar ons glo dat ʼn keerpunt in sig is. Dit is nodig om bekwame Raadslede te kies om hulle by ander Raadslede te voeg om seker te maak dat Afrikaans sy regmatige plek aan die US beklee en dat die US onder die top universiteite in die land bly en sy internasionale aansien verder uitgebou word. 

Ek vra u dus met 'n oop gemoed om te gaan stem omdat u stem ʼn wesenlike verskil kan maak. Hoe groter die aantal stemme in die verkiesings vir die kandidate uit die Konvokasie en Donateurs, hoe swaarder die gewig van hierdie mense op die US-Raad.

Indien u per stembrief wil stem en teen 24 Februarie nog geen stembrief vanaf die Universiteit ontvang het nie, kontak asseblief die registrateurskantoor by 021 808 9398.

Ek sluit af met die woorde van Koos Bekker in sy bydrae tot groot polemiek in Die Burger in Oktober 2005 oor Afrikaansmedium as voertaal aan die US. Hy het die vraag gestel: “Op wie kan Afrikaans vertrou?” Sy antwoord was: “Op gewone mense soos die Konvokasie en sommige studente.”

Vriendelike groete.

Hermann Giliomee

(US-Raadslid, 2006-2010, verkies deur die Konvokasie)

2011-12-09

T-opsie 'waarborg nie 50% Afrikaans'

STELLENBOSCH. – ’n Weerspreking van die Universiteit Stellenbosch (US) se aannames oor die T-opsie van die taalbeleid het blykbaar stil-stil deur die senaat geglip en is ook as standpunt­dokument aanvaar.
Die inhandiger van die dokument is glo ’n lektor wat anoniem wil bly en wat eintlik téén die US as Afrikaanse universiteit gekant is.
Dié standpunt word onder meer soos volg bewoord: “Die T-opsie is nie ’n waarborg vir 50% Afrikaanse aanbod in my klasse nie; die taalstryders is korrek wat dit betref. My Engelssprekende kollegas kan ook nie 50% Afrikaanse lesings aanbied nie, al wil hulle ook.”
Mnr. Piet le Roux, ’n oudstudenteraadslid wat vroeër as lid van die Adam Tas-studentevereniging hom vir die behoud van Afrikaans aan die US beywer het, het gesê: “Hierdie druis natuurlik in teen die verontwaardiging vanuit US-bestuurskant, al die jare en tot vandag toe nog, dat dit hoegenaamd denkbaar sou wees dat die T-opsie nie minstens 50% Afrikaans beteken nie.
“Dit (die standpuntdokument) gee alles gelyk wat (prof. Hermann) Giliomee, (prof. Pieter) Kapp, Adam Tas, Tygerbergers vir die Behoud van Afrikaans en onlangs Jacques du Preez en Ernst Marais wat die konvokasiemosie vroeër in November gestel het, al oor die T-opsie gesê het.”
Le Roux het beklemtoon: “Dit trek maar net nog ’n streep – en dié keer ’n dik, vet rooie – deur al die versekerings dat die T-opsie kan werk, wél reg gemoniteer word, ’n uitsondering sal bly en dat Afrikaans die hoofonderrigtaal sal bly.”
’n Senaatslid wat nie as amptelike bron genoem wil word nie, het bevestig dat die dokument in die senaat aanvaar is.
Daarin erken die universiteit, volgens die bron, dat hy nie die T-opsie reg toepas nie.
...
Lees die volledige berig deur Ilse Krige hier, gepubliseer op 9 Desember 2011 in Die Burger.

2011-08-11

‘Afrikaans verdwyn sonder monitering’

Stellenbosch - Die toekoms van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch (US) lyk somber indien die toepassing van dubbelmedium-onderrig in klasse nie dopgehou word nie.

Só meen mnr. Ernst Marais, ’n doktorale regstudent wat namens ’n groep huidige en oud-Maties ’n mosie ingedien het waarin hulle eis dat die US-bestuur ’n volwaardige plek vir Afrikaans aan die universiteit moet verseker.

Die mosie sal Donderdagaand op die algemene jaarvergadering van die konvokasie van die US bespreek word.

Volgens Marais faal die US om dubbelmedium-onderrig, ook bekend as die T-opsie (’n minimum Afrikaanse aanbod van 50% in die klas), doeltreffend in klasse toe te pas.

’n Ongepubliseerde studie wat deur die F.W. de Klerk-stigting gedoen en deur mnr. Piet le Roux, ’n oud-Matie, saamgestel is, toon dat 36,5% van voorgraadse klasse net in Afrikaans aangebied word.

By nadere ondersoek blyk dit uit die verslag dat slegs studente van die fakulteite ekonomiese en bestuurswetenskappe, ingenieurswese en opvoedkunde ’n meerderheid A-opsie (klas net in Afrikaans) ontvang.

In die ses oorblywende fakulteite is die A-opsie in die minderheid en word die T-opsie tot in 100% van sommige fakulteite gebruik.

“Die toepassing van die T-opsie word nie gemoniteer nie en baie van die klasse is meestal – indien nie uitsluitlik nie – in Engels. Dít word meestal veroorsaak deur studente wat Afrikaans sleg of glad nie magtig is nie en dan ’n ‘vetoreg’ uitoefen en dosente versoek om meer Engels te praat. Engels word dan die dominante taal,” het Marais gesê.

Hy het vervolg dat Afrikaans as hoofonderrigtaal aan die US gaan verdwyn indien dié neiging voortgaan.

“Dit is waarom ons die US-bestuur deur middel van die mosie vra om ’n volwaardige plek vir Afrikaans te verseker en om, waar nodig, Engelse studente deur middel van tolkdienste en/of parallelmedium-onderrig te akkommodeer,” het hy bygevoeg.

Die US het gister teen laatmiddag nie gereageer op navrae oor hoe die taalbeleid tans uitgevoer word nie.

Die Afrikanerbond, ATKV en Adam Tas-studentevereniging het gister hul steun aan die mosie toegesê.


Berig deur Malani Venter gepubliseer in Die Burger op 2011-11-08

Wetsontwerp oor taal ‘is 'n dilemma vir universiteite'

Kaapstad - Taalwetgewing wat Vrydag in die parlement ter tafel gelê is, gaan nie die kopseer van Maties se jongste taaldebat help verlig nie.

Nêrens in die Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale word melding gemaak van meertaligheid in hoëronderwys-instellings nie.

Dié kwessie word ook nie hanteer in die Wysigingswetsontwerp vir Hoër Onderwys en Opleiding wat tans voor die Nasionale Raad van Provinsies dien nie.

Mnr. Cerneels Lourens van die organisasie Regslui vir Afrikaans het gesê dit is ’n groot leemte in die taalwetsontwerp.

“Dié taalwetsontwerp is ’n kind van die Grondwet en behoort uitgebrei te word om voorsiening te maak vir instellings vir hoër onderwys en die beskerming van moedertaalonderrig.”

Lourens het gesê daar is nog groot regsonsekerheid oor veeltaligheid by dié instellings.

Hy het gevra hoekom word daar nie druk op die Universiteit van Kaapstad geplaas om binne ’n oorwegend Afrikaanse gemeenskap ook Afrikaans as voertaal te gebruik nie.

“Dit lyk soos ’n politieke agenda van die regering en dalk is dit tyd vir Maties om hul eie Arab Spring vir Afrikaans te hê.”

Lourens het gesê wetgewende bepalings hieroor sal help om eenvormigheid in die bevordering van veeltaligheid in instellings vir hoër onderwys te skep.

“Die regte van minderhede, soos Afrikaanssprekendes in instellings vir hoër onderwys, behoort ook in die wetsontwerp beskerm te word.”

Die huidige taalwetsontwerp het net betrekking op nasionale departemente en hoe hulle die taalbeleid prakties moet toepas.

Mnr. Andricus van der Westhuizen, DA-LP gemoeid met onderwys, het gesê die leemte in wetgewing is deel van die dilemma vir universiteite.

“Indien meertaligheid bevorder moet word, sal die regering meer finansiële steun aan dié instellings moet gee en dit sal groter sekerheid skep wanneer dit in ’n wet geskryf staan.

“Daar sal dus meer finansiële beskerming vir die instellings wees.”

Intussen is die taaldebat weer deur ’n groep oud- en huidige Maties gestook deurdat ’n mosie teen die universiteitsbestuur ingedien is oor sy hantering van Afrikaans.

Die mosie sal Donderdag op die algemene jaarvergadering van die universiteit se konvokasie bespreek word.

Berig deur Alicestine October gepubliseer in Die Burger op 2011-11-08