Stem in die 2014 verkiesing van nuwe raadslede en gee aan Afrikaans 'n vaste plek op Stellenbosch.
2014-03-20
Uitslag bekend: wen vir Afrikaans
Baie dankie aan oud-Maties en besoekers van hierdie blog vir hulle steun.
Klik hier vir die US se persverklaring.
2014-03-03
Slegs drie kandidate positief oor Afrikaans, US-karakter
Stem nou vir Carstens, Du Toit en Theron, soos aanbeveel deur prof. Hermann Giliomee. Moedig asseblief ook jou mede-oud-Maties aan, of dit nou kinders, ouers, grootouers, vriende of kollegas is.
Om elektronies te stem, klik hier.
Om op ander wyses te stem, klik hier.
2014-02-06
Aanbeveling deur Hermann Giliomee
Ek wil graag die volgende kandidate aanbeveel in die verkiesing van lede vir die Raad van die Universiteit van Stellenbosch wat pas begin het.
- Wannie Carstens
- George du Toit
- Johan Theron
Daar is op hierdie gebiede gevorder
- Dat studente ʼn volledige Afrikaanse ervaring aan die US kon hê. Dit was die belofte van die US-bestuur.
- Ter wille van ‘toegang’ (iets wat deur die Staat vereis word) is beding dat ook Engelssprekendes wat wil baat by US se gehalte van opleiding, so ʼn ervaring kan hê. Daar is dus ʼn parallel-beleid (twee aparte strome).
- Die T-opsie in sy huidige vorm word uitfaseer.
- Die T-opsie behoort in die toekoms te staan vir die Tolk-opsie. Dus: klasse word getolk deur kundige persone (waarvoor in die begroting voorsiening gemaak word) en op hierdie wyse word goeie onderrig verseker.
Ons maak op u samewerking staat om deur u stem die erfenis van Stellenbosch te bewaar en dit vir die toekoms te verseker.
Hermann Giliomee
2014 Verkiesing van nuwe US Raadslede begin vandag
Lede van die Konvokasie van die Universiteit Stellenbosch (US) het ses persone genomineer waarvan drie tot die US-Raad verkies moet word. Die verkiesing begin op 6 Februarie. Inligting oor elk van die kandidate sowel as hul beleidstellings, is hier beskikbaar.
Die ampstermyne van vyf lede van die Raad verstryk op 1 April 2014 – drie van hierdie raadslede word deur lede van die Konvokasie verkies.
Twee is reeds deur lede van die donateurskorps gekies.
Die persone vir wie volledige nominasies ontvang is:
- Mnr Thys Blom, Voorsitter van die Wes-Kaapse en Breedevallei-tak van die Vereniging vir Mense met Gestremdhede;
- Prof Wannie Carstens, ʼn akademikus verbonde aan die Noordwes-universiteit in Potchefstroom;
- Dr Fanie du Toit, Uitvoerende Direkteur van die Instituut vir Geregtigheid en Versoening in Kaapstad;
- Dr George du Toit, ʼn ginekoloog en verloskundige van Stellenbosch;
- Dr Sorayah Nair, ʼn kliniese sielkundige van Kaapstad;
- en Mnr Johan Theron, ʼn prokureur en praktiserend as kommersiële litigant, van Kaapstad
Prof Carstens en dr George du Toit dien tans op die Raad. Die raadslede deur die Konvokasie verkies wie se ampstermyne verstryk, is dié van prof Carstens, dr Du Toit en adv JC Heunis.
Lede van die Konvokasie kan hulle stemme vir die genomineerde kandidate per gewone posstem of elektroniese stemming van 26 Februarie 2014 tot 17 Maart 2014 om 16:00 uitbring. Stemgeregtigdes op die US se databasis wat nie e-posadresse verskaf het nie, sal inligting oor die kandidate en ʼn stembrief per pos ontvang en die res sal die inligting en stemopsies per e-pos ontvang.
Donateursverteenwoordigers
Die US se donateurskorps het twee lede vir verteenwoordiging in die US Raad benoem en aangesien slegs twee vakatures vir die hierdie groep op die US Raad bestaan, word die benoemdes onbestrede tot die Raad verkies. Hulle is mnr George Steyn en prof PW van der Walt wat beide tans op die Raad dien en hulself weer verkiesbaar gestel het. Mnr Steyn, ʼn Stellenbosse sakeman en voormalige besturende direkteur van die Pep-kleinhandelgroep is tans die Voorsitter van die Raad en prof Van der Walt – tans ondervoorsitter – is emeritus professor aan die US en voormalige dekaan van die US se Fakulteit ingenieurswese.
2012-03-16
Uitslag van die 2012 Verkiesing!
2012-03-13
Die nasionale bate-sindroom se totalitêre implikasies
Lees Piet le Roux se nuutste rubriek oor die rol van die Universiteit. Dit is gister op die VryeStudent-webwerf gepubliseer.Kliek hier vir die rubriek!
2012-03-12
Stem nou!
Druk hier om te stem.
2012-02-16
Posisioneer die Universiteit homself as selfstandige en uitnemende deelnemer in eie reg?
Brief van kandidaat Piet le Roux15 Februarie 2012
Beste Oud-Matie
Alle oud-Maties mag stem in die huidige verkiesing van lede van die Stellenbosse universiteitsraad. Ek staan as kandidaat en nooi jou graag om te oorweeg om vir my te stem, voor 13 Maart.
Die US-raad speel 'n bepalende rol in die lewenskrag en karakter van 'n Matieland wat ons na aan die hart lê. Enkele van die vrae wat oud-Maties myns insiens vir hierdie verkiesing behoort te oorweeg is:
- Behou Stellenbosch die Afrikaanse kampuservaring en Afrikaanse voorgraadse onderrig waarvoor soveel Afrikaanse - en juis ook Engelse en ander Maties - oor die laaste eeu na Stellenbosch gekom het?
- Staan die universiteit naby aan die regering en sy toenemend twyfelagtige onderwys-, ras- en ander beleide, of posisioneer dit homself eerder as selfstandige en uitnemende deelnemer in eie reg?
- Is die universiteit 'n massa-onderriginstelling wat aanhoudend meer residensiële studente inneem en al meer verblyfplek oprig, of fokus dit op geskikte tegnologiese innovasie en koester dit 'n lojale nismark met inagneming van die dorpsaard van Matieland?
Dit is in hierdie verband vir my aangenaam dat prof. Hermann Giliomee in 'n ope brief aan oud-Maties sy steun aan my kandidatuur toegesê het.
Nodeloos om te sê is dit my erns om die universiteit in sy geheel só te benader dat dit die invloedryke, eersteklas instelling bly waar my kinders, kinders van my mede-oud-Maties en 'n spektrum van nuwe Maties graag sal wil studeer en ontmoet. Benewens die belangrike beleidsvraagstukke, is ek dan ook bekwaam en ywerig om die omvattende oorsigverpligtinge van 'n raadslid deeglik na te kom.
Lees gerus my blog by pietleroux.blogspot.com vir inligting oor waar om te stem, my kandidatuur en meer besonderhede oor my rekord van betrokkenheid. In die loop van die volgende paar weke sal ek op díe blog uitbrei en reageer op navrae oor my standpunte, so laat weet gerus as jy vrae het.
Indien jy weet van ander oud-Maties wat in hierdie e-pos belang sal stel, is jy welkom om dit aan hulle te stuur.
Vriendelike groete.
Piet le Roux
Honneurs B.Comm. (Ekonomie) (2008)
2012-02-15
Student getuig oor wantoepassing van die taalbeleid
Afrikaans@Maties is onlangs in die volgende korrespondensie tussen 'n
student en 'n beampte van sy departement ge-Cc. Die korrespondensie is ook aan
die betrokke dekaan en die Rektor ge-Cc. Die identiteite van die betrokke
partye word met skuilname vervang.
Vak
|
Spreektaal
|
Bordskrif
|
Skyfies
|
Kursuswebblad
|
Handboek
|
Tuts
|
Beheerstelsels
|
Afr met tolk
|
Engels
|
Engels
|
Afr en Eng
|
Engels
|
A&E
|
Elektromagnetika
|
Afr met tolk
|
Engels
|
Engels
|
Engels
|
Engels
|
Eng
|
Elektronika 315
|
Afr met tolk
|
Afrikaans
|
A&E
|
Afr en Eng
|
Engels
|
Eng
|
Stelsels en Seine
|
Afr met tolk
|
Engels
|
Engels
|
Afr en Eng
|
Engels
|
A&E
|
Ontwerp (E) 314
|
Afr met tolk
|
n/a
|
Afr en Eng
|
Afrikaans
|
Engels
|
2012-02-14
Piet le Roux-blog
Kandidaat vir die US-raadsverkiesing Piet le Roux het onlangs sy eie blog van stapel gestuur. Besoek dit gerus vir meer inligting oor sy betrokkenheid by die bevordering van Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch.Adres: http://pietleroux.blogspot.com/
2012-02-12
Laai US-Raad met taalbulle, vra Giliomee
’n Nuwe salvo oor die posisie van Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch (US) is dié week gevuur toe oud-Maties landwyd opgeroep is om drie kandidate tot die US-raad te verkies wat die belange van Afrikaans op die kampus ten beste kan bevorder.Hulle sal by uitstek sorg dat “die keerpunt vir Afrikaans by Maties wat in sig is”, bereik word.
In ’n ope brief aan lede van die konvokasie (oudstudente) vra die historikus prof. Hermann Giliomee, voorste kampvegter vir Afrikaans op Stellenbosch, dat stemgeregtigdes hul kruisies trek langs die name van mnre. Koos Bekker, uitvoerende hoof van Naspers, Ainsley Moos, redakteur van Rapport se susterskoerant Volksblad, en Piet le Roux, stigter van Maties se Adam Tas-studentevereniging en tans senior navorser by die vakbond Solidariteit.
Die stemmery het verlede Donderdag begin en sluit op 13 Maart.
Die dienstydperk van die verkose kandidate is van 2 April tot 1 April 2016.
Agt kandidate is deur konvokasielede benoem vir die drie vakatures.
Dit het ontstaan vanweë die verstryking van die ampstermyne van Bekker en dr. Adelbert Scholtz (arbeidskonsultant en emeritus-predikant), en die bedanking uit die raad van die menseregte-aktivis dr. Rhoda Kadalie verlede jaar.
Bekker en Scholtz het hulle weer beskikbaar gestel.
Die ander kandidate is Moos en Le Roux, mnr. Omar Henry (voormalige nasionale krieketspeler en uitvoerende hoof van Boland Krieket); mnr. Le Roux van der Westhuizen (uitvoerende hoof van die Millennium Trust); dr. Prieur du Plessis (voorsitter van Plexus Batebestuur); en me. Sanet Nowers (direkteur in die Wes-Kaapse Onderwysdepartement).
Giliomee vra in sy brief stemme vir Moos, Le Roux en Bekker “omdat hulle hulle uitstekend van hul taak as raadslede sal kwyt. Benewens die voertaalkwessie vereis ander aktuele sake – transformasie, die outonomie en uitbou van die universiteit, finansiële verantwoordbaarheid, asook internasionale gehalte met Afrikaans as voertaal – kundige raadstoesig.
“Ek glo dié drie kan in al dié gevalle belangrike bydraes lewer. Dis nodig om bekwame lede te kies om hulle by ander raadslede te voeg om te verseker Afrikaans beklee sy regmatige plek aan die US – ook dat die US onder die top-universiteite in die land bly en dat sy internasionale aansien verder uitgebou word.”
Giliomee sê die stand van Afrikaans aan die US is vir alumni belangrik:
* Sedert 2006 beywer die konvokasie- en donateursverkose raadslede hulle vir ’n beleid om Afrikaansmedium-onderrig aan die US ’n vaste en volwaardige plek te gee.
“Die openbare telbord wys tot dusver is geen wesenlike vordering gemaak nie.”
* Tussen 2004 en 2011 het voorlesings in Afrikaans van 75% na 37% afgeneem.
* Dubbelmediumklasse (T-opsie), “wat in sowat 50% van klasse toegepas word, is ’n onderrigmodus wat nie deur gerespekteerde Europese of Amerikaanse universiteite gebruik word nie”.
* Die US-konvokasie het einde verlede jaar ’n mosie aanvaar waarin die US-raad gevra word “vir ’n dringende, volwaardige plek vir Afrikaans in alle fakulteite en, indien Engels ook aangebied word, dit deur tolking of parallelmedium geskied”.
* Die US-raad het ’n verslag aanvaar waarin die meer uitgebreide gebruik van gelyktydige tolkdienste aanbeveel word. “Die raadslede wat deur die konvokasie en die donateurs verkies word, kan sorg dat tolkdienste wyer ingestel word.”
Giliomee skryf voorts:
“Die stryd om Afrikaans op die Matie-kampus is lank nie verby nie. Ons glo ’n keerpunt is in sig. “Bekwame raadslede is nodig om te verseker dat Afrikaans sy regmatige plek aan die US beklee, dat die US onder die top-universiteite in die land bly en dat sy internasionale aansien verder uitgebou word.”
DEBAT OOR AFRIKAANS AS HOOFONDERRIG- EN VOERTAAL
* In die Wes-Kaap praat die meeste mense Afrikaans (56%), naas Xhosa (23,7%) en Engels (19,3%).
* Afrikaans (13%) is die derde grootste moedertaal in Suid-Afrika, naas Zoeloe (24%) en Xhosa (18%).
* Die wit en bruin Afrikaanse gemeenskap van die Wes-Kaap het ’n grondwetlike reg om ’n volwaardige Afrikaanse universiteit te hê.
* Twee van die drie universiteite in die Wes-Kaap (Universiteite van Kaapstad en Wes-Kaapland) is Engels.
* Die US is geposisioneer om in Suid-Afrika dié vooginstelling te wees vir Afrikaans se status as akademiese taal: Maties se geskiedenis is nou vervleg met Afrikaans.
* Afrikaans is ’n gevorderde, volledig ontwikkelde vak-, wetenskap- en literêre taal.
* Die Matie-kampus is in ’n gebied van oorwegend Afrikaanssprekendes geleë.
* “Die taaldebat op Matieland is nie net ’n geografies beperkte kwessie nie, dit gaan oor die voortbestaan van Afrikaans.” – Prof. Christo Viljoen, konvokasie-voorsitter
* Twaalf Afrikaanse organisasies (ledetal 500?000) wil hê Afrikaans moet ’n volwaardige plek in alle US-fakulteite kry.
* ’n Opname van die SAOU toon die behoefte aan Afrikaans as opleidingsmedium op universiteitsvlak wissel van 100% tot 77% (gemiddeld 87%).
* Die T-opsie (tweetalige lesings) “is pedagogiese onsin”. – Wyle dr. Frederik Van Zyl Slabbert
* “Op wie kan Afrikaans vertrou? Op gewone mense soos die konvokasie en sommige studente.” – Mnr. Koos Bekker, Oktober 2005
2012-02-11
Hoekom Engelssprekers na Maties stroom
Dosent (9/2) begaan die glips om te reageer op ʼn berig wat hy/sy klaarblyklik nie deurgelees het nie. Hy verwys na die berig “Meer as 60% van leerders verkies Engelse as medium van onderrig” (DB 8/2), en maak dan stellings dat studente aan die Universiteit Stellenbosch Engelse onderrig verkies. Nóg sy afleidings uit die berig, nóg sy bewerings oor studentevoorkeure vir Engelse onderrig, is korrek.Die betrokke berig oor taalvoorkeure by Suid-Afrikaanse leerlinge gee dan júís erkenning aan die uitsondering van Afrikaans. “Na raming is Afrikaans 1,1miljoen se huistaal, terwyl 1,3miljoen dit as onderrigtaal verkies.” Só gesien lyk dit selfs asof ʼn beduidende groep Afrikaans-tweedetaalsprekers Afrikaans verkies.
Dosent vertel ook dat net 5 uit 90 studente hul hande opgesteek het toe hy gevra het wie Afrikaanse onderrig verkies. Hy kon netsowel vir hulle gevra het: “Wie van julle wil hê ek moet Afrikaans praat sodat enkele eentalig Engelse persone – wat onder die T-opsie vaandel ingeskryf is – nie die klas verstaan nie? ʼn Vraag wat nog minder reaksie sou uitlok is “Wie van julle is onverdraagsaam en te dom om Engels te verstaan?”
Gelukkig is daar ook goeie navorsing beskikbaar. In 2008 het wyle prof. Lawrie Schlemmer, in ʼn omvattende ondersoek onder studente in opdrag van die US-raad, bevind dat “die beginsel van Afrikaans as leidende taal, met sterk toevoegings en/of addisionele lesings in Engels, die gewildste oplossings is wat in die opname-resultate verskyn.”
ʼn Veel beter vraag vir Dosent sou wees: “Wie van julle verkies voorgraads hoofsaaklik Afrikaanse onderrig op Stellenbosch bó hoofsaaklik Engelse onderrig by die Universiteit van Kaapstad?” Die antwoord hierop laat derduisende Engels-eerstetaal Maties al vir die laaste eeu na ʼn verwelkomende, hoofsaaklik Afrikaanse Stellenbosch stroom.
2012-02-10
Agt benoem vir drie raadsposte
Mnr. Martin Vilijoen van die universiteit se kommunikasiedepartement het in 'n verklaring gesê 'n verkiesing sal gevolglik gehou word om te bepaal wie die konvokasieverteenwoordigers in die raad sal wees vir die tydperk 2 April 2012 tot 1 April 2016.
Konvokasielede het tot 16:00 op 13 Maart om hul stemme uit te bring.
Die vakatures het onstaan na die verstryking van die ampstermyne van mnr. Koos Bekker en dr. Adelbert Scholtz, asook dr. Rhoda Kadalie se bedanking uit die raad verlede jaar.
Die konvokasie, wat ses verteenwoordigers in die universiteitsraad het, bestaan uit almal uit wat gedurende die afgelope Desember-gradeplegtighede en sertifikate en diplomas van die US en ook heeltydse, huidige en afgetrede akademiese personeel van die US.
Die kandidate vir die verkiesing is mnre. Koos Bekker, uitvoerende hoof van Naspers, Ainsley Moos, hoofredakteur en uitgewer van die Volksbladgroep, Piet le Roux, senior navorser van Solidariteit, en Omar Henry, voormalige nasionale krieketspeler en uitvoerende hoof van Boland-Atletiek, asook drs. Adelbert Scholtz, praktiserende sielkundige, arbeidskonsultant en emeritiuspredikant, Le Roux van der Westhuizen, uitvoerende hoof van die Millenium Trust, en Prieur du Plessis, voorsitter van Plexus Batebestuur, en me. Sanet Nowers, direkteur in die Wes-Kaapse onderwysdepartement.
Slegs een kandidaat, mnr. Jannie Durand, is deur die donateurs van die US aangewys om dr. Paul Cluver as hul verteenwoordiger in die raad te vervang. Hy is dus onbestrede tot die raad verkies.
Die verkiesingsproses word gemonitor deur KPMG, wat na die verkiesing 'n ouditverslag aan die kiesbeampte sal lewer.
Berig deur Ilse Krige gepubliseer in Die Burger op 10 Februarie 2012.
Raadsverkiesing 2012: Vir wie om te stem?
- Ainsley Moos (Redakteur: Volksblad)
- Piet le Roux (Solidariteit)
- Koos Bekker (Naspers)
- ʼn Regsmening het voor die US-Raad gedien dat die oordeelkundige gebruik van Afrikaansmedium nie ongrondwetlik is nie en dié mening is ook duidelik in die pers uitgespel deur Jan Heunis, ʼn huidige Konvokasie-verkose US-Raadslid en visepresident van die Konvokasie, wie se termyn eers in 2014 verstryk.
- Die US-Konvokasie het by sy vergadering in November 2011 met ʼn oorweldigende meerderheid ʼn mosie aanvaar waarin die US-Raad gevra word dat daar “dringend ʼn volwaardige plek vir Afrikaans in alle fakulteite verskaf word en indien daar desnoods ook ʼn Engelse aanbod gedoen word dit deur tolking of parallelmedium geskied.”
- Twaalf Afrikaanse organisasies met ʼn gesamentlike ledetal van meer as 500 000 ingeskrewe lede, insluitende die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, het hierdie mosie gesteun.
- ʼn Opname van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie in agt provinsies het gevind dat die behoefte aan Afrikaans as opleidingsmedium op universiteitsvlak gewissel het van 100% tot 77% met ʼn geweegde gemiddelde van 87%. Die bevinding strook met die een in die 2007 Schlemmer-opname onder voorgraadse studente aan die US. Daarvolgens was “hoofsaaklik Afrikaansmedium” die opsie wat die meeste Afrikaanse studente verkies (meer as 80%).
- In ʼn TV-onderhoud op 13 November 2011 op “Robinson Regstreeks” het die US-Rektor verklaar: “Daar is geen twyfel nie, ʼn student wat na US kom, kan in sy taal studeer.” Dit is nog onduidelik of dit beteken in die T-opsiemetode (wat wesenlik onmoniteerbaar is) of in Afrikaansmedium of by wyse van simultane tolkdienste.
- Die US-Raad het ʼn verslag aanvaar waarin die meer uitgebreide gebruik van simultane tolkdienste aanbeveel word. Die Raadslede verkies deur die Konvokasie en Donateurs kan sorg dat die wyer instel van tolkdienste en die monitering daarvan op die mees doeltreffende wyse geskied.|
- Die opvoedkundige Marie Heese (ʼn voormalige Konvokasie-verkose Raadslid), het in ʼn gesaghebbende artikel in Die Burger aangetoon dat daar eenstemmigheid onder voorste pedagoë is dat moedertaal-onderrig, ook op universiteitsvlak, die doeltreffendste is.
2011-12-09
T-opsie 'waarborg nie 50% Afrikaans'
2011-08-11
‘Afrikaans verdwyn sonder monitering’
Stellenbosch - Die toekoms van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch (US) lyk somber indien die toepassing van dubbelmedium-onderrig in klasse nie dopgehou word nie.
Só meen mnr. Ernst Marais, ’n doktorale regstudent wat namens ’n groep huidige en oud-Maties ’n mosie ingedien het waarin hulle eis dat die US-bestuur ’n volwaardige plek vir Afrikaans aan die universiteit moet verseker.
Die mosie sal Donderdagaand op die algemene jaarvergadering van die konvokasie van die US bespreek word.
Volgens Marais faal die US om dubbelmedium-onderrig, ook bekend as die T-opsie (’n minimum Afrikaanse aanbod van 50% in die klas), doeltreffend in klasse toe te pas.
’n Ongepubliseerde studie wat deur die F.W. de Klerk-stigting gedoen en deur mnr. Piet le Roux, ’n oud-Matie, saamgestel is, toon dat 36,5% van voorgraadse klasse net in Afrikaans aangebied word.
By nadere ondersoek blyk dit uit die verslag dat slegs studente van die fakulteite ekonomiese en bestuurswetenskappe, ingenieurswese en opvoedkunde ’n meerderheid A-opsie (klas net in Afrikaans) ontvang.
In die ses oorblywende fakulteite is die A-opsie in die minderheid en word die T-opsie tot in 100% van sommige fakulteite gebruik.
“Die toepassing van die T-opsie word nie gemoniteer nie en baie van die klasse is meestal – indien nie uitsluitlik nie – in Engels. Dít word meestal veroorsaak deur studente wat Afrikaans sleg of glad nie magtig is nie en dan ’n ‘vetoreg’ uitoefen en dosente versoek om meer Engels te praat. Engels word dan die dominante taal,” het Marais gesê.
Hy het vervolg dat Afrikaans as hoofonderrigtaal aan die US gaan verdwyn indien dié neiging voortgaan.
“Dit is waarom ons die US-bestuur deur middel van die mosie vra om ’n volwaardige plek vir Afrikaans te verseker en om, waar nodig, Engelse studente deur middel van tolkdienste en/of parallelmedium-onderrig te akkommodeer,” het hy bygevoeg.
Die US het gister teen laatmiddag nie gereageer op navrae oor hoe die taalbeleid tans uitgevoer word nie.
Die Afrikanerbond, ATKV en Adam Tas-studentevereniging het gister hul steun aan die mosie toegesê.
Berig deur Malani Venter gepubliseer in Die Burger op 2011-11-08
Wetsontwerp oor taal ‘is 'n dilemma vir universiteite'
Kaapstad - Taalwetgewing wat Vrydag in die parlement ter tafel gelê is, gaan nie die kopseer van Maties se jongste taaldebat help verlig nie.
Nêrens in die Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale word melding gemaak van meertaligheid in hoëronderwys-instellings nie.
Dié kwessie word ook nie hanteer in die Wysigingswetsontwerp vir Hoër Onderwys en Opleiding wat tans voor die Nasionale Raad van Provinsies dien nie.
Mnr. Cerneels Lourens van die organisasie Regslui vir Afrikaans het gesê dit is ’n groot leemte in die taalwetsontwerp.
“Dié taalwetsontwerp is ’n kind van die Grondwet en behoort uitgebrei te word om voorsiening te maak vir instellings vir hoër onderwys en die beskerming van moedertaalonderrig.”
Lourens het gesê daar is nog groot regsonsekerheid oor veeltaligheid by dié instellings.
Hy het gevra hoekom word daar nie druk op die Universiteit van Kaapstad geplaas om binne ’n oorwegend Afrikaanse gemeenskap ook Afrikaans as voertaal te gebruik nie.
“Dit lyk soos ’n politieke agenda van die regering en dalk is dit tyd vir Maties om hul eie Arab Spring vir Afrikaans te hê.”
Lourens het gesê wetgewende bepalings hieroor sal help om eenvormigheid in die bevordering van veeltaligheid in instellings vir hoër onderwys te skep.
“Die regte van minderhede, soos Afrikaanssprekendes in instellings vir hoër onderwys, behoort ook in die wetsontwerp beskerm te word.”
Die huidige taalwetsontwerp het net betrekking op nasionale departemente en hoe hulle die taalbeleid prakties moet toepas.
Mnr. Andricus van der Westhuizen, DA-LP gemoeid met onderwys, het gesê die leemte in wetgewing is deel van die dilemma vir universiteite.
“Indien meertaligheid bevorder moet word, sal die regering meer finansiële steun aan dié instellings moet gee en dit sal groter sekerheid skep wanneer dit in ’n wet geskryf staan.
“Daar sal dus meer finansiële beskerming vir die instellings wees.”
Intussen is die taaldebat weer deur ’n groep oud- en huidige Maties gestook deurdat ’n mosie teen die universiteitsbestuur ingedien is oor sy hantering van Afrikaans.
Die mosie sal Donderdag op die algemene jaarvergadering van die universiteit se konvokasie bespreek word.
Berig deur Alicestine October gepubliseer in Die Burger op 2011-11-08




